Internasionale Moedertaaldag: Is daar iets om te vier?

afrikaans_Die belang van moedertaalonderrig, die leef in jou moedertaal, die kommunikeer in jou moedertaal is al oor en oor beklemtoon. Dis die taal wat met moedersmelk ingegee word.

Basil Kivedo, oudlid van Umkonto we Sizwe, beskryf sy Afrikaans-wees soos volg: “Ek het as baba Afrikaans uit my moeder se bors gesuig en hierna fisiek, psigies, spiritueel, polities op die akker van Afrikaans ontwikkel. Afrikaans het my totale bestaan en lewe gedefinieer, gedomineer en bepaal.” En verder sê hy: “… Afrikaans was reeds van … vroeë ouderdom my lantern in die donker. ʼn Pragtige tapisserie van woorde, klanke, idiome, metafore en uitdrukkings.” (2016:477) ʼn Suiwerder definisie van moedertaal kan ʼn mens nie kry nie.

Is daar vandag op Moedertaaldag iets om te vier?

Ja, seker, daar is gebeurtenisse wat vreugde verskaf:

  • Een van die groot feestelikhede vanjaar is die bekendstelling op 3 Augustus van die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Dit is ʼn baken op die pad van 100 jaar sedert die eerste uitgawe van die AWS verskyn het. Die AWS standaardiseer die Afrikaanse taal sonder die uitsluiting van al die ander variante van Afrikaans wat in die land bestaan.
  • Vandag (21.02.2017) stel die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, wat vanjaar sy vyftiende bestaansjaar vier, die vertaling in Afrikaans van die Landdroshofreëls bekend. Dit was voorheen slegs in Engels beskikbaar.
  • Die verskyning van Carstens en Le Cordeur se boek onder die titel Dit kom van ver bevestig weer eens hoe ver die “eiendomsreg” van Afrikaans as moedertaal vir baie mense strek.
  • Sover bekend het ʼn rekordgetal van 500 eerstejaarstudente by Solidariteit se universitêre instelling Akademia ingeskryf met die oog op studie in hulle moedertaal Afrikaans.
  • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vir 2017 byna R3 miljoen se beurse uitgedeel aan nagraadse studente in ʼn verskeidenheid dissiplines wat hulle proefskrifte of verhandelings in hulle moedertaal, Afrikaans, gaan skryf.

Die skadukant is daar. Prakties gesproke het die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat vanjaar hulle deure as Engelstalige universiteite geopen. Die Universiteit Stellenbosch se nuwe toelatingsbeleid vir 2018 vee Afrikaans onder die mat in asof Afrikaans as tradisionele onderrig- en navorsingstaal nie eens bestaan nie.

ʼn Argument wat by die Universiteit van die Vrystaat aangevoer word, is dat ʼn eentaalbeleid sosiale saamhorigheid sal bewerkstellig en rassediskriminasie sal uitskakel. Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die nuwe beleid nie net Afrikaans ondergrawe nie, maar ook die ander landstale se potensiaal en kans om as onderrig- en navorsingstaal te ontwikkel, onderdruk.

Is Afrikaanstaliges se pleidooi vir die handhawing van Afrikaans en moedertaalonderrig in internasionale perspektief ʼn eng, egoïstiese en bekrompe gebaar? Of is tweedetaalburgerskap dan nie maar ʼn gerieflike opsie vir almal nie? Almal kan dan tweederangse Engels besig en slegs ʼn handjievol huistaalsprekers van Engels in Suid-Afrika (is daar meer as 2 miljoen?) sal daarby baat.

Dis interessant om te verneem hoe die Nederlanders deesdae oor die verengelsing van hulle tersiêre sektor ten koste van hulle moedertaal dink. Met uitsondering van Ierland en Groot-Brittanje self is Nederland binne die Europese Unie die land waar Engels die meeste binne die tersiêre sektor gebruik word. Nou ontstaan daar skielik besorgdheid oor die ontwikkeling van die eie taal. Elke wetenskaplike dissipline het sy eie begrippe met eiesoortige vakterme. As daar binne ʼn bepaalde vakdomein besluit word om slegs in Engels daarin te beweeg, te kommunikeer en te publiseer, is daar weinig rede om nuwe insigte en ontdekkings ook in Nederlandse terme te bedink. So kom ʼn groep Nederlandse akademici tot die ontdekking dat hulle taal nie meer met nuwe terminologie verryk word nie. Om die waarheid te sê, dit lei tot die verarming van die taal.

