ʼn Pyn in die oog (!!!!!)

Argieffoto

Gereelde VivA-gebruiker Elridus Grobler vra: Hoe werk beklemtoning in tekste? Mag ʼn mens twee uitroeptekens gebruik? En wat van ʼn vraagteken en ʼn uitroepteken? Of is dit ʼn geval van “te veel van ʼn goeie ding is eintlik te veel”?

Dis ʼn baie geldige vraag, veral vir fiksieskrywers. Die meeste skrywers skryf ouditief (dit beteken hulle skryf soos wat hulle dinge in hulle koppe hoor – skryf grens mos vir die meeste skrywers aan waansin), wat daartoe kan lei dat die teks swaar dra aan klem. Veral in tonele wat emotief gelaai is en waarin karakters met swaarwigtige vraagstukke worstel, kan ʼn mens maklik vasval in ʼn moeras van klemme en uitroeptekens wat in die hitte van die skryfstryd baie sin gemaak het, maar wat by nabetragting dalk nie nodig is nie. Gelukkig het die meeste uitgewers ervare teksredakteurs wat skrywers teen hulle eie waansin beskerm, maar ons gewone sterflinge wat sommer net vinnig tekste vir die werk of die kerk of die kinders of die skool moet pleeg, het nie hekwagters wat ons kan help nie. Hoe nou gemaak?

Voor ons by die sonde van oordaad kom, kom ons kyk net eers wat tot ʼn mens se beskikking is om klem in tekste aan te dui.

  1. Die verstekklemteken is die akuutaksent. (Die gravis dui ook klem aan, maar het in Afrikaans deel van die spelling van ʼn woord geword en is derhalwe ʼn skryfteken.) Die reëls vir die korrekte aanwending van die akuutaksent word in hoofstuk 4 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls Die belangrikste beginsels wat ʼn mens uit hierdie hoofstuk kry, is dat die akuut op vokale en diftonge geplaas word, en dat dit nie ʼn ander teken wat reeds op die letter staan, verdring nie. In die praktyk beteken dit jy gaan die akuut op al twee die vokaalletters plaas as die twee letters een spraakklank voorstel (“géén”) en jy gaan nie ʼn akuut op ‘n letter met ʼn diakritiese teken (soos “skêr”) plaas nie. By “dié” kry net die e die aksent, want die kolletjie op die i word nie verdring nie. Jy mag wel die aksent op ʼn i plaas indien dit die enigste vokaalletter in die lettergreep is (“dít”). Een laaste ding oor die voorskrifte: By die woorde “dié” (wat aanwysend optree, bv. “Dit is dié man van wie ek gepraat het”) en “ná” (wat beteken “nadat”, bv. “Ons gaan ná skool rugby oefen”) is die gebruik van die akuut verpligtend.Die AWS gee nie leiding oor hoeveel keer jy die akuutteken in ʼn teks mag gebruik nie. Dis gewoon omdat die AWS nie leiding gee oor skryfwerk nie, die bron gee leiding oor spelling en skryfwyse.
  1. Nog ʼn manier om klem aan te toon, is deur leestekens. Die voor die hand liggende leesteken vir klem, is die uitroepteken, wat ʼn mens tradisioneel aan die einde van uitroepsinne plaas. In hoofstuk 13 van die AWS word daar reëls gegee vir die gebruik van die uitroepteken, en een van die nuttige gebruike wat hier aanvaarbaar gemaak word, is die plasing van die uitroepteken tussen hakies om ironie, sarkasme of ander affek aan te dui. Dit lyk so: “Hy het ons met sy sprankelende (!) humor vermaak.” Jy kan ook ʼn woord of ʼn frase tussen hakies plaas en met ʼn uitroepteken afsluit: “Hy wil graag verskoning maak (regtig!) vir sy gedrag.” Aan die einde van die hoofstuk (AWS 13.84) word daar gesê dat dit taalkundig aanvaarbaar is om ʼn uitroepteken ná ʼn vraagteken (“Wat maak jy nou?!”) te plaas. (Dit is met ander woorde aanvaarbare gebruik in formele standaardtaaltekste.) ʼn Opmerking by hierdie reël dui ook aan dat ʼn mens meer as een vraag- en uitroepteken mag gebruik (“Regtig??!!”), maar daar word pertinent gesê dat die gebruiker teen die “oormatige gebruik van opeenvolgende leestekens” in formele tekste moet waak.Leestekens soos die aandagstreep wat by parenteses gebruik word (“Ek het jou al gewaarsku – en ek gaan dit nie weer doen nie – om jou mond te hou!”) is ook ʼn manier om bepaalde teksgedeeltes vir die leser uit te sonder.
  1. ʼn Derde manier om klem aan te dui, is met formatering. Hier moet jy met die uitgewer of die redakteur van ʼn publikasie oorleg pleeg, want baie publikasies het huisreëls vir die aanwending van vetdruk en kursief. Dit is nietemin heeltemal korrek om deur middel van die lettertipe aandag op ʼn bepaalde stuk teks te vestig: “Die datum is 12 April 2018” of “Die datum is 12 April 2018” of “Die datum is 12 April 2018” of “Die datum is 12 April 2018!”.
  1. Dit is ook moontlik om met die konstruksie van taal en die teks self klem te skep. Die manier waarop ʼn mens sinne en paragrawe organiseer, kan ʼn leser lei om bepaalde inligting as belangrik te beskou, byvoorbeeld: “ʼn Spesiale toekenningsgeleentheid word op 12 April 2018 gehou” teenoor “Op 12 April 2018 word ʼn spesiale toekenningsgeleentheid gehou”. In gedronge skryfwerk soos poësie is die plasing van woorde in die reël, of alleen op ʼn reël, veelseggend. Die trant is ook ʼn instrument tot die skrywer se beskikking – dikwels is ʼn gestroopte verteltrant ʼn baie doeltreffende manier om swaar emosionele onderwerpe te hanteer.

