Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 7)

Roep van die uil
Hoofstuk 7
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Linda kry by Dirk die skokkende nuus dat sy vrou nie regtig haar eie lewe geneem het nie, maar dat hy haar vermoor het …

 

Linda wil dit nie glo nie, maar dit bly wat hy gesê het: dat hy sy vrou doodgemaak het.

Sy het Desirée Greeff net ’n paar keer gesien wanneer sy die onderneming besoek het. Die baas se dogter. Linda het vas geglo dis sy wat Dirk ongelukkig maak, nie andersom nie. Hy was so oortuigend.

“Sy was nie die soort vrou vir wie ’n man lief kon bly nie,” sê hy nou. “En sy sou nooit ingestem het om te skei nie.”

Linda kan nie die walging uit haar stem hou nie: “Gaan net weg.”

Sy wil nie net vir hom weg hê nie, maar alles in haar wat tot so iets bygedra het. Sy wat so aangehou het om ’n getroude man in die geheim te ontmoet. Sy wil naar word as sy dink hoe sy hom bygestaan het toe hy kamstig so ontsteld was oor Desirée se dood.

“Nou weet jy wat jy régtig vir my beteken.” Dirk maak die deur op ’n skrefie oop en loer in die gang af. Glip dan uit.

Linda gaan sit weer. Sy moet dink wat om te doen, maar dis na Stephen wat haar gedagtes terugkeer. Dis verby vir hulle, voor dit mooi kon begin. Dit maak nie saak wat sy óf hy voel nie, dit stop net hier. Sy gaan nie nog iemand se lewe vernietig nie – dalk help beëindig nie.

Moet sy met sersant Goosen gaan praat? Slegte idee. Hy vertrou haar nie en Dirk kan bloot sê hy’t haar nooit so iets vertel nie, nou versin sy stories om van hom ontslae te raak.

Hier sit sy. Die regte man is onbereikbaar. Die verkeerde een gaan nie laat los nie.

 

Toe Leanne van die skool af kom, is Jannie by haar. “Mamma ken hom mos.”

“Lize Engelbrecht se seun,” sê-vra Essie.

“Dis reg, tannie.” Hy lyk skaam. “Tannie en sy het al …”

“Ons sal maar die strydbyl moet begrawe as ons kinders sin in mekaar het. Sit, seuna, ek kry vir julle koeldrank.”

Leanne sê onderlangs vir Linda: “Aangemaaktes.”

Jannie glimlag so breed dat Linda bang is al sy sproete val af. “My ma het gevra of tannie en Leanne vanaand by ons wil kom eet.”

“Ons maak so!”

Linda wens Stephen wil huis toe kom. Dis tyd dat hulle ’n openhartige gesprek het, maar ook dat sy hom op ’n mooi manier laat verstaan daar is geen kans dat iets tussen hulle kan ontwikkel nie.

Maar toe die voordeur oopgaan, is dit Moira. “Die boetiek was grafstil,” kla sy. “Ek sal moet handdoek ingooi.”

“Ag nee, my kind,” frons Essie.

“Ek gaan skaars genoeg hê om die perseel se huur vir die maand te dek!”

“As julle ons sal verskoon,” sê Leanne en lei Jannie voordeur toe.

“En almal wat verbyloop, kort ’n dringende behandeling!” Moira haal ’n sakdoekie uit en vee oor haar oë. As daar trane was, het Linda dit gemis. “Ek weet nie wát om te doen nie.”

Sy gaan by die trap op, en kort daarna Essie. Toe Linda ’n minuut later ook opgaan, tref sy die twee daar aan – Essie met ’n koevertjie in die hand.

“Dankie,” sê Moira, “maar ek skuld tannie reeds geld, nie tannie vir my nie.” Sy loop beslis na haar kamer toe.

Essie glip verleë die koevertjie by haar rok se sak in. En Linda sê maar niks. Sy was net so seker dat Moira skimp vir geld …

 

’n Halfuur later klop iemand aan die deur net toe Linda wou indut. Dis Moira.

“Daar was ’n oproep vir jou. Nee, toe maar, die vrou het afgelui. Sy kon nie lank praat nie.”

“Watter vrou? Wat sê sy?”

“Jy het ’n tannie Sarina?”

“Marina.”

“Wat ook al. Sy’t geval en lelik seergekry. Ons praat nou bloed en pyn. Die vrou is ’n vriendin en daar by jou woonstel, maar het nie geld om haar by ’n hospitaal te kry nie. Sy sê jy moet kom help.”

Daarmee trek Moira die deur toe.

 

“Wat gaan nou aan?” vra Stephen toe hy van die werk af kom en Linda met die tas sien.

Sy verduidelik, ook dat sy nie kon bel nie aangesien haar tante nie ’n selfoon het nie. En die woonstel het geen landlyn nie en die vrou het geen nommer gelos nie.

