Tel jou woorde – Watter soort blink is jou medalje?

Argieffoto (Foto: AxxLC, Pixabay)

Dis weer dáárdie tyd van die jaar: Oorwerkte en oorwroegte skoolpersoneel moet jaarblaaie saamstel en bepaal watter bloedjie welke prys gekry het, want trotse ouers moet darem aan die einde van die jaar die blad kan oopslaan om vir Ouma en Oupa te wys wat hulle nasate alles vermag het. Daarom het ek die afgelope klompie weke meer as een navraag gehad oor die skryfwyse van die medaljes wat sportsterre by die atletiek verower het, en die sertifikate wat die kunstiges by die eisteddfod opgeraap het. Is dit nou ʼn “silwermedalje” of ʼn “silwer medalje”? En wat maak ʼn mens met die kinders wat iets gouds gekry het? Is dit ʼn “goudmedalje”, ʼn “gouemedalje” of ʼn “goue medalje”? Woordeboeke se raad is nie eenvormig nie, en die verwarring kring wyd.

Die skryfwyse van hierdie soort byvoeglike naamwoorde wat kleur aandui (in die taalkunde bekend as “kleuradjektiewe”) word in reël 15.29 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls bereël. Vir die twyfelaars is dit goeie raad om die hele reël behoorlik deur te werk en na die voorbeeldmateriaal te kyk wat by die reël gegee word.

Intussen is hier ʼn paar wenke:

  • Kleuradjektiewe word los geskryf. Daarom skryf ons “rooi ballon”, “groen lig”, “rooi pen”, “blou oë”.
  • Sommige woorde kan in bepaalde kontekste ʼn kleur aandui en in ander ʼn ding of ʼn stof. Dit is woorde soos “appelkoos”, “olyf”, “kakie”, “brons”, “silwer”, “goud” en “kobalt”. Dit is byvoorbeeld moontlik om te skryf ʼn man dra ʼn “appelkoos hemp” of jou ouma kook “appelkooskonfyt”, en taalgebruikers gaan onmiddellik begryp dat dit in die eerste verwysing gaan oor die kleur en in die tweede oor die vrug. Die manier waarop ons dit in die skrifbeeld aandui, is om die kleuraanduider (soos in “appelkoos serp”) los te skryf, en die naamwoord plus naamwoord (“appelkooskonfyt”) vas te skryf. Hierdie onderskeid word in AWS 15.29 (a) bereël, en dis onder hierdie bepaling wat die sertifikate en die medaljes ressorteer. As die medalje wat die kind gekry het bronskleurig is, kry die kind ʼn “brons medalje” – die spelling volg die reël vir enige ander kleuradjektief. As die medalje van brons gemaak is, kry die kind ʼn “bronsmedalje” – die spelling volg die reël vir samestellings met massanaamwoorde. As jy dus die byskrifte in die jaarblad skryf, hoef jy net te weet waar die skool die medaljes aangekoop het en hoeveel dit gekos het. (My raaiskoot gaan wees dat al die medaljes wat toegeken is, “brons medaljes” is. Min skole het ʼn begroting vir “bronsmedaljes”.)
  • Die uitskieter hier is “goue”, want dit word los geskryf. Die rede daarvoor is gewoon dat die woord verbuig het. Ongeag of dit ʼn kleur of ʼn stof is, is “goue medalje” altyd twee aparte woorde. Dit is natuurlik moontlik om die woord in sy onverboë vorm in ʼn samestelling te gebruik (soos “goudstandaard” en “goudaandele”), en dan het ons uiteraard met die grondstof te make. Net ʼn voetnoot: Die WAT het ʼn inskrywing vir “goudsertifikaat”. Dit het niks te doen met ʼn sertifikaat wat prestasie aandui nie, dis ʼn sertifikaat wat deur die Reserwebank uitgereik is om met die oorgang op die goudstandaard die waarde van ʼn bepaalde hoeveelheid goud te verteenwoordig. Dit is dus nie korrek om “goudsertifikaat” te gebruik vir die dokument wat kinders by prysuitdelings kry nie, al staan die woord in ʼn woordeboek.
  • Die onderskeid tussen kleur en grondstof kan dalk verduister raak as ʼn mens hierdie woorde gebruik om aan ʼn kategorie ʼn bepaalde waarde toe te ken. Sê nou maar die skool reël ʼn gholfdag en daar is kategorieë waarin ondersteuners kan deelneem wat as platinum, goud, silwer, ens. aangedui word. Dit gaan in hierdie geval nie oor die kleur nie. ʼn Deelnemer wat baie geld gee en dan die status van platinum verwerf, word nie in ʼn kleurkategorie geplaas nie, die persoon neem deel in ʼn kategorie wat die waarde van die grondstof platinum het. Daarom is hy of sy ʼn “platinumdeelnemer” wat in die “platinumkategorie” ingeskryf het.

Drie laaste opmerkings oor kleuradjektiewe, wat nie direk op die sertifikate en medaljes van toepassing is nie, maar wat verwarring veroorsaak as ʼn mens net die inligting hier bo tot jou beskikking het:

  • In sommige gevalle ondergaan die kleuradjektief en die soortnaamwoord wat saam met die adjektief optree betekenisverdigting (die twee woorde benoem saam ʼn hele nuwe ding) en dan word so ʼn betekenisverdigte woord vas geskryf. Hierdie saak word in AWS 15.32 bereël. Voorbeelde van woorde wat betekenisverdigting ondergaan het, is “geelperske” (ʼn soort perske, soos Oom Sarels as jy gelukkig genoeg is om dit in die hande te kry) teenoor “geel perske” (enige perske wat geel is); “blouoog” (die gevolg van ʼn bakleiery) teenoor “blou oog” (ʼn oog met ʼn blou iris); “groenrissie” (die vrug van ʼn bepaalde plant, ook bekend as ʼn “groen soetrissie”) teenoor “groen rissie” (enige rissie wat nie ryp is nie). In gevalle soos hierdie is dit maklik om die betekenisverdigting te herken. Maar daar is gevalle soos “groenvye” x “groen vye”, “witmielies” x “wit mielies” en “rooiwyn” x “rooi wyn” waar die onderskeid nie so duidelik is nie. Die goue reël om toe te pas wanneer jy met ʼn nuwe geval gekonfronteer word, is: As jy nie ʼn beduidende saak daarvoor kan uitmaak dat die vaste vorm heeltemal iets anders as die los vorm beteken nie, is jou saak vir betekenisverdigting skraal en dan skryf jy die kleuradjektief los. Daarom skryf jy liewer “wit sjokolade” en “pienk port” al wil jy kan sê dis ʼn soort – jy kan steeds nie aandui dat daar ʼn beduidende betekenisverskil tussen die vaste en los vorm is nie. Let ook op gevalle soos “groen lig” (waar dit gaan oor toestemming vir ʼn nuwe idee