Tel jou woorde – Kleinletterchristene

Argieffoto (Foto: DariuszSankowski, Pixabay)

Kry anderdag ‘n oproep van ‘n ontstoke VivA-gebruiker: Kan ek asseblief (op ‘n VivA-briefhoof – hy wil ‘n logo op sy ammunisie hê) ‘n brief skryf wat hy aan sy plaaslike koerant kan stuur oor hulle foutiewe gebruik van die kleinletter by die woord “christen”. Dis nie die eerste keer dat hy dit sien nie; dis vandat hulle daardie nuwe redakteur aangestel het wat Sondae gaan bier drink wanneer die res van die gemeenskap kerk toe gaan. Die klein veerpoot weet van God en sy gebod niks, en hy is doelbewus disrespekvol teenoor Christene/christene. Tyd dat die mannetjie vasgevat word.

Ongelukkig kon ek die oom nie help nie. Die AWS stel dit baie duidelik dat afleidings van eiename (soos “Christen/christen” wat afgelei is van “Christus”) met ‘n hoof- of kleinletter gespel kan word. Dit is reël 9.18 en so lyk hy in sy onverdunde, oorspronklike volledigheid:  Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van eiename (uitgesonderd multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met ʼn koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings) kan met ʼn hoofletter of ʼn kleinletter begin. Die skryfwyse met die hoofletter is ‘n wisselvorm. Nie ek, VivA of die AWS kan hom in sy woede ondersteun nie.

Wat meer is, hierdie reël is baie lankal ‘n reël, dis nie in die onlangse (rooi) uitgawe vir die eerste keer so beskryf nie. Die oom kan dus ook nie beweer die huidige Taalkommissie het geknoei en die taal gaan verfomfaai om die agnostiese redakteurtjie te ondersteun nie. Die toentertydse Taalkommissie wat die reël geformuleer het, het ook nie geknoei nie, want geen Taalkommissie het nog ooit reëls uit hulle duime gesuig nie – reëls word vasgestel op grond van werklike taalgebruik soos wat dit in die taalgemeenskap voorkom, nie soos wat die Taalkommissie dink dit behoort te werk nie. Die reëls weerspieël gewoon wat aan die gang is, en wat in die taal aan die gang is, is dat die afleidings van eiename met ‘n hoof of ‘n kleinletter gespel word.

Ek het die oom met praktiese voorbeelde probeer koudlei: Hoe skryf hy ‘n woord soos “Hertzogiet/hertzogiet”? Met ‘n hoofletter, seg hy. En “Marxis/marxis”? Ook met ‘n hoofletter, hou hy vol. En as hy dié afleiding in ‘n sin sou gebruik soos “Daardie redakteurtjie is ‘n regte Marxis/marxis”? Sou hy dit dan ook met ‘n hoofletter skryf? Daar is ‘n oomblik se huiwering. Ja, seg die oom, hy sou. Maar ek vermoed hy sê ja, want hy weet as hy nee sê, gaan hy die argument verloor.

Die punt is, daar is sommige afleidings van eiename wat ons gemaklik met ‘n kleinletter skryf. As jy byvoorbeeld na daardie dralende koormurmerasies verwys waarna ‘n mens net luister as jou kanarie dood is, gaan jy nie sommer skryf dis “Gregoriaanse” koorsang nie; dis gemaklik “gregoriaanse” koorsang. Jy sal ook maklik skryf ‘n storie het ‘n “danteske” inslag of iemand wat homself soggens in die spieël soen, is ‘n “narcissis”. Daardie woorde is almal van persoonseiename afgelei, en die kleinletter daar pla nie. Trouens, min mense wat ek ken, gaan na laasgenoemde selfliefhebber as ‘n “Narcissis” verwys. Ek vermoed baie mense gaan die hoofletter in daardie geval as foutief beskou. Dit is nie – die reël sê dis ‘n wisselvorm – maar gebruiksfrekwensie leun sterk oor na die kleinlettervorm.

Wat in die werklikheid gebeur, is dat die wisselvorme by hierdie soort afgeleide woorde nie by ‘n bepaalde voorbeeld voorkom nie (ons wissel nie tussen “Narcissis/narcissis” nie), die wisseling kom voor in die kategorie self. Ons skryf sommige afleidings (soos “Christen”) makliker met ‘n hoofletter en ander (soos “narcissis”) makliker met ‘n kleinletter. En dis presies wat die reël sê – skryf jou woorde soos wat jy dit wil skryf – maar die oom wil woorde kan kies waarvoor die reël nie geld nie. Reëls werk nie so nie. Reëls geld vir die hele taalgemeenskap, nie net vir een persoon nie.

