Woord:
konkoksie
Betekenis:
(soms skadelike) mengsel van verskillende bestanddele: Hy proe versigtig aan die konkoksie. • Noem jy hierdie konkoksie ’n mengeldrankie?
ʼn Konkoksie kan ʼn vloeibare mengsel wees, berei uit verskillende bestanddele, soms van twyfelagtige aard en soms met ʼn geheimsinnige werking, ʼn soort doepa wat iemand dalk gebruik in die hoop dat dit een of ander kwaal sal genees. ʼn Mens kry konkoksies vir maagpyn, hoofpyn, en so meer.
ʼn Konkoksie kan ook ʼn alkoholiese drankie wees wat uit verskillende drankies gemeng is, soms van twyfelagtige of skadelike aard. Of ʼn konkoksie kan ʼn gereg wees wat haastig uit ʼn verskeidenheid bestanddele saamgeflans is.
Figuurlik kan die betekenis van die woord konkoksie uitgebrei word om te verwys na enige saak wat uit verskillende dele saamgestel is. Die vergadering was ʼn konkoksie van verskillende partye uit die landbou, die musiekwêreld, die onderwyswêreld, en so meer.
Waar kom dit vandaan?
Uit Latyn concoquere wat “saamkook” beteken.
Bron: Die tale wat ons praat