Die Gedigte in McGregor-fees, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, vind van 26 tot 28 Augustus op dié Wes-Kaapse dorpie plaas.
Liefhebbers van digkuns kry die geleentheid om verskeie geleenthede in die geselskap van onder andere Daniel Hugo, Margot Luyt, Koos van der Merwe, Diana Ferrus en Lara Kirsten in die Afrikaanse kategorie by te woon.
Engelse digters sluit in James Matthews, Patricia Schonstein, Kobus Moolman, Khadija Tracey Heeger, Harry Owen, Elisa Galgut en Vangile Gantsho.
Lené Kruger, mediabestuurder vir Gedigte in McGregor, sê dié fees bied iets vir elkeen. “Louise Westerhout, die wenner van verlede jaar se gedigtekompetisie, is ook vanjaar op die verhoog. Daar is ook digters soos Margaret Clough en Stephanie Saunders wat jou eindeloos sal vermaak met hul fyn humor. Groepe wat gaan optree is onder meer die UWC Poets, Lingua Franca, Spoken Word Movement en Mothertongue.”
Kruger meen ook McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. “Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ’n unieke ervaring. Die optredes sal plaasvind in die tuine van Temenos, ’n lieflike agtertuin-amfiteater, die Wahnfried-teater, die Edna Fourie-galery, The Green Room en The Lion House.”
Die Voices on Fire-kroegprogram, waar digters spontane voorlesings doen, vind vanjaar in Carol’s Pub plaas.
Daar is ook ’n aanbieding van die gewilde oopmikrofoonsessies wat gelei word deur Hugh Hodge.
“Enigiemand wat graag sy of haar gedigte wil voordra is welkom. Die wat dit wil meemaak, kry ’n nommer en wanneer die nommer gelees word sal hulle ’n kans kry om hul gedig te deel. As daar tyd is, kan dieselfde persoon ook meer as een gedig voordra. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir dié sessies nie,” het sy bygevoeg.
Jy staan ook die kans om R7 500 met jou digkuns te wen! Skryf een van jou gedigte in deur ʼn e-pos te stuur na [email protected]. Gedigte kan in Afrikaans, Engels of isiXhosa wees. Digters ouer as 19 jaar en wat nog nie gepubliseer het nie kan deelneem. Gedigte moet tussen 12 en 40 lyne lank wees. Inskrywings sluit 22 Julie. Vir meer inligting, besoek Gedigte in McGregor se webwerf.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket vanaf middel-Julie.