Tel jou woorde: ʼn Vergiettes is koel

Vergiettes (Argieffoto, malinbatmastar/Pixabay)

Staan vanaand en kosmaak. Die student is by en ek sê: “Gee asseblief vir my die vergiettes aan.” Stilte. Beweginglose stilte. “Wat is ʼn vergiettes?” vra hy. Ek verduidelik hoe dit lyk, en die ligte gaan aan. “Ooooo, ʼn colander! Nou hoekom sê jy nie dis wat jy wil hê nie? Dis mos baie makliker om die een woord te gebruik wat almal ken.” (Die meisie is Engels, en dié kook lekker. En hy help haar, want hy wil nog indruk maak, dié dat hy weet van ʼn colander.)

Nou kyk, die student eet net pasta. Hy eet al pasta vandat hy sy twee tandvleise teen mekaar kon skuur, en ek dreineer pasta al in ʼn vergiettes vandat ek dit in my ma se huis leer kook het. As my eie kind nie weet wat ʼn vergiettes is nie, is dit niemand se skuld buiten myne nie.

Wat nie my skuld is nie, is die feit dat ek as onkoel, onwaardig en onintelligent geëtiketteer word omdat ek twee woorde ken in plaas van een. Omdat ek in my kombuis vir ‘n vergiettes vra, en dan met agterdog bejeën word omdat ek weet hoe om my eie taal te beheers. Ek leef in ʼn wêreld, en skielik in ʼn huis ook, waar dom en oningelig aantrekliker is as intelligent en kundig. In hierdie geval sal ek die oortreder vergewe, want hy is my kind, maar hy is ook ʼn produk van die tydsgees. En die tydsgees het hom geleer dat hy mag neersien op iemand wat meer weet as hy. Dis nie ʼn leemte of ʼn skande as jy nie ʼn ding weet nie, jy vertel net vir die kundige hoe onkoel hý is, dan is die Kaap Hollands en niemand het nodig om sleg te voel of om iets by te leer nie.

Ek vertel dié storie (ten koste van my kind en van myself) omdat dit ʼn ding is wat ek in die onderwys opgemerk het, en wat my baie erg verontrus: Dis vir my al asof middelmatigheid die nuwe standaard geword het. Dit het my die eerste keer opgeval toe ek ʼn onderwysersimposium bygewoon het om ʼn oorsig oor die nuwe AWS te gee, en meer as een Huistaalonderwyser vir my gesê het “die kinders sal nooit hierdie reëls snap nie”. Een het selfs ewe snedig, en hard genoeg dat ek hom kon hoor, vir ʼn kollega gefluister-sê: “Jy kan hoor hierdie koekie het nie ʼn kloe wat in ʼn klas aangaan nie.” Die feit dat ek nie daar was om die reëls vir die kinders te leer nie, maar vir hóm en dat hý veronderstel was om die reëls te snap omdat die onderwyser darem seker in staat moet wees om slim kinders se vrae oor taalkwessies te beantwoord, het nie vir hom saakgemaak nie. Middelmatigheid is sy leuse, sy lewensuitkyk en sy doelwit, en hy gaan nie meer gee as dit nie, want intelligensie is onkoel.

So ʼn maand of drie gelede sit ek deur ʼn onhoudbaar vervelige vergadering wat deur ʼn amptelike owerheid gereël is. Nie die onderwysdepartement self nie, maar daar is amptenare wat namens die onderwysdepartement kom praat. Een van hulle is pas terug van ʼn besoek aan Amerika en verkondig met ʼn lig in sy oë die nuwe evangelie wat hy daar gehoor het: “No child should be left behind.” Dis lofwaardig, en in ʼn Eerste Wêreldland soos die VSA ʼn baie edel filosofie. Maar wat is die implikasies vir ʼn land soos Suid-Afrika as ons die stadigste leerders in die klas gebruik om die tempo te bepaal waarteen ons kinders leer? Wat word van die intelligente kinders, die uitblinkers en die weetgieriges, wat vooruit moet loop omdat hulle die nuwe geslag digters en denkers en akademici en filosowe moet word? Hoekom moet hulle leer intelligensie is onkoel?

