Skryfwerk vir kompetisie ingewag

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Digters en skrywers van alle ouderdomme het tot 30 Junie kans om hulle skryfwerk vir Ink Skryf in Afrikaans, ʼn onafhanklike platform wat skryfwerk in Afrikaans bevorder, se jaarlikse dig-en-skryfkompetisie in te skryf.

“Die hoofdoel van hierdie kompetisie is om poësie en kortverhaalkuns van gehalte in Afrikaans ʼn hupstoot te gee,” sê Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans.

Ink het in 2020 sy vlerke gesprei en vir die eerste keer ook internasionale inskrywings ontvang. Volgens Bezuidenhout was daar in 2020 sowat 900 inskrywings en meer as 3 000 in 2021.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor vanjaar se kompetisie en om te sien watter kreatiewe bydraes dit gaan oplewer,” sê sy.

Die aantal inskrywings per skrywer word nie beperk nie, maar slegs oorspronklike gedigte en kortverhale, dus nuwe en ongepubliseerde werk, sal vir die kompetisie in aanmerking kom.

Ná afloop van die kompetisie sal die beste gedigte en kortverhale in drie bundels opgeneem word: Inkspraak 3, Inkspraak 3 Jeug en Inkspraak Kortverhale.

Die kompetisie word deur ʼn onafhanklike paneel beoordeel en bestaan uit Karen Zoid, Jackie Nagtegaal en Francois Terblanche.

AfriForum, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Academy Bushware, Solidariteit, Pharos, Groep 7 Drukkers, Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalmonument en die Historium Trust tree as hoofborge op. Die top-12 inskrywings sal na verwagting in 2023 in een van die Taalmonument se tuine uitgestal word.

Besoek Ink se webwerf om meer oor die kompetisie te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.