Tel jou woorde – Die juffrou wil ʼn antwoord hê

Argieffoto (Foto: Activedia, Pixabay)

Ek ontvang heelwat navrae by VivA van leerders (en hulle gefrustreerde ouers) oor skoolwerk. Van hulle stuur vir my formele en beleefde e-posse, netjies taalversorg en reg geformateer. Ander skiet sulke bondige WhatsApps na my foon toe wat sommer so vibreer van moerigheid. Ander bel my en vra (met hulle maters al giggelend in die agtergrond) of daar ʼn verskil tussen “gaatjie” en “gatjie” is. (Die arme kinders dink die Taaltannie gaan ontstig raak deur anatomiese verwysings en weet nie sy het ʼn trop taalvaardige tienerseuns oorleef nie.)

Dis belangrik dat jong taalgebruikers vra en dis ewe belangrik dat ʼn mens oorwoë antwoord – dit is immers ʼn hele nuwe geslag Afrikaanssprekendes wat behoorlik gelei moet word in korrekte gebruik van die taal. Daarom maak ek erns met navrae, al giggel hulle in die agtergrond. Volgende keer as hulle hulle lugtyd mors, sal dit hopelik vir ʼn goeie rede wees.

Die een kwessie wat die meeste in my inmandjie beland, is die liewe versamelname. Kinders moet dit aanleer, soos wat hulle idiome, intensiewe vorme, voorsetselkollokasies, afkortings en alle ander vaste bousels in die taal moet aanleer. Ja, hulle moet nuwighede ook maak, maar hulle moet die bestaande taalskatte ken en korrek kan aanwend. Maar daar is ʼn probleem met versamelname: Daar is, lyk dit my, ʼn “uitvangmentaliteit” onder sommige onderwysers, want hulle is nie tevrede daarmee om bekende versamelname vir hulle leerders te leer nie, hulle wil met nuwes vorendag kom. En dan moet die Taaltannie raai wat dit is wat die onderwyser wou gehad het.

So word ek een aand laat deur ʼn bitter knorrige ma gekonfronteer met “Wat is die versamelnaam vir skilpaaie?” Ek soek. Ek vra kollegas. Almal grawe in obskure bronne en boeke waarvan die blaaie vol bruin spikkels is. Nee, niks. Ons kan vorendag kom met ʼn “broeisel” vir die kleintjies, maar niks vir die volwasse diere nie.

Ek kry snuf in die neus. Is hierdie vraag dalk net so uit ʼn Engelse vraestel oorgeneem, sonder dat die opsteller gaan seker maak het daar is ʼn ooreenstemmende Afrikaanse term? Sowaar – ek kry ʼn “creep of tortoises” en ʼn “bale of turtles”. (ʼn “Tortoise” leef op land en ʼn “turtle” in die water. Waterskilpad of seeskilpad, dus.) My snuf word ʼn vermoede en my vermoede verhard tot sekerheid: Ons het hier met ʼn vraag te doen wat nooit gestel moes gewees het nie.

Maar ek wonder oor die herkoms van hierdie twee woorde – “creep” en “bale” – want dis darem baie vreemd, selfs vir Ingels, en ek gaan krap rond op die internet. Kom ek op dié interessanthede af:

“Herpetologie” (Engels “herpetology”) is die studie van amfibieë en reptiele. Wikipedia dui aan dat die woord afgelei is van die Griekse woord “herpein” wat beteken “to creep”. Is dit dalk die oorsprong van die Engelse versamelnaam?

Maar daar is nog ʼn interessanter verklaring op ʼn taalgroep deur ʼn gebruiker wat vir ʼn maatskappy gewerk het wat vroeërjare skilpadvleis aan koningin Victoria se hofhouding gelewer het (onder andere vir die skilpadsop wat by haar kroningsbanket bedien is). Hierdie vleis is verkry hoofsaaklik op en om die Galapagos-eilande, waar die skilpaaie op ʼn hoop gejaag en dan afgemaai is. Vandaar die “creep” vir die landskilpaaie.

