Taalgebruik: sneeu, kapok

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die verskil in betekenis tussen sneeu en kapok, het gebruikers van Afrikaans die afgelope week op verskeie sosialemediaplatforms aan die praat gehad. ʼn Paar lesers het ook by Maroela Media aangeklop en gevra om ondersoek in te stel.

Dit wil egter voorkom asof daar nie ʼn noemenswaardige verskil in betekenis tussen dié twee woorde is nie. Trouens, kapok en sneeu word in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) as sinonieme gebruik.

Volgens die WAT en die HAT is sneeu die soort neerslag wat uit bevrore waterdamp gevorm word en dan in die vorm van ysvlokkies neerval. Die HAT noem ook dat daar na hierdie ysvlokkies wat uit die lug uit val as ʼn sneeuval, sneeubui of sneeuvlaag verwys kan word.

Kapok word in hierdie konteks as ʼn vlokkige vorm van sneeu beskryf, anders as sneeu wat in kristalvorm voorkom. Daar is ook twee ander betekenisse vir die woord kapok:

  • Die EWA dui aan dat dit die wollerige vrugpluis van sommige tropiese boomsoorte is, wat gebruik kan word om onder meer matrasse en kussings mee te stop.
  • Dit verwys volgens die HAT ook na bome soos die kapokbossie wat kapok, die wollerige pluisies wat rondom die saad is, dra.

Bronne: Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA)  

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.