Moedertaaldag: Dink, droom en leef Afrikaans

taaldag afrikaans

Argieffoto.

Deur Marianne Breytenbach

Later vandeesmaand op Dinsdag 21 Februarie is dit Internasionale Moedertaaldag. Hierdie dag het ten doel om erkenning te gee aan die wêreld se tale (waarvan daar omtrent 6 500 is) asook om hulde te bring aan die eie moedertaal – in ons geval Afrikaans.

Dit wil met ʼn eerste oogopslag voorkom of Afrikaans tans ʼn bloeitydperk beleef. Pretoria FM – verreweg een van die grootste gemeenskapsradiostasie in die land – hoop, glo en leef in Afrikaans. Vertonings soos Afrikaans is Groot lok duisende toeskouers. In tuisnywerhede, snuffelwinkels en by buitelugmarkte is produkte in Afrikaans beskikbaar. Dit het mode geword om koffiebekers en skinkborde te koop waarop Afrikaanse slagspreuke staan soos “Gaan groot of gaan huis toe”. Studente dra T-hemde met die woorde “Praat Afrikaans of hou jou bek”. Daar is in die meeste toonaangewende materiaalwinkels materiaal vir gordyne en beddegoed en klere waarop eg Afrikaanse woorde gedruk is wat ook iets van ons kultuur weerspieël – woorde soos “pypkan”, “boeretroos” en “Afrikaners is plesierig”.

Die Afrikaanse filmbedryf beleef ʼn hoogtepunt met die vervaardiging van die meeste Afrikaanse flieks ooit die afgelope jare. Hieronder tel films van goeie gehalte soos Modder en bloed, Dis ek, Anna, Die wonderwerker en Treurgrond.

Tog het Afrikaans op ander baie belangrike gebiede in die woorde van NP van Wyk Louw “tussen die engtes” beland. Ná die ANC se bewindsoorname in 1994 het Engels die de facto- amptelike landstaal geword. Afrikaans is doelbewus op verskeie lewensterreine uitgeskuif – in die staatsdiens, die regstelsel en op universiteitsvlak.

In 1990 kon ʼn Afrikanerjongmens kies tussen vyf uitnemende residensiële Afrikaanse universiteite met Afrikaanse koshuise. Tans is Afrikaans by die enkele universiteite wat wel nog sekere klasse in Afrikaans aanbied, voortdurend in die spervuur. Afrikaanse skole het in so ʼn mate verengels dat getalle gekrimp het van meer as 1 200 Afrikaanse skole voor 1994 na minder as 600 Afrikaanse skole landwyd. Voorts word Afrikaanse skole gedwing om Engelssprekende leerders in te neem, selfs al is daar voldoende plek in nabygeleë Engelse skole.

Dis kommerwekkend en noop ons om op hierdie terreine nog meer vir Afrikaans te doen as wat wel gedoen word – veral in die lig daarvan dat die wenslikheid van moedertaalonderrig nie meer gedebatteer word nie. Dit word as voldonge feit aanvaar.

Dr. Pierre Edwards, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, wys daarop dat die beste onderwysstelsels sterk voorstanders van moedertaalonderrig is. Finland word beskou as een van die wêreld se beste onderwysstelsels. Inwoners van Finland praat Fins of Sweeds en leerders van albei tale kan akademiese moedertaal-onderrig vanaf die eerste skooljaar tot op universiteitsvlak kry. Nóg Fins nóg Sweeds is wêreldtale, maar dit verhoed nie dat studente tot op tersiêre vlak daarin onderrig word en daarna ʼn regmatige plek in die samelewing inneem nie.

Droom, dink en leef in Afrikaans. Deur dit te doen, aanvaar ons verantwoordelikheid vir Afrikaans. Afrikaans is immers deel van ons DNS. Daarom is Afrikaans vir ons veel meer as net nog ʼn taal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Francois ·

Dis alles baie waar. Ek wens net Afrikaanse mense sal self wakker skrik en dit besef. Ek sien amper elke dag Afrikaanse mense wat sommer met mekaar Engels praat, al is hulle altwee Afrikaans!

Niemand anders gaan ons taal red nie, dit is ons eie verantwoordelikheid om dit te praat en te gebruik waar ons kan. Ons mense se gesindheid sal moet verander as ons ons taal wil behou.

John ·

Wees ‘n Afrika’ner’ en doen Afrikaans want daarsonder gaan Afrikaans in rommelstatus verval of nog erger kort voor lank oppop in Nederland, Flaandere of Pole as ‘n ‘unieke’ gebeurtenis nadat iemand dit skielik via ou Afrikaanse boeke, ‘self’ ontwikkel en uitgedink het. Mense steel nie net geld nie, kultuur en taal ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.