Taalgebruik: Belofte, gelofte

(Argieffot:o: Congerdesign/Pixabay)

Moenie dié twee woorde met mekaar verwar nie. ʼn Belofte word aan mense gemaak, terwyl ʼn gelofte aan God gemaak word.

belofte s.nw. [beloftes]
1 Wat belowe word; skriftelike of mondelinge toesegging: Jou belofte hou, nakom, vervul. ʼn Belofte aflê, breek, gestand doen. Iemand aan sy belofte hou.
2 Voorteken of aanduiding wat rede gee tot die verwagting van iets goeds of voordeligs: Die belofte van ons koringoes is vanjaar baie gunstig.
3 Plegtige verklaring sonder aflegging van ʼn eed: Doopsgesindes of ander persone wat gewetensbesware het teen die gebruik van die Here se naam, doen voor ʼn magistraat of regter slegs ʼn belofte.

Uitdrukkings:
Iemand met mooi beloftes wegstuur, afskeep, paai.
Hom allerhande mooi dinge belowe sonder om die beloftes na te kom.
Belofte maak skuld
– As jy iets belowe, moet jy jou belofte ook nakom – soms met die byvoeging: maar wie daarop wag, is gekuld; ook: wie dit glo, raak gekuld, of: wie daarop wag, het geduld.

gelofte s.nw. [geloftes]
1 Plegtige belofte, veral ʼn belofte waarby ʼn mens jou vrywillig teenoor God of ʼn hoër mag verbind om iets te doen of iets te laat; by baie volke ʼn besondere vorm van gebed, o.a. in tyd van nood of wanneer ʼn vurige wens gekoester word, met die gedagte dat die godheid hom deur ʼn kontraprestasie sal laat beïnvloed; vgl. o.a. Gen. 28:20 – 22, Rigt. 11:30, 31, 1 Sam. 1:11, Ps. 132:2 – 5, Num. 6: ʼn Gelofte aflê, doen, betaal, hou, vervul, gestand doen, breek, skend. Deur ʼn besondere gelofte te volbring (Num. 15:3).
2 (Rooms-Katoliek) Belofte uit vrye wil aan God gedoen as daad van godsverering: ʼn Openbare gelofte van gehoorsaamheid, kuisheid en armoede word deur die geestelike orde vereis. Die kloostergelofte.

Hierdie interessante brokkie verskyn in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ondersteun gerus hulle Borg ʼn Woord-projek.  

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.