Maroela Media word oorval met navrae van lesers wat wil weet waarom buitelandse eiename soms op ʼn spesifieke wyse gespel word.
Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. Die transliterasie van buitelandse eiename kan soms verwarrend wees, maar eenvoudig gestel, beteken dit “dat name wat in ‘n nie-Westerse skrif geskryf word (bv. Cyrillies of Arabies) volgens die Afrikaanse taalreëls getranslitereer of gefonetiseer word”. Transliterasie is ‘n presiese letter-vir-letter-omskakeling van een alfabet in ‘n ander – en dus nie ‘n vertaling nie. Klik hier om te lees wat die verskil tussen “transliterasie” en “vertaling” is.
In Engels byvoorbeeld word die naam Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld uit die Cyrilliese alfabet oorgedra as “Vladimir Putin” in Engels, en “Wladimir Poetin” in Afrikaans.
Die spelling “Vladimir Putin” is die standaard Engelse transliterasie vanaf Cyrilliese skrif na die Romeinse alfabet. Die Franse spel sy naam byvoorbeeld “Vladimir Poutine”, die Spanjaarde skryf “Vladímir Putin”, Nederland skryf “Vladimir Poetin”, en so voorts.
Op dieselfde manier word Горбачёв as “Gorbachev” of “Gorbachyov” in Engels, en “Gorbatsjof” in Afrikaans vertaal, net so word قطر uit Arabies “Qatar” gespel, en in Afrikaans “Katar”.
Die naam ٱلْمَمْلَكَة ٱلْعَرَبِيَّة ٱلسُّعُوْدِيَّة word byvoorbeeld uit Arabies na Engels vertaal as “Saudi Arabia”, maar in Afrikaans “Saoedi-Arabië”.
Of دبي word “Dubai” in Engels, maar “Doebai” in Afrikaans.
Vir die Cyrilliese sisteem, wat hoofsaaklik vir Russies en ander Slawiese tale gebruik word, bestaan daar geen internasionaal erkende romaniseringsisteem nie, aangesien elke taal die uitspraak van byvoorbeeld Russiese woorde volgens die klanke en ortografie van die teikentaal translitereer. Om die spelling in Afrikaans so na as moontlik aan die oorspronklike uitspraak weer te gee, word ʼn transliterasietabel vir die Cyrilliese alfabet in Afrikaans hier onder aangedui.

Skermskoot van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls se transliterasietabel vir die Cyrilliese (Russiese) alfabet as voorbeeld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Maroela – Putin is net een voorbeeld
Dankie Maroela! Het net vanoggend ‘n gesprek op facebook daaroor gehad :)
Dankie Maroela! Daar leer ons nou iets. Ek sal nie weer vra daaroor nie. :-)
Ai tog. Ek is so jammer dat julle genoop was om dit te moes skryf. Party mense is maar net anders.
Baie dankie. So leer mens elke dag !!!