Hoekom pla dit die oom dan dat ‘n mens “christen” kan skryf? Want die oom maak dieselfde fout as wat baie taalgebruikers maak – hulle dink die hoofletter hou verband met eerbied. Hy wil “Christen” skryf, want hy wil sy eerbied daardeur teenoor Christus betoon. Dis nie ‘n hoofletter se werk nie. ‘n Hoofletter se werk is (in hierdie geval) om die eienaam te merk. “Christus” word met ‘n hoofletter gespel, want dit tree as eienaam op. (Eintlik is “Christus” nie ‘n eienaam nie, die eienaam is “Jesus”; “Christus” kom uit die Hebreeus en beteken “gesalfde”, maar goed, dis ‘n ander blog.) Dieselfde reël (AWS 9.3) geld vir ander eiename: Narcissus, Hertzog, Karl Marx, Ali Baba, Boeddha, Marilyn Monroe, Vladimir Lenin, Adolf Hitler, Albert Schweitzer, Buzz Lightyear en Johann Sebastian Bach se name word almal met hoofletters geskryf, ongeag wat ons van hulle dink en hoe ons oor hulle voel. Dis die eienaam wat die hoofletter noodsaak, nie eerbied nie.

Op dieselfde manier het eerbied niks te make met die afleidings van eiename nie. Ons skryf hierdie afleidings met ‘n hoof- of kleinletter na gelang van hoe “naby” ons dink hierdie woorde aan die eiename is. As “Christen” vir jou naby aan “Christus” is, skryf dit gerus met ‘n hoofletter. As “narcissis” vir jou min met “Narcissus” te doen het, skryf dit gerus met ‘n kleinletter. Maar dis nie die Taalkommissie se werk om te bepaal hoe naby of hoe ver afleidings van eiename aan die eienaam vir individuele taalgebruikers is nie. Die Taalkommissie kan net sê daar is afstand en taalgebruikers kan self kies hoe hulle dit wil hanteer.

Onthou ook dat ‘n koerant (en ander ondernemings) dikwels ‘n stylgids het waarin daar aangedui word hoe sulke wisselvorme hanteer word – hulle besluit op een vorm en hou dan deurlopend in alle tekste daarby sodat daar nie in hulle publikasies tussen die twee vorme rondgespring word nie. Kan jy jou die konsternasie voorstel as die koerant sou skryf oor die “hertzogiete” en die “Malaniete” al is albei reg? In my familie sou dit ‘n skeuring oor ‘n Sondagmiddagetenstafel veroorsaak het. Eenvormigheid het ‘n doel, ‘n funksie en ‘n plek en dis die redakteur se werk om toe te sien dat dit toegepas word, al drink hy bier op ‘n Sondag.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Die Taalkommissie is nie die skeppers van Afrikaans nie, maar die hoeders daarvan. En die kommissie se hogere poste het gevolg nadat Afrikaans met bloed en sweet en ‘n lang stryd tot stand gekom het. Nie andersom nie. Arrogansie is ‘n lelike Afrikaanse woord.

Pierre ·

Vul maar jou verbeelding as dit by kersfees kom of enige mens gemaakte fees dae

http://www.lasttrumpetministries.org/tracts/tract4.html

Kersfees, Jesus en Christus vandaan? Kyk mooi!

So Yahusha is English for the Hebrew name of the Messiah (anointed King of Israel) and Jesus is the name of the Greek “good man” or Chistos. It is that simple. But what does “Iesous” mean in Greek. It has no meaning in Hebrew; as it is not a Hebrew word. In Greek, “Iesous” literally translated means “Hail Zeus”. The name “Jesus” didn’t even exist until the 4th Century and was a later derivative of the late Latin Isus.

“It is known that the Greek name endings with sus, seus, and sous were attached by the Greeks to names and geographical areas as means to give honor to their supreme deity, Zeus.”

“Hundreds of years, mankind has been calling the Saviour by the wrong name!! It’s hard to give up the name of Jesus because it’s so deeply ingrained in us and much has been said and done in that name

“In the 1611 KJ New Testament the name Yahusha appeared originally wherever the Messiah was spoken of. Yahusha means “Yahuah is Salvation”. Later the Messiah’s name was replaced with Iesus which later in the 1600’s it became Jesus starting with the new English letter “J” which was introduced at that time. Further, the Greek “Iesus” comes from the name Zeus, the ruling God in the Greek pantheon.”

John ·

Daar is navorsers wat aanvoer dat die Griekse
antieke verhale oor gode en hul bomenslike kragte die geskiedenis van die Israeliete en Moses ea se geskrifte naboots en steel… Verhale is destyds mondelings oorgedra en aangepas. Die gebeure rondom Christus het sedert sy geboorte ook aanklank gevind in ander gelowe beweer sekere navorsers soos bv in die Moslemgeloof sedert 700nC tydens en na Mohammed se lewe en dood en dat hy bv ook soos Christus op presies dieselfde plek na die hemel sou opgevaar het.

Henry ·

Baie dankie vir die korrekte, en objektiewe waarhede wat u bydraes kenmerk en ons oor die fynere punte van ons geliefde taal se geskrewe vorm inlig.

Dit is van groot nut en waarde vir enige siel wat graag die geskrewe woord op korrekte wyse wil gebruik. Ontdaan van dwepende temerasies wat alewig en ongevraagd ‘n siel grensloos kan verveel.
:-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.