‘Taalgenoot’-familie verwelkom Jan Alleman

Johan Jack Smith (Foto: Taalgenoot/Facebook)

Vir die eerste keer in 90 jaar sal die ATKV se bekroonde tydskrif, Taalgenoot, vir Afrikaanse lesers oor die wêreld heen beskikbaar wees.

“Ons is baie opgewonde oor dié nuwe wending,” sê Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot.

Die elektroniese weergawe van die tydskrif sal op die ATKV se webwerf beskikbaar wees. Lede van die ATKV kan steeds die gedrukte weergawe as deel van ’n lidvoordeel ontvang.

Smith sê hoe meer mense die tydskrif kan lees hoe beter, want dan kan almal daar buite ook sien met watse wonderlike werk die ATKV besig is.

Taalgenoot bied soveel meer as die tradisionele nistydskrif: boeiende, interessante stories en artikels oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl, asook ’n indiepte-blik op die werk van die ATKV.

“Daar is reeds ’n tekort aan Afrikaanse tydskrifte met murg in hul pype en weinig fokus nog op Afrikaanse literatuur, kuns en kultuur,” sê hy. “Ons sien daarna uit om meer lesers by die Taalgenoot-familie te verwelkom.”

Die Suid-Afrikaanse Publikasieforum bekroon jaarliks korporatiewe publikasies en Taalgenoot is in 2020 vir die derde jaar agtereenvolgens as die beste interne tydskrif aangewys. Taalgenoot het ook met die pryse vir beste skryfwerk, beste opskrifte en die Loretta Steyn-toekenning vir beste publikasievoorblad weggestap.

Die beoordelaars is dit eens dat Taalgenoot reeds vir die afgelope paar jaar die gehalte bepaal waaraan interne tydskrifte gemeet kan word en dat dié tydskrif jaar ná jaar meesterlike skryfwerk, ontwerp en inhoud aanbied.

“In ’n tyd waarin dit uitdagend is om relevant te wees binne die taal- en kultuurgenre, slaag Taalgenoot daarin om eerlike, inklusiewe leesstof van ’n hoë standaard vir lesers te bied,” meen Smith.

In die jongste uitgawe pronk Tarryn Wyngaard, ’n jong Kaapse aktrise, op die voorblad en gesels oor die uitdagende rolle wat sy al vertolk het. Wyle Christien Barkhuizen le Roux het kort voor haar dood ’n aangrypende artikel vir Taalgenoot oor die droogte in die Klein-Karoo geskryf. Smith het ’n draai by die Bull Run gemaak en nou kan jy ook ’n geleentheid kry om die ATKV-Tienertoneelwenners se monoloë eerstehands te ervaar.

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Lesers kan die tydskrif aanlyn lees of ’n PDF-weergawe aflaai. Klik op een van hierdie skakels om toegang tot die jongste uitgawe te kry: http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.