Cas Vos (Geb. 1945) het dié gedig geskryf ter herdenking van die digter Sheila Cussons wat vanjaar ʼn 100 jaar oud sou word.
Van kindsbeen af het sy verse gemaak
wat die reisiger op sy pad beskadu
en teen son- en maanplae bewaak
dat hy nie die pad byster raak nie.
Liefde het veerlig oor haar gestreel
en sy het die soet versugting gesmaak
van liefde wat met die sagte hart speel
en in die skadu van die niet wegraak.
Al is sy in haar swart kombuis vermink,
het haar verse soos hande gewink
om in mistiek en misterie rus te vind
deur mense aan die Ewige te verbind.
Haar verse genees ʼn mens se wond,
versprei lig en is heuning in die mond.
Haar kruisdrapyn is ook U, Alhoë, sʼn
wat haar vergun om U vurig te bemin.
- Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red