Stephen is sonder kar; hy het syne geleen vir Rupert wat nog nie nuwe bande kon kry nie. En Essie is iewers heen met haar skedonk en dan gaan sy en Leanne by die Engelbrechts eet. Stephen dring egter daarop aan om saam stasie toe te loop en gelukkig is daar volgens die skedule op Kanieklanie se kennisgewingbord oor twee uur ’n trein.

“Ek hou nie daarvan dat jy treinry nie,” sê hy in die loop.

“Dis hoe ek hier aangekom het!”

“Hopelik kan jy dit gou uitsorteer en terugkom …”

Hulle bereik die stasie, wat heel voorspelbaar verlate is. Sy sal maar ’n kaartjie op die trein koop.

Stephen wil saam met haar wag, maar Linda keer beslis: “Hoe langer jy bly, hoe erger gaan dit raak.” Dan besef sy haar fout; sy het pas verklap hoe sy voel.

Toe hy haar in sy arms neem, maak dit nie meer saak nie. Inteendeel, dit was die beste fout wat sy kon gemaak het. Die soen is so volmaak as waarvoor enigiemand maar kon wens. Sy was toe reg: hy is die een vir haar.

Nou het sy darem dít. Want in Kanieklanie het sy besef die wegroep stad toe is die finale teken dat sy nie hier op Stilwater moet wees nie.

Stephen loop. Sy is alleen. Sy sit en wag.

Dit word ’n langer wag as wat sy gedink het – die trein is ’n halfuur laat.

Nog ’n halfuur gaan verby voordat Linda aflei die skedule in die losieshuis is nie meer geldig nie. Wel, dan moet sy môreoggend maar weer vroeg hierso wees – sy kan tog nie vannag op die bankie slaap nie. Sy moet maar hoop tannie Marina se vriendin kyk intussen so goed as wat sy kan na haar.

Sy kies koers losieshuis toe … en toe is dit asof iemand in haar oor fluister sy moet vinniger loop. Maak dat sy daar kom.

En dan, in die verte maar so duidelik dat dit voel of dit slegs op haar gerig is, hoor sy daardie onheilspellende roep.

 

Moira se skouersak staan gereed; sy kan natuurlik nie haar tasse vat nie. En haar kar wag buite. Haar kaarte, dié het sy reg gespeel.

Net sy, Stephen en oom Bert was hier vir aandete – en dit was kinderspeletjies om die slaapmiddel in hulle drankies te gooi. Gou is die twee al gapende by die trap op.

Maar vóór dit, toe sy en Stephen alleen was, het sy saggies gesê: “Ek is bang …” Toe hy vra hoekom, het Moira geaarsel. “Ek weet jy hou van Linda. En sy kán gaaf wees, maar …” Toe het sy gemaak of sy haar bedink en geweier om nog iets te sê.

Die saadjie van agterdog is geplant. Stephen sal onthou sy was bang en dat dit met Linda te doen het.

Daarna het sy nog sekerder gemaak. Vertroulik vir oom Bert gesê: “Iets pla my, oom. Ek hoor by Stephen dat Linda sê ek het haar vertel van ’n oproep – dat haar tannie beseer is, sodat Linda moes weggaan. Maar daar was nooit so ’n oproep nie!”

“Maar, Moira …”

“En sy het vir my ’n dreigbriefie geskryf, oom. Dat my tyd min is. Dit kon net sy gewees het. Maar moet asseblief vir niemand sê nie.”

Met die twee mans veilig in droomland, het sy na Essie se kamer gegaan – Essie wat so verkondig het dat sy nes Dorinda Meiring nie in banke glo nie. Toe sy vanmiddag geld uitgehaal het om vir haar te gee, het Moira by die oop deur ingeloer. Gesien daar is ’n kluis agter die een skildery. Gesien wat die kombinasie is.

En nou bult dié skouersak met haar nuwe buit asook Dorinda Meiring se geld. Met ’n bietjie meet en pas sal dit haar jare lank deursien.

Sy laat die briefie agter die bed val, waar iemand dit wel sal vind. Die een wat sy onderdeur haar eie deur gestoot het. Die een wat sy vir Linda gewys het en dus ook haar vingerafdrukke bevat.

Linda het mos gesê haar tante haat fone; dit was ’n berekende kans dat sy nie sou kon bel en uitvind sy makeer niks nie. As die liewe Linda terugkom, sal hulle dink sy het die geld iewers gaan versteek.

En sy wat Moira is, sal die slagoffer wees. Stephen het Linda nie op die trein sien klim nie, en dis perfek. Linda moes seker teruggekeer en arme Moira iets aangedoen het, en wil dit nie erken nie. Moira wat elders ’n nuwe, weelderige begin onder ’n ander naam gaan maak …

Skielik verstar sy. Het sy ’n geluid onder gehoor?

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.