Lekkerkunde vir onderwysers!

(Foto: Ross Sneddon/Unsplash)

Deur Nadine Fouché-Karsten 

Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail, soos in Sy het ʼn oog vir detail?

Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.

Jy gebruik met ander woorde elke dag metonimie, want jy gebruik die naam van een entiteit om te verwys na ʼn ander entiteit wat daarmee verband hou (Lakoff & Johnson 1980:35). Anders gestel: Jy benoem ʼn sekere saak of entiteit nie direk nie, maar indirek (Nordquist 2018).

Dit is iets wat geensins nuut is nie. Volgens die Online Etymology Dictionary dateer die term metonimie so ver terug as die 1560’s waar dit aan die Franse “métonymie” ontleen word, wat weer teruggevoer word na Laat Latynse “metonymia” vanaf die Griekse “metōnumia” (μετωνυμίᾱ). Laasgenoemde bestaan uit “meta” (met die betekenis ‘verander’) en “onuma” (met die betekenis ‘naam’). Dié term beteken dus ‘verandering van naam’. En is dit nie presies wat ʼn mens doen nie? Dit maak sin dat Lawrence et al. (2013) in Afrikaansmetodiek deur ʼn nuwe bril die sinoniem oornoeming voorstel.

Dit bring my by die fokus van hierdie blog:

  • Waar pas metonimie binne die vak Afrikaans Huistaal?
  • Wat is die funksie daarvan?
  • Wat is die verband tussen metonimie en sinekdogee?

Metonimie in die onderwys

Op skoolvlak word metonimie met die ontleding van letterkundige tekste geassosieer. Dit word beskou as ʼn soort stylfiguur wat ʼn bepaalde beeld oproep (vergelyk byvoorbeeld Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek van Vosloo et al. 2013).[i] Een van die eerste voorbeelde van metonimie in skryfwerk waaraan ek kan dink, is sekerlik die gebruik van Kroon om na die keiser te verwys in die drama, Die keiser: HOFNAR: Loop sommer broek oor die skouer en skoene in die hand, my Kroon. Kry glo te warm. Hierdie gebruik van metonimie is effektief, want konings (en keisers) dra krone, en hierdie beeld word juis opgeroep.

Die idee vir die beeld is ontleen aan Betts 2021, en die beeld is m.b.v. Canva gegenereer.

Soos reeds met my voorbeeld uit Die Keiser aangetoon is, word metonimie onder andere aangewend om ʼn bepaalde beeld op te roep. Dit stel skrywers in staat om kreatiewer met taal om te gaan (MasterClass 2021).

Die gebruik van metonimie kan woorde ook kragtiger maak. Volgens MasterClass (2021) verhoog die gebruik van metonimie die kompleksiteit van selfs die eenvoudigste woorde, omdat hulle ʼn simboliese waarde kry. Dink maar aan die immergewilde voorbeeld, Die pen is magtiger as die swaard. Twee voorbeelde van metonimie kom hierin voor, naamlik die pen en die swaard. Hierdie twee sinsdele staan in vir die geskrewe woord en militêre mag, en verkry hierdeur ʼn simboliese betekenis.

Uit dieselfde voorbeeld kan ons aflei dat die gebruik van metonimie bydra tot bondiger taalgebruik (vergelyk Yamasaki 2023). Dink ook aan die volgende aanhaling uit Elisabeth Eybers se gedig, “Twee kleuters in ’n vondelpark”:

Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets tot motor, sal hy konstateer
– die wiel sy ordeteken – dat hy lid
is van die kollektiewe Lilliput.

Eybers verduidelik hoe die seuntjie ontaard in ’n jong man wie se status bepaal word deur die tipe motor waarmee hy ry. In plaas daarvan om te skryf: hy word deel van die kleinlikes in die samelewing, gebruik sy die korter sinsdeel, die metoniem: die kollektiewe Lilliput, wat verwys na die fiktiewe eiland in die roman Gulliver’s Travels van Jonathan Swift wat bewoon is deur piepklein mensies. Hoewel hier dus sprake is van mense wat letterlik klein is, gebruik sy die verwysing hierna op ʼn figuurlike wyse (vergelyk LiteraryDevices 2013).

Nordquist (2018) dui ook daarop dat metonimie kohesie en samehang bevorder. Daar word saam na twee verbandhoudende konsepte (soos pen en die geskrewe woord) verwys deur middel van een woord – die bevordering van kohesie word hierdeur geïllustreer. Gevolglik hoef ʼn mens nie tussen hierdie twee konsepte te beweeg nie – die bevordering van samehang word hierdeur geïllustreer.

Sinekdogee as ʼn vorm van metonimie

Wanneer ʼn plan uitgedink moet word, is ʼn mens geneig om te sê: Ons moet koppe bymekaarsit. As ek iemand dit hoor sê, dink ek regtig nie aan ʼn toneel uit The Addams Family waar ʼn klomp koppe rondom ʼn tafel sit en oor ʼn saak redeneer nie! Ek begryp onmiddellik dat ʼn klomp mense moet help saamdink en dat die woord kop (ʼn deel) gebruik word om na mense (ʼn geheel) te verwys. Ek begryp ook die kop bevat die brein, wat sterk met die beraming van planne geassosieer word en dat dit die rede is waarom kop in so ʼn uitdrukking gebruik word.

