‘Ons Klyntji’ steeds ʼn spreekbuis vir Afrikaans

‘n Oorspronklike uitgawe van Ons Klyntji (Foto: Verskaf)

Ons Klyntji, wat op 16 Januarie 1896 in die lewe geroep is, is die eerste en oudste tydskrif in Afrikaans. Sedertdien het die publikasie sporadies voortbestaan met herlewings in die veertiger- en vyftigerjare, negentigerjare en onlangs in 2014.

Een van Jan Lion Cachet, ʼn stigterslid, se agter-agterkleinkinders, Francois Lion-Cachet, het in 2012 van Ons Klyntji gehoor en besluit om dit te laat herleef. Só is Klyntji, ʼn afstammeling van die oorspronklike tydskrif, op die been gebring.

Maroela Media het by Francois aangeklop om meer uit te vind oor sy verbintenis met die tydskrif, sy verhouding met Afrikaans en visie vir die toekoms.

Totstandkoming van Ons Klyntji

Ons Klyntji is tydens die Eerste Afrikaanse Taalkongres gestig wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarl plaasgevind het. Dié kongres is ter viering van Die Patriot se twintigste verjaarsdag georganiseer. Laasgenoemde publikasie het in 1876 die lig gesien en word as die eerste volwaardige Afrikaanse koerant beskou.

Die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) staan pa vir beide publikasies wat gestig is met die doel om ʼn mondstuk vir Afrikaans en sy sprekers te wees.

Een van die belangrikste besluite wat tydens die taalkongres geneem is, is om ʼn Afrikaanse tydskrif te begin wat neutraal sou staan ten opsigte van die politieke en godsdienstige vraagstukke van daardie tyd.

SJ du Toit, GR von Wielligh en Jan Lion Cachet was sleutelfigure in die totstandkoming van dié publikasie.

Jan Lion Cachet (Foto: Verskaf)

“Cachet, my oupa se oupa, het ’n leidende rol by die kongres gespeel én hy het boonop die naam voorgestel,” vertel Francois. “Die leuse ‘Klyn Begin – Anhou Win’ is ook heel gepas vir die tydskrif”.

Ons Klyntji het oorspronklik op Afrikaans van die tyd, Bybelvertalings en letterkunde gefokus. Dié tydskrif se totstandkoming het positiewe reaksie onder die Afrikanervolk uitgelok.

Ná 1900 het dit weens die oorlog finansieel al hoe slegter met Ons Klyntji gegaan, en in 1906 het die laaste uitgawe van die tydskrif verskyn.

Talle belangrike Afrikaanse skryfstukke is destyds in die tydskrif gepubliseer. Magrita Prinsloo, of Liefde getrou tot in di Dood, die eerste Afrikaanse historiese toneelstuk deur SJ du Toit het in 1896 verskyn. Nog een van Du Toit se skryfstukke, Di Koningin fan Skeba, wat die eerste Afrikaanse historiese roman is, is ook gepubliseer.

Ons Klyntji het ná die beëindiging in 1906 telkens weer opgevlam.

“In die veertiger- en vyftigerjare was daar ’n poging tot herlewing deur ’n groep Vrystaatse onderwysers,” vertel Francois. Hoewel enkele kopieë van dié tydperk se Ons Klyntji’s tans in die Erfenisstigting se biblioteek bewaar word, is daar relatief min hieroor bekend.

“In 1996 het Koos Kombuis, ’n eeu na die eerste verskyning, weer ’n uitgawe as ’n anti-apartheid protest-zine uitgegee, en in 2000 het Toast Coetzer en Erns Grundling die leisels by hom oorgeneem.”

Nuwe baadjie vir ‘Ons Klyntji’

“Ek het die eerste keer in 2012 deur Oppikoppi se social media van die tydskrif gehoor,” vertel Francois. “Ek was in my matriekjaar en alreeds besig om webwerwe te ontwerp. Toe ek van die tydskrif lees het daar onmiddellik iets binne-in my ontwaak.”

Francois meen dat hy veral geïnteresseerd was in sy agteroupagrootjie se rol in die eerste literêre werke in Afrikaans.

“’n Liefde vir taal en kultuur was nog altyd deel van wie ek is. Omdat ek met die internet grootgeword het, het dit soos ’n vanselfsprekende bymekaarkoms gevoel om Ons Klyntji aan die internet bekend te stel,” verduidelik hy. “Klyntji.com is toe in 2014 onder my redakteurskap gebore.”

Klyntji is die handelsnaam wat slegs in ʼn elektroniese formaat beskikbaar gestel word, terwyl Ons Klyntji weer net in gedrukte formaat versprei word.

Klyntji.com is ʼn webjoernaal wat regdeur die jaar bygewerk word met tydskrif- en visueel-gedrewe stories, teenoor die Ons Klyntji zine wat jaarliks in swart en wit as ‘n sakpas‑boekie verskyn.” Die gedrukte weergawe fokus meer op gedigte, kortverhale en illustrasies.

Francois verduidelik dat die twee weergawes mekaar goed aanvul.

“Coetzer, Grundling en Alice Inggs is redakteurs van die gedrukte weergawe. Ons werk losweg saam deurdat ons na mekaar verwys waar inhoud en projekte oorvleuel”. Buiten die redaksiespan se insette maak beide publikasies staat op medewerkers en bydraers van reg oor die land.

“Koos Kombuis het ook al vir albei publikasies geskryf en is baie ondersteunend aan beide” vertel Francois. “Hy is amper soos Ons Klyntji se beskermengel!”

Francois meen dat sy redakteurstem nié die enigste een is wat gehoor moet word nie.

“Dit is nie my spreekbuis nie, maar eerder ‘n platform vir vars en opwindende stemme, kuns en uitkyke wat Afrikaans-wees ondersoek en op ‘n unieke manier bevorder.”

Hy meen Afrikaans as taal strek verby politiese of vasgestelde identiteitsboksies. “Om maar net te dink aan Marlene van Niekerk se Agaat, Andries Buys se Die dao van Daan van der Walt en SJ Naude se Die derde spoel – dís die Afrikaans wat ek nastreef.”

Francois se verbintenis tot Klyntji.com is ʼn liefdestaak.

“Met ‘n bietjie finansiële ondersteuning kan Klyntji groei om baie vir die bevordering van Afrikaans te beteken. Ek hoop dat 2020 die jaar daarvoor sal wees,” meen hy.

Hy het pas sy meestersgraad in mediareg aan die Noordwes-Universiteit behaal en is tans werksaam as assistent-kurator van die Konstitusionele Hof se kunsversameling in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

Daar waar ons groot geword het in die sewentigs, in Johannesburg-Wes; meer akkuraat in Mayfair-Wes, in Gillespiestraat, was daar ‘n gebou met die naam van Ons Kleintji. Dit was altyd doodstil daar. Ons het nie oor die drade geklim en die vensters stukkend gegooi of die plek probeer afbrand nie. Dit was ‘n groot enkelverdiepinggebou, baie kamers van “klaskamer grootte” en het baie herrinner aan ‘n laerskool.

Is daar ‘n verband tussen die gebou en die tydskrif van die jare her?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.