Noem my Afrikaner, Afrikaanse, Nama

Vlnr: Geskiedkundige foto van drie Nama leiersKaptein John Cornelius Witbooi (Suid-Afrika), Nichodimas Cooper (Botswana), Salomon Boois (Namibië). Geneem tydens die 2018 Namafees in Lokgwabe, Botswana. (Foto: Verskaf)

Om ʼn Afrikaanssprekende Afrikaner genoem te word, moet jy aan ʼn paar vereistes voldoen. Hoewel die definisie van hierdie groepering nie in almal se boekies dieselfde is nie, is daar waarskynlik min mense wat die Namas van Suid-Afrika daarby sal insluit. Tog skryf Koos Marais in sy boek oor die Namas dat dié groep hulself Afrikaners genoem het voordat enige wit mense dit ooit gedoen het.

“Die Namas is die laaste oorblywende afstammelinge van die Khoi-Khoin. Die 16 jaar oue Hendrik Biebouw, met gemengde Khoi-Khoin en Hollandse bloed, was die eerste om homself ʼn Afrikaner te noem toe hy in 1710 voor die landdros gebring is vir dronkenskap. Hy het vir die edelagbare gesê: ‘Jy het geen seggenskap oor my nie, want ek is ʼn Afrikaner!’ Dit is die eerste gedokumenteerde gebruik van die term Afrikaner,” verduidelik hy.

Die begin van die Nama-verhaal

Marais is ʼn tandarts van beroep, maar ook ʼn navorser en skrywer. Terwyl hy navorsing vir ʼn boek gedoen het, het sy pad met die Namas gekruis.

“Ek het in 2007 ʼn storie gehoor oor Ernst Luchtenstein wat as jong seun in Lüderitz, Namibië, aangekom het, iewers in 1906. Ernst het vele avonture beleef en was uiteindelik een van die heel rykste mense in Namibië. Sy susterskind, wyle oom Dicky Strauss, het my vertel hoedat sy oom net ná hul aankoms in die land deur ʼn groep Namas oorval is, maar baie beleefd behandel is en geen kwaad aangedoen is nie,” vertel hy.

Marais het in ʼn dokument in Swakopmund se museum op dokumentêre bewys van hierdie voorval afgekom. Volgens dié dokument het Ernst se ma, Therese, op haar knieë voor die Nama-vegters neergeval en om genade gesmeek. Die leier van die Namas het haar aan die hand geneem en laat opstaan en vir haar gesê: “Mevrou, kniel voor God alleen, nie voor ʼn mens nie. Ons Namas maak oorlog teen soldate, nie teen vrouens en kinders nie.”

Hierdie voorval het Marais ontroer, tot vandag toe, en so het hy die Nama-oorlog van 1904-1908, of 1903-1922 na gelang van hoe jy die saak beskou, begin navors. Hy het reeds ʼn boek oor die Namas uitgegee, maar sit sy navorsing oor die etniese groep voort.

Die Nama-volk is een van Suid-Afrika se kleinste minderhede, maar tog uiters belangrik omdat hulle as die land se Eerste Mense beskou kan word, sê hy. Die Namas is die laaste oorblywende afstammelinge van die Khoi-Khoin wat groot dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap beset het voordat die Hollandse koloniste in Tafelbaai in 1652 aangekom het om die demografiese landskap vir ewig te verander.

“Die oorspronklike Namas was baie slim mense. Hulle het vinnig aangepas en die wit mense se taal, kultuur en godsdiens aangeneem, maar tog sekere van hul unieke kulturele skatte soos die danse en die Nama-taal behou. Hulle was nog altyd deel van Afrika,” sê Marais.

Die Nama-kultuur sentreer rondom hul unieke taal, hul kleredrag, hul geskiedenis, die matjieshuise en musiek en dans, soos die Nama-stap en die bekende jaarlikse Rieldanskompetisie.

