Taalgebruik: blykbaar, klaarblyklik, skynbaar

Taalgebruikers struikel dikwels oor die verskil tussen blykbaar, klaarblyklik en skynbaar. Watter woord moet jy wanneer gebruik?

Blykbaar impliseer ʼn geringe mate van twyfel en word gebruik wanneer ʼn mens min of meer seker van jou saak is: Die paartjie se huwelik is blykbaar op die rotse. • Hulle is blykbaar goeie vriende. • ʼn Blykbare gebrek aan belangstelling.

Klaarblyklik beteken dat iets beslis, kennelik, ongetwyfeld of onteenseglik sal gebeur en dui op feitlik volkome sekerheid. As iets klaarblyklik die geval is, bestaan daar geen twyfel meer nie: Dis klaarblyklik ʼn fout. • Magda stel klaarblyklik nie meer in haar skoolwerk belang nie. • Dit is klaarblyklik dat sy vir ons jok.

Skynbaar en oënskynlik word gebruik as iets nie is soos dit lyk nie/skyn te wees nie: Hy is skynbaar gelukkig, maar ons weet beter. • Sy het skynbaar aandagtig geluister, maar eintlik was sy heeltyd met iets anders besig.

Bronne: Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers (SAAZ) en Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.