Uitdrukking:
Op die swart lys/swartlys wees
Betekenis:
Onder verdenking staan; as ongewens beskou word of opgeteken staan
Waar kom dit vandaan?
Swart boeke bestaan reeds sedert die Middeleeue. Ook in koning Hendrik VIII (1491 – 1547) van Engeland se tyd het hy ‘n swart boek gebruik om korrupsie van die kloosters daarin aan te teken en dit as getuienis gebruik om hulle te sluit.
Handelaars van dié tyd het ook begin rekord hou van slegte betalers en mense wat bankrot speel se name is in so ‘n boek aangeteken.
Selfs die universiteite het nie agter gebly nie: as iemand se naam weens wangedrag in die universiteite van Cambridge of Oxford verskyn het, kon so iemand nie ‘n graad behaal nie.
Dieselfde het ook in die regimente in die Britse leër gegeld – ‘n swartboeksoldaat kon nie bevorder word nie. Die boek is só genoem vanweë sy swart omslag.