Dis nie net in SA waar dit ʼn kwessie is nie. Verlede naweek is die wenner van die Carnegie-medalje vir Engelse kinderliteratuur aangewys. Geraldine McCaughrean het hierdie jaar die gesogte prys verower, en in haar toespraak het sy teen hierdie selfde ding gewaarsku. Daar is by Britse uitgewers, sê sy, ʼn verbete aandrang op toeganklike prosa vir jong lesers. In so ʼn mate dat van haar manuskripte afgekeur is omdat sy woorde in die teks gebruik het wat kinders (volgens die uitgewers) nie sou verstaan nie. McCaughrean was dronkgeslaan oor dié redenasie: Natuurlik ken kinders nie alle woorde nie, maar dis dan juis hoekom hulle lees – om nuwe woorde te leer. Haar grootste beswaar teen dié verlaging van leesstandaarde is egter die vervlakking wat dit in die hele samelewing meebring. Sulke onuitdagende leesstof kweek “an underclass of citizens with a small but functional vocabulary: easy to manipulate and lacking in the means to reason their way out of subjugation,” sê sy (aangehaal in The Guardian van 08/07/2018).

Ek het daardie onmag vanaand in my huis gesien. Daardie klein, beweginglose stilte waarvan ek aan die begin gepraat het – dis onmag. Dis onvermoë wat van ʼn gelyke ʼn ondergeskikte maak. Dis onkunde wat van ʼn genoot ʼn onderworpene maak.

Moenie my verkeerd verstaan nie: Ek het dit nie hier teen onderwysers nie, ek het dit teen die stelsel wat van onderwysers verwag om middelmatigheid as die standaard voor te hou. Teen kinders self wat hierdie middelmatigheid as hulle lewensfilosofie aangeneem het, en owerhede wat dink as hulle die stadige kinders by die middelmatige klomp laat byhou het, het hulle hulle goed van hulle taak gekwyt.

Middelmatigheid is nie ʼn onderwyser se werk nie. ʼn Onderwyser se werk is om die wêreld vir jong siele soos ʼn ryp granaat oop te breek en te sê: Kom vier fees. Om kennis en kundigheid en vaardigheid en intellektuele nuuskierigheid voor te hou as ʼn deug. Om te sê daar is ʼn hele, grote wêreld wat ontdek moet word, wat ontwikkel moet word, wat ontgin moet word. Leer. Leer baie. Leer meer as ek. Wees briljant. Skep ʼn beter wêreld as die een waarin ons nou leef. Help ons om te groei. Kom haal vir ons, hier by die plek waar ons onvermoë vir ons vashou, en trek ons ʼn beter toekoms binne. Middelmatigheid kan dit nie doen nie, middelmatigheid kan net ploeter. Ons het intelligensie nodig, want intelligensie is koel. Intelligensie is warm en aantreklik en interessant en opwindend en skeppend en boeiend en sexy en bevrydend en vernuwend en baie, baie koel.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Paul ·

Ja, die nuwe AWS het ‘n paar goggas en vreemdhede in wat nie vir my Afrikaans is nie, ons leen dit maar seker, ewenwel, dit laat my gril. Ek bly net eenvoudig weg daarvan.

E.K. die eerste ·

Dankie Sophia – om middelmatig te wil wees is vir MY onkoel!

Netta ·

Sophia noem dat die onderwysstelsel ons as onderwysers pootjie. Op die oomblik kniehalter ouers en gesinne se onderlinge vetes en gevegte voor hul kinders my om hul kinders te leer. Ek lap siele en gemoedere en probeer kinders net aanmekaar hou, dus moet die basiese onderrig maar deug, plek vir begeleiding tot hoogste hoogtes is buite die kwessie. Afwesige pa’s, wat nie onderhoud wil betaal nie, en op die manier veroorsaak dat daar nie eers vir die basiese voorsiening is nie, beitel verder weg aan enige fondasie wat ons probeer lê. Miskien verstaan jy nou die onderwyseres se opmerking beter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.