Taalgebruik: verskoning vra

(Grafika: JenDigitalArt/Pixabay)

’n Mens kan in Afrikaans verskoning vra of om verskoning vra vir iets. Daar bestaan nie ’n woord soos *omverskoning of *onverskoning nie, en dus ook nie uitdrukkings soos *omverskoning vra of *onverskoning vra of *on verskoning vra nie.

Betekenis
1 rede wat jy gee om verkeerde gedrag of nalatigheid te verduidelik; verontskuldiging; ekskuus: Wat is jou verskoning? Hoekom is jy laat? • allerlei verskonings maak/aanbied vir jou foute • Ek aanvaar jou verskoning. | (om) verskoning vra sê dat jy jammer is oor iets wat jy gesê/gedoen het: om verskoning vra vir jou onnadenkendheid.
2 verdediging; regverdiging: As verskoning vir my optrede kan ek die volgende aanbied.
3 (verouderd, weinig gebruiklik) skoon klere of linnegoed: ’n verskoning saamneem vir die naweekkuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mel ·

En dis nie 10minute terug wat ek ‘n epos getik het , ‘om verskoning’ en weer uitgevee het nie. En sowaar gebruik ek toe ‘onverskoning”.
Gelet! En sal nie weer daardie fout maak nie.

$ ·

Maroela, ek is so bly julle wys dit uit want dit grief my tot in my siel elke keer as ek lees hoe mense “onverskoning” vra op sosiale media (WhatsApp, Facebook).

Die Afrikaanssprekendes van vandag ken nie meer Afrikaans nie – “ek is saam julle bly/hartseer’´ i.p.v ´saam MET julle ´ en dis ‘ons sin’ in plaas van ´ons s’n’.

Ek verlang na die dae wat mense nog waarde aan korrekte spelling en korrekte uitspraak geheg het – mens kry selfs spel- en taalfoute in Afrikaanse skole se omsendbriewe.

B-man ·

Beslis.
Wat van: “Ek het help nodig” en “Die voorwerp is nie syne nie, dis haarne”?
Ongelukkig is dit nie altyd die beste studente wat onderwys gaan swot deesdae nie – ek kan dus glo as omsendbriewe so lyk. Mense kan ook nie meer woorde as samestellings skryf nie… alles het verdomde spasies.
Dan wil ek nie eers dink aan die oordrewe gebruik van meer en mees nie (bv. mees indrukwekkendste). Ag, spaar my dit!

Sputnik ·

Net laat gistermiddag luister ek na ‘n gesprek op RSG wat met ‘n bekende rugbyspeler gevoer word. Aijaijai, elke vierde woord is Engels, terwyl daar doodgewone, bekende woorde vir elkeen in Afrikaans bestaan. ‘n Mens voel sommer lus om namens die onderhoudvoerder om verskoning te vra daarvoor!!

Leon ·

Ek verafsku die “soos” dialek. “Ek soos loop in die straat. Toe kom daar ‘n hond, en hy begin my soos te jaag. Ek hardloop toe soos weg, maar val toe oor soos ‘n boomwortel. Nou is my knieë soos nerf af.” Dit soos walg my…

Sputnik ·

Ek stem 100% met jou saam, Leon. Ek het al jare gelede my kinders daaroor aangespreek. Gelukkig het hul dié slegte gebruik ontgroei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.