Gedig: Onthou my

emigrasie

Foto ter illustrasie. (Foto: Johannes Rapprich/Pexels)

Corné Kruger

Kinderdrukkies skaterlaggies

Trippel voetjies onder draairokkantjies
Dimpel-arm drukkies
hou my vas, hou my vas

Die groot voël kom haal jou
Vat jou ver oor die see
Sy groot blink vlerke sprei
Donker skadu’s bo-oor my

Pak my in Poppielop
Vat my saam Lolliepop
In “onthou” trek ek saam
Soos die hasie op die maan

Jou skeefkrom reënboogprentjie
Is al wat agterbly
Verkreukel op my yskas
Hou my vas, hou my vas

Draai-draai saam met my
Vir oulaas voor jy gaan
Sing rol op die tolletjie
En klap jou handjies saam
Nog ʼn soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan

Pak my in Poppielop
Vat my saam Lolliepop

Onthou my….
Soos die hasie op die maan

Dr. Sulette Ferreira is ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in private praktyk in Suid-Afrika en spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Sy skryf:

Hierdie is ʼn gedig vir elke ouer en grootouer met ʼn kind en kleinkind in die buiteland. In my navorsing en terapie het ek die voorreg om baie mense te ontmoet en om vir ʼn kort rukkie in hulle lewensreise te deel. Dit gee my ʼn kykie in hulle leefwêreld: dikwels deur wawyd-oop harte en soms net deur ʼn skrefie-oop venster. Party keer is dit die emigrant self, soms die ouers en soms van die broers en susters. Maar hierdie keer was anders, dit was die grootouer.
“My twee kleinkinders vertrek in September permanent Australië toe. Dis soms so moeilik om jou emosies te verwoord en dit is hoekom ek die gedig geskryf het.”

Ek ontvang hierdie gedig en vir ʼn oomblik het dit gevoel of my wêreld stil staan. Hierdie gedig bevestig wat my navorsing bevind. Dit sê presies wat grootouers emosioneel ervaar en tog so moeilik verwoord.

Corné het toestemming verleen om die kosbare gedig te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.