Ons s’n, die seun s’n, julle s’n. Gebruikers van Afrikaans skryf soms dié besitlike voornaamwoord verkeerdelik as “sin”.
Dit is twee heeltemal verskillende woorde wat niks met mekaar te doen het nie, al word hulle dieselfde uitgespreek.
S’n is ’n besitlike voornaamwoord en staan ná die selfstandige naamwoord of voornaamwoord ten opsigte waarvan dit die besit aandui; dit kan ook s’ne wees:
- Die pantoffels is pa s’n(e), maar die knipmes oupa s’n.
- Die boek is die biblioteek s’n.
- Dié motor is ons s’n, maar daardie een is iemand anders s’n.
“S’n” word dus gebruik om besitlike voornaamwoorde te maak saam met woorde soos ons (ons s’n), u (u s’n), julle (julle s’n) en hulle (hulle s’n).
Die afkappingsteken word hier gebruik omdat die woord vroeër syn(e) was, maar dié spelling word selde nog in hedendaagse Afrikaans gebruik.
Daarenteen is sin ’n selfstandige naamwoord met verskeie betekenisse, byvoorbeeld:
- “sintuig” (die vyf sinne)
- “betekenis” (in die sinvan …) of “jou rede” (van jou sinne beroof wees)
- “’n groep woorde wat ’n bepaalde gedagte uitdruk” (’n enkelvoudige sin) en so meer
Sy meervoud is sinne. Die uitspraak van s’ne en sinne is ook dieselfde.
Bron: HAT-taalgids
Dit maak sin.
Maak my kop seer