As die Nederlanders met 22 miljoen Nederlandssprekers in die wêreld bekommerd is, dan is Afrikaans-moedertaalsprekers in ʼn ernstiger verknorsing; veral geld dit natuurlik vir Afrikaans op tersiêre vlak. As die Universiteit van die Vrystaat sy taalplan konsekwent deurvoer, mag selfs proefskrifte en verhandelings, behalwe dan vir die vak Afrikaans, nie meer in Afrikaans geskryf word nie. Die uitkringende effek hiervan is vanselfsprekend. Sprekers van ander moedertale in Suid-Afrika sal in die omstandighede geen kans hê om hulself op hoër vlakke te handhaaf nie.

Daar is tog ligpunte vir Afrikaans as moedertaal. Ek het hulle hierbo vermeld. So lank as wat mense hulle moedertaal bly praat en sing en lees, sal die moedertaal bly voortbestaan. Afrikaans sal groei en bloei om die braaivleisvuur, in die kerk en kroeg en kombuis. Alte graag word Afrikaans nog gestigmatiseer as taal van die onderdrukker – die politiek misbruik die nosie, sekere groepe studente en hulle meelopers gebruik dit graag as motief om te verniel en te vandaliseer en om eie ontoereikendheid te verberg.

ʼn Eeu gelede het die eerste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) verskyn. Sal vanjaar se uitgawe die laaste een wees? Ja, dalk die laaste papieruitgawe – die digitale eeu sal naamlik volledig oorneem. Sal Afrikaans as moedertaal van byna 7 miljoen sprekers stagneer? Kultuurorganisasies, akademici, die man in die straat mag dit nie toelaat nie. In die woorde van prof. Christo van Rensburg wat die samesteller is van die geskiedenis van die AWS: “Die werk … gaan aan, nuwe doelwitte moet bereik word, nog belangriker AWS’e kan gemaak word …” Daar is “… steeds nuwe vergesigte om na te streef”. Dit raak ook Afrikaans as moedertaal van byna 7 miljoen Suid-Afrikaners.

  • Prof. Jacques van der Elst was die voormalige hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, PU vir CHO (tans NWU).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Breytie ·

Jou moedertaal is deel van jou wese, van elke gedagte wat jy vorm, deel van hoe jy die wêreld rondom jou in jou binneste vorm gee. Maar hier is ‘n tragedie van monumentale omvang besig om stadig maar seker te groei en reeds meer en meer geweld tot gevolg het. Daardie tragedie word veroorsaak deur ons regering se volgehoue weiering om moedertaalonderrig te bevorder en Engels te wil gebruik om mense te dwing om mekaar te omhels. As jy nie ‘n taal het waarin jy jou diepste belewenis kan verwoord nie, dan vereensaam jy. As jy van kleins af gedwing word om via ‘n vreemde taal onderrig te word, ontstaan taalverwarring en ‘n onvermoë om daardie diepste belewenis woorde te gee.

Francois ·

Ek dink nie daar is veel hoop dat Afrikaans sal voortbestaan in kerke nie. Ons kerk verengels teen ‘n stink spoed, en deesdae sing ons net Engelse liedjies tydens eredienste. (Selfs al is amper die hele gemeente Afrikaanssprekend. )

Dit verskil seker van kerk tot kerk, maar die charismatiese kerke in die Kaap verengels selfs vinniger as die universiteite.

Die ander kwessie is die Bybel self – al hoe meer mense gebruik deesdae elektroniese Bybels op hul selfone – en die is gewoonlik Engels. Dis nog net ‘n handjievol van die ouer mense in ons gemeente wat nog gedrukte Afrikaanse Bybels saambring.

Hendrik ·

Wel die gemeentelede laat dit toe dat die kerk verengels. Julle kan mos nee se.

John ·

Die FAK gee nie eintlik erkenning aan die verskillende dialekte was deur die onderskeie rasse/bevolkingsgroepe in SA gebesig word nie, maar val eerder oor hul voete om ander groepe te omarm asof daardie mense Afrikaans se voortbestaan gaan verseker. Ons Afrikaanse kerke word welsynsorganisasies wat hul taal soos toebroodjies uitdeel solank dominee nog op die kansel kan pryk. Engelse NG-kerke pryk orals al is die dominee eintlik Afrikaans. Ons Afrikaners word getakseer en ons vrese word uitgebuit. Wit Afrikaanssprendes is ‘n bedreigde spesie. Hoor wat se iemand in ‘n advertensie : Ons is Afrikaans, maar eintlik is ons nie… Afrikaans wis nie ras uit nie, of is dit die plan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.