Die waterskilpaaie is met nette en harpoene in die see gevang. Aan boord is die diere in “bales” verpak, styf vasgedraai in nette totdat hulle by markte in Billingsgate en Lower Thames Street in Londen verkoop kon word. Daar was ʼn bedryfstandaard vir die verskillende soorte – sê nou maar 4 leerskilpaaie in ʼn “bale” teenoor 6 groenes in ʼn “bale”. Groot geld vir die bemanning as die diere lewend by hulle bestemming aangekom het. Groot fees indien die skilpaaie tydens die vangslag beseer is.

Dis ʼn aaklige geskiedenis wat natuurkundiges, natuurbewaarders en gewone saghartiges vandag met afgryse vervul en sommer die harnas injaag ook. Maar dit was ʼn ander tyd en ʼn ander land en ʼn ander taal en die versamelname het op dié tyd in dié plek in dié taal sin gemaak.

Wat nie sin maak nie, is dat daar ʼn versamelnaam vir skilpaaie in Afrikaans moet wees. Want ons het nou wragtig nie skeepvragte vol skilpaaie na Viktoor (soos my patriotiese oupa haar genoem het) se paleis toe aangery nie en ons het hulle ook nie op ʼn hoop gejaag en by ʼn aanleg op Paardeneiland in blikkies ingemaak nie. Hier by ons loop die goed wild in die veld en so nou en dan sou iemand se oom ʼn asbak van ʼn dop gemaak het wat hy iewers onder ʼn kameeldoring opgetel het. Afrikaanssprekendes ken skilpaaie as alleenlopers en het nie vir hulle ʼn versamelnaam gegee nie.

Ek sê so vir die navraer. Maar nee, die ma is kwaad en die kind moet deurkom en die juffrou wil ʼn antwoord hê. “Daar is nie een nie” behaag haar nie. Daarom kom ons vorendag met ʼn “kolonie” skilpaaie, net om die saak te beredder. Want “kolonie” werk omtrent vir alles, sê die WAT: meerkatte, vinke, rooimiere, paddavisse, slange, varings, mosse, heide, bloublasies, bakterieë, misdadigers en melaatses. Ons maak ʼn versamelnaam, knoei taal, ketter en dwaal natuurkundig, bring onheil oor skilpaaie en oortree omtrent elke reël vir taalnormering, want dis laat en almal is moerig en die juffrou wil ʼn antwoord hê.

Onthou dus maar volgende keer as iemand jou vra wat die versamelnaam vir enigiets is, of dit nou skilpaaie of skaapwagters, predikante of perdediewe, staatsamptenare of minnesangers, taalpraktisyns of onderwysers is: Die antwoord is altyd en onder alle omstandighede “kolonie”.

Want die juffrou wou mos ʼn antwoord gehad het.

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Elitha Peachey ·

Beste Sophia,
Baie dankie vir die baie interessante en vermaaklike leersame opsomming van die versamelnaam vir skilpaaie – ek het dit vreeslik geniet!
Ons het self een keer tydens ‘n gesprek by so ‘n doodloop straat gekom toe ons van ‘n “rampokker” praat om iemand in die gemeenskap te beskryf. Een van die lede in die groep wou toe weet wat die vroulike vorm so wees van ‘n “rampokker”? Na ‘n hele paar voorstelle en “ehm” en “ahs”… was die beste voorstel tussen ons : “Seker ‘n ooipokker?!”
Wel, ek is nie seker of dit in die WAT aanvaar sal word nie, maar ek kan jou belowe die voorstel het ons ure se plesier verskaf nog lank daarna, want … die juffrou wou toe ook mos ‘n antwoord gehad het!

wilma ·

Interessantheidshalwe, wat was die “korrekte” versamelnaam vir skilpaaie wat die onderwyser toe wou hoor?

Adoons ·

Net ‘n vinnige opmerking oor die Engelse benaming vir die verskillende spesies skilpaaie: ‘n gewone landskilpad is ‘n ‘tortoise’, ‘n varswaterskilpad ‘n ‘terrapin’ en ‘n seeskilpad ‘n ‘turtle’. Dis nou in Suid-Afrikaanse Engels. Die Amerikaners het natuurlik hul eie stel reëls en, vermoed ek, gebruik maar gewoonlik die benaming ‘turtle’ vir enige ding met ‘n dop (behalwe ‘n slak, natuurlik!).

Helesti ·

Hoe gereeld sien mens in elk geval meer as een skilpad op ‘n slag om ‘n versamelnaam te regverdig :-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.