Taalgebruik: anglisistiese meervoude

Argieffoto (Foto: Ronile/Pixabay)

Afrikaans gebruik dikwels idiomaties ʼn enkelvoudsvorm waar Engels weer ʼn meervoudsvorm gebruik. So byvoorbeeld is “Union Buildings” en “buildings of Parliament” in Afrikaans Uniegebou en Parlementsgebou, en die Uniegebou se “gardens” is die Uniegebou se tuin. Insgelyks is wat Engels dikwels “falls” noem, in Afrikaans waterval of net val. Die “Victoria Falls”, “Augrabies Falls” en “Howick Falls” is byvoorbeeld onderskeidelik die Victoria-waterval, Augrabies-waterval en Howick-waterval (dit kan ook sander koppelteken vas geskryf word) – NIE telkens -watervalle nie.

ʼn Foutiewe meervoudsgebruik wat ʼn mens deesdae nogal dikwels weer hoor, is dat daar na ʼn bepaalde botaniese tuin in die meervoudsvorm verwys word, byvoorbeeld die Kirstenbosch Botaniese *Tuine of die Walter Sisulu Botaniese *Tuine. Suid-Afrika het nege nasionale en verskeie ander botaniese tuine, maar wanneer ʼn mens van een praat, is dit ʼn botaniese tuin, hetsy as ʼn algemene verwysing of as deel van ʼn formele naam, al gebruik Engels daar dikwels idiomaties “gardens”.

Die terrein waarop ʼn skool staan of ʼn skou gehou word, kan ook die skoolgrond en die skougrond genoem word, maar NIE, soos in Engels, die *skoolgronde en die *skougronde nie. Die plek waar die hoofkantoor van ʼn maatskappy, organisasie, leër, divisie en so meer geleë is, is sy hoofkwartier, NIE sy *hoof­kwartiere nie, en die plek waar argiefstukke bewaar word, is die argief, NIE die *argiewe nie, hoewel daar natuurlik heel party verskillende argiewe in die land kan wees.

Een mens kan natuurlik verskillende brille hê, byvoorbeeld ʼn sonbril, ʼn leesbril, ʼn bril vir ver sien, en so meer, maar hy of sy dra een bril op ʼn slag, NIE *brille nie, al sou hy of sy in Engels “glasses” of “spectacles” dra. Iemand wat ʼn bril moet gebruik om sy of haar sig te verbeter, dra bril in Afrikaans en “wears glasses” in Engels. Dit wat op die gesig gesit word, “a pair of glasses” in Engels, maar dit is net ʼn bril in Afrikaans, NIE ʼn *paar brille nie. Laasgenoemde sou beteken ʼn klompie brille by mekaar.

Foutiewe meervoudsvorme wat met bogenoemde anglisistiese meervoudsvorme verband hou, tref ʼn mens aan in byvoorbeeld Kerk- en *Smitstrate.

Bron: HAT Taalgids

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Jy’s ‘n dag te laat. Die Afrikaans matriekvraestel was gister al geskryf.

B-Man ·

Wat van mense wat so praat van “meer sterk” in plaas van sterkste en “mees wonderlikste” i.p.v. wonderlikste? Hoor dit baie oor die radio, veral by sekere RSG-omroepers wat baie hulle mond uitspoel oor die verkeerde uitspraak van haar naam…

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Baie dankie vir hierdie inset.
Gereelde bydraes oor taalgebruik sal hoog op prys gestel word.
Verduidelik asseblief vir die lesers die reëls by die gebruik van die “wat” in sinskonstruksies.
Groetnis en gaan so voort.
Ek is nou amper 74 en besef elke dag al hoe meer die waarde van begripstoetse. Die kuns is om jou denke eenduidig in die minimum aantal woorde te kan uitdruk.
Groetnis.
Trots Afrikaans Vrydenker Johann.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.