Luister: Bekende stemme bied troos met gedigte

Hartroerende verse oor die dood, rou, afskeid, verganklikheid en menswees. Dit is die soort gedigte wat jy in Die lewe is ʼn asem lank, saamgestel deur Frieda van den Heever, sal raaklees.

Frieda, stemkunstenaar, liedjieskrywer en sanger, meen dat ʼn bundel soos Die lewe is ʼn asem lank troos bied waar woorde ontbreek. Dit is ʼn manier om iets op iemand se voorstoep te gaan sit sonder om te probeer om na die regte woorde te gryp.

“Die bundel is iets wat jy saam met die kospakkies en versorging as geskenk vir iemand gee. Dit bied dikwels baie groter troos vir mense om gedigte te lees wat uit die monde en hande van skrywers kom wat weet hoe dit voel om verlies te moet verwerk,” het sy vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Die lewe is ʼn asem lank bevat ʼn versameling van 100 gedigte oor verlies en vertroosting deur van Afrikaans se bekendste digters.

Dit sluit gedigte deur onder andere NP van wyk Louw, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons, Ingrid Jonker, Petra Müller, Breyten Breytenbach, George Weideman, Antjie Krog, Danie Marais, Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Pieter Odendaal en Jolyn Philips in.

NB-Uitgewers, uit wie se stal dié bundel vroeër vanjaar verskyn het, het onlangs vir ses talentvolle akteurs gevra om ʼn paar van die gedigte wat in hierdie bundel opgeneem is, voor te lees. Dit is René Cloete, Robert Hindley, Melissa Myburgh, Alberto Smit, Jeani Heyns en Adriaan Havenga. Klara van Rooyen het die podsending vervaardig.

Die uitgewer het goedgunstiglik hierdie spesiale podsending aan Maroela Media beskikbaar gestel. Luister boaan hierdie artikel na die gedigte, sowel as ʼn nota van Frieda oor die bundel se samestelling.

Lees ook hierdie gedig wat in Die lewe is ʼn asem lank verskyn. Die gedig, getiteld “Ter aarde”, is deur Eunice Basson geskryf: 

Vandag gee ek jou terug,
gooi ek jou toe onder die kwarts
en klonterige geel turf
waar sonbesies in die sipresse gil
en ek met my sakdoek en hofskoene
al dieper in die nat kweek sink.
Jou familie begrawe ʼn broer, ʼn seun,
jou ma verslae om ʼn kind af te gee.

Hulle noem jou gesinsman,
eggenoot en pilaar, maar net ek
ken jou hand se agterkant,
jou lomp gewig en berekende swye
wat tot diep in die donker
in sissende monoloë kon ontaard;
die nagte se wag –
tot jy ná die negentiende putjie
suurgedrink
langs my kom lê.

Maar vanaand
sal ek in die stil huis ʼn warm bad tap,
die bed oortrek met lakens uit die trousseaukis
en die klerekas waarin jou reuk nog hang
op knip sit, my liggaam spieël
en in die blompatrone van die staalplafon
jou oë van toentertyd onthou.

Frieda van den Heever (Foto: nb.co.za)

Terloops: ek gaan die wildplaas ook verkoop –
die jagseisoen is nou verby.

  • Luister boaan na voorlesings van gedigte uit Die lewe is ʼn asem lank.
  • Die lewe is ʼn asem lank kos R330 (prys onderworpe aan verandering). Besoek NB-Uitgewers se webwerf vir ʼn lys boekverskaffers waar jy dié bundel kan bestel of aanskaf.
  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.