Vandag is die Namas beperk tot Suid-Afrika, Namibië en Botswana. Marais raai Namibië het sowat 400 000 en Botswana ʼn klein groepie van minder as 10 000. In Suid-Afrika is daar enigiets tussen 100 000 en 2 miljoen, na gelang van hoe jy na hulle kyk. Baie bruin mense, wat voorheen Kleurlinge genoem is, het eintlik Nama-bloed in hul are, sê hy. Maar slegs die Namas van Namakwaland en die Richtersveld woon nog in enige beduidende groepe en getalle as identifiseerbare stamme.

Simboliese Nama perdekommando tydens Namafees. (Foto: Verskaf)

Trots op taal en kultuur

Afrikaans lê die Namas ook na aan die hart. Die plattelandse Namas in Namibië en ook in Namakwaland en die Richtersveld praat ʼn baie suiwer dialek van Afrikaans sonder anglisismes, verduidelik Marais. “Prof. Hans du Plessis en dr. Anton Prinsloo het baie navorsing hieroor gedoen. Vir baie van hulle is Afrikaans die enigste taal wat hulle ken en as sulks is Namibië se Namas die grootste groep Afrikaanssprekendes buite die grense van Suid-Afrika.”

Afrikaners deel meer waardes met die Namas as met die Xhosas, Zoeloes, ensovoorts, glo Marais. “In sekere sin word hul kultuur op dieselfde manier bedreig as die Afrikaner se kultuur. Hul kultuurhistoriese wortels, as direkte nasate van die oorspronklike Khoi-Khoin, lê selfs dieper as die Afrikaner s’n. Hulle is die Eerste Mense van die land. Deur erkenning daaraan te gee versterk mens ook die Afrikaner se saak.”

Een groep Namas het hulleself goed georganiseer onder die leierskap van kaptein John Cornelius Witbooi. Hulle neem as ʼn groep aan kulturele aktiwiteite deel, bevorder die Nama-taal en dien selfs in die adviesraad van die Tradisionele Leiers van Suid-Afrika. Hulle is betrokke by die ATKV se jaarlikse rieldanskompetisie en is Suid-Afrika se leidende figure in die driehoekige, internasionale groepering van Namas, tesame met die Namas van Namibië en Botswana wat reeds etlike jare lank gereelde internasionale feesdae aanbied.

Die meerderheid van die Namas is vandag Afrikaanssprekend en kaptein Witbooi is ʼn kampvegter vir Afrikaans, vertel Marais. “Die beoefening van Afrikaans, in al sy vorme, het by hom ʼn leefwyse geword. Hy beskerm en bevorder Afrikaans op ʼn daaglikse basis. Terselfdertyd bevorder hy ook die Nama-taal, hoofsaaklik deur die boekie deur Meester Pedro Dausab geskryf, Leer jouself Nama.”

Hoewel die Namas hulle sterk met Afrikaners en Afrikaanses identifiseer, verdien hul eie kultuur ook om bewaar te word, glo Marais. “Die Nama-kultuur kan slegs oorleef as Afrikaanse gemeenskappe hulle insluit en met hulle praat, hul feeste ondersteun en bywoon en hul geskiedenis dokumenteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Snowball ·

Aan die begin van die 18 eeu is die term Afrikaner gebruik vir slawe wat hier gebore is, vir vry swartes asook vir die Khoikhoi. Hendrik Biebou was die eerste Europeër wat homself (Afrikaander) so genoem het in protes teen ‘n landros aan die Kaap. So eintlik is ons almal saamgeboender hier aan die suidpunt van Afrika – jy kán kies wat jy jouself noem en waarmee jy jouself vereenselwig (godsdiens/taal/kultuur); die hartseer realiteit is of daar hoegenaamd iets gaan oorbly van enige minderheid in SA. Tans lyk die toekoms maar duister (of moet ‘n mens sê swart?)

Snowball ·

Dit is so waar piet. Lees maar ons geskiedenis; daar is merkwaardige mense van alle rasse wat ondertrou het – vrouens soos Angela van Bengale (die oermoeder van die Bassons) wat as slaaf begin het, maar uiteindelik ‘n vry en gerespekteerde Kaapse burger was. Wat en wie jy is het min te doen met pigment.

anniekiewiet ·

Dankie vir julle plasing van ‘n baie interessante stuk geskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.