Taalgebruik: robot, verkeerslig

Foto ter illustrasie. (Foto: Siobhan Dolezal/Pixabay)

Die woord robot is ’n 20ste-eeuse skepping van die Tsjeg Karel Čapek uit die Tsjeggies robota, wat “arbeid, verpligte arbeid” beteken. In Suid-­Afrika het dié woord, benewens die ander gewone be­tekenisse, ook die betekenis van “verkeerslig” gekry. Dit is onseker of Afrikaans dit uit Suid-Afrikaanse Engels of Suid-­Afrikaanse Engels dit uit Afrikaans oorgeneem het. Hoe dit ook al sy, dit is skynbaar ’n uniek Suid-­Afrikaanse betekenis.

Die ekwivalente van die samestelling verkeerslig kom ook in verskeie ander tale voor, byvoorbeeld traffic light in Engels, verkeerslicht in Nederlands en Verkehrslichtsignalanlage in Oostenrykse Duits.

Albei hierdie woorde – robot en verkeerslig – is goeie Afrikaans en daar is werklik geen taalkundige rede om die een bo die ander aan te beveel nie. Bronne wat byvoorbeeld sê dat verkeerslig verkieslik bo robot is, spreek bloot ’n individuele voorkeur uit.

Bron: HAT-taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.