Met al bogenoemde in gedagte, is dit belangrik om te onthou dat dit ʼn outeur van ʼn teks (enige teks, hetsy akademies, fiksie, advertensie, lighartig of donker) se werk is om ʼn leser so doeltreffend moontlik deur ʼn teks te lei. Die oogmerk is nooit om slim te lyk of om met ʼn mens se taalbeheersing af te wys nie, die oogmerk is om die leser op ʼn nuwe intellektuele, emosionele of filosofiese plek te kry, of om die leser se ingesteldheid teenoor ʼn saak of die lewe self te verander. Taal bly altyd in diens van die boodskap, nie andersom nie.

Klem is ʼn baie doeltreffende manier om die leser se verhoogde emosionele betrokkenheid by ʼn bepaalde teksgedeelte af te dwing. Dit beteken dat die outeur die leser dwing om met nuwe, helder, verhelderde bewustheid waar te neem, om harder te hoor en beter te kyk. Dit verg meer van die leser en put meer uit as gewone lees. As dit omsigtig gebruik word, kan dit baie doeltreffend wees, maar die óórbenutting van klem kan die leser vermóéi en uiteindelik vervréém!!! Hoewel die vorige sin ingevolge taalreëls heeltemal korrek is, gaan die meeste lesers instinktief aanvoel hoe die spreker/verteller op hulle begin skree. Die vraag is altyd hoeveel iemand bereid gaan wees om op geskree te word voor hulle die teks eenkant toe gaan gooi en eerder tandarts toe gaan.

Die goue beginsel hier, is (soos met enige skryfwerk): Vorm volg funksie. Die feit dat ʼn mens verskeie beklemtoningsmeganismes tot jou beskikking het, en dat die AWS boonop sê hulle mag saam of by herhaling gebruik word, beteken nie dis doeltreffend om almal gelyktydig aan te wend nie. Dis bietjie soos vuurwerke by ʼn popkonsert of ʼn kanonsaluut by ʼn staatsbegrafnis: Een salvo op die regte oomblik is genoeg. Enigiets meer as dit is ʼn aanloop tot hooikoors of oorpyn. Of, in die geval van klemoordaad, ʼn pyn in die oog.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

R van Zyl ·

En waar op heden aarde kom Maroela skielik aan die beklemtoonde ná vir alles wat nie beklemtoon behoort te wees nie?!?!…

Sophia Kapp ·

Hierdie antwoord is vir R van Zyl:
Dis reël 4.1 in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (en dis al baie lank ‘n reël):
“Die akuutteken word in bepaalde sinskontekste gebruik om betekenisonderskeid en woordsoortverskil by andersins identiese woorde aan te dui.
dié teenoor die (Ek kan dié/die man nie verstaan nie)
ná teenoor na (Die polisie het ‘n intensiewe ondersoek gedoen ná/na die voorval)”
Sonder die akuut kry die sin ‘n ander betekenis.

Nico K ·

As mens skryf sukkel jy om emosie uit te druk. Ek skryf nou die dag vir iemand ‘n boodskap en hy vra hoekom is ek so kwaai. Ek sê toe ek was nie kwaai nie. Hoe kan hy my stemtoon hoor en dink ek was kwaai. So skrywers benodig leestekens. En as ‘n skrywer twee uitroeptekens gebruik om aan te dui iemand skree, het ek nie ‘n probleem daar mee nie.

Taalgogga ·

Op skool het beide my Afrikaanse, en Engelse onderwyser, gesê leestekens word gebruik vir duidelikheid, duidelikheid, duidelikheid! Die engelse onderwyser het altyd gesê dat as die lewe swart en wit was kon jy in ‘n monotoon skryf en praat. Jou skrywe en sprake moet mekaar komplimenteer. Selfs die skep van nuwe, vreemde of opwindende woorde was aangemoedig. Die Taal is dinamies en vrolik. Ons praat hom so, skryf hom so. Jule moet ‘n fantabilooslike lekkerrr dag hê!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.