Ons het hier te doen met ʼn stylfiguur waar ’n woord wat op ʼn deel van iets dui, gebruik word om te verwys na ʼn groter geheel; of ʼn woord wat op ʼn geheel dui, gebruik word om te verwys na ʼn deel van iets (Merriam-Webster; Nordquist 2018). Sinekdogee is hier ter sprake, hoewel die term gedeeltelike benoeming ook gebruik word (vergelyk Lawrence et al. 2013). Nóg twee voorbeelde van sinekdogee is:

  • In My foon is pap word foon (ʼn geheel) gebruik, terwyl daar eintlik slegs na die battery (ʼn deel) wat pap is, verwys word. Hier is dus sprake van ʼn geheel-deel-verhouding.
  • In Die ete is R220 per kop, word kop (ʼn deel) gebruik, terwyl die mens (ʼn geheel) ter sprake is. Die hele mens gaan die ete nuttig. Hier is dus van ʼn deel-geheel-verhouding sprake.

Omdat sinekdogee, net soos metonimie, ʼn leksikale item binne ʼn bepaalde domein gebruik om na ʼn ander entiteit binne dieselfde domein te verwys, is die tendens om sinekdogee as ʼn onderafdeling van metonimie te ag. Johnson en Lakoff (1980:36) ag sinekdogee as ʼn spesiale kategorie van metonimie. Dit is ook ʼn siening wat in sommige skoolhandboeke gereflekteer word. Met ander woorde, hoewel sinekdogee tereg as ʼn afsonderlike literêre verskynsel in onderwysbronne hanteer word, is dit wel ʼn manier om metonimie te bewerkstellig.

Die vraag is waarom ’n mens sinekdogee gebruik. In ʼn voorbeeld soos om iemand se hart te wen (uit Piekfyn Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 9) word hart, as ʼn deel van ’n mens, gebruik om na ʼn persoon te verwys. Jy wil immers nie net sy hart wen nie! Maar waarom word hart dan gebruik? Om te dui op die betekenisvolle, emosionele konneksie tussen die persone. Die frase wil dus ʼn bepaalde assosiasie oproep. Die skrywer soek veel meer as ʼn fisieke konneksie.

Daarby kan sinekdogee iets simboliseer. Die gebruik van hart in hierdie betrokke voorbeeld simboliseer dat wanneer jy iemand se hart wen, jy hulle liefde en vertroue wen, asook hulle oortuig om hulle tot die verhouding te verbind.

Veral wanneer sinekdogee op ʼn deel van ʼn groter geheel dui, kan hierdie deel wat uitgelig word, ʼn beklemtoningsfunksie hê. In Die soldaat het lood geëet (uit Taalkunde vir die middelbare skool) word lood gebruik, waar dit deel is van ʼn geweer, juis om die manier waarop die betrokke persoon gekwes is, aan te dui. ʼn Bykomende voorbeeld hiervan is Ek kort ʼn ekstra paar hande waar hande gebruik word om te verwys na ʼn mens wie se hulp benodig word. Die rede waarom hande gebruik word, en nie byvoorbeeld kop soos in een van ons vorige voorbeelde nie, is dat hande sterk geassosieer word met die deel van die mens wat fisieke aktiwiteite verrig.

Mag hierdie inligting menige mens help wanneer Elisabeth Eybers of dergelike behandel word. (Ek hoop julle identifiseer die gebruik van metonimie in die voorafgaande sin …) In die volgende blog word antonomasia onder die loep geneem, omdat dit dikwels moeilik is om te onderskei van metonimie.

VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten

  • Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys

Betts, J. 2021. Examples of metonymy: Understanding its meaning and use. https://examples.yourdictionary.com/examples-of-metonymy.html Datum van toegang: 7 Julie 2023.

Kapp, S. 2019. 40 maniere waarop skrywers skop skep – retoriese middele. https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/471-40-maniere-waarop-skrywers-skop-skep-retoriese-middele Datum van toegang: 7 Julie 2023.

Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors we live by. Chicago; Londen: University of Chicago Press.

LiteraryDevices Editors. 2013. Metonymy. https://literarydevices.net/metonymy/ Datum van toegang: 7 Julie 2023.

MasterClass. 2021. What Is Metonymy? Definition, examples, and uses of metonymy in writing. https://www.masterclass.com/articles/what-is-metonymy Datum van toegang: 6 Julie 2023.

Merriam-Webster. n.d. Usage notes on synecdoche and metonymy. When you’re left to your own rhetorical devices. https://www.merriam-webster.com/words-at-play/synecdoche-metonymy-usage-differences Datum van toegang: 7 Julie 2023.

Nordquist, R. 2018. What Is Metonymy? thoughtco.com/metonymy-figures-of-speech-1691388. Datum van toegang: 6 Julie 2023.

Pilon, S. 2023, 17 Jan. Metonimie [Podsending]. https://omny.fm/shows/op-en-wakker/taalrubriek-17-januarie-2023?fbclid=IwAR20RaiZSlY3x_IBbu8qsmNHIaqRyAB-ADiRzR5SQXZdb-lQafz1UFiCOz0 Datum van toegang: 5 Julie 2023.

Yamasaki. P. 2023. Metonymy: How to use this literary device. https://www.grammarly.com/blog/metonymy/ Datum van toegang: 6 Julie 2023.

[i] In ander bronne word metonimie ook met die produksie van geskrewe tekste geassosieer, maar dit word nie noodwendig “stylfigure” genoem nie, wel retoriese middele, dit wil sê tegnieke wat die spreker of skrywer aanwend om die boodskap so doeltreffend moontlik aan die hoorder of leser oor te dra (vergelyk Kapp 2019).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.