Gedig: Peperboom

(Foto: Liz Upton, Commons.wikimedia.org)

Maretha Maartens

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”
Die lem vibreer deur bas en duramen
en jy, suurstofsoekend voor die venster,
kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

Ma, jy was tog lewenslank lembestand
onknakbaar sterk en doodweerstandig
– ons lowerryke peperboom
huisboom, groen baken van ons binneland.

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi
en die bessies wat jy strooi soos die sysies
streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.
Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid
wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”
Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak
– ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –

moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,
maar die takke uit jou stam sal jou peperbessies dra.”

    • Maretha het in Augustus 2020 die Afrikaanse afdeling van die derde Avbob-digkompetisie gewen. Sy is ‘n skrywer van Bloemfontein en het al verskeie toekennings vir haar werk ingepalm het. Sy skryf sedert die ouderdom van 13 toe sy ʼn Olivetti-tikmasjien by haar pa present gekry het. Maretha het vir die kompetisie ingeskryf omdat dit vir haar soos ʼn welkome tuiste vir digters voel. Haar wengedig is geïnspireer deur ʼn onuitwisbare oomblik tydens haar ma se laaste winter op aarde – die bewustheid van die naderende dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elsabe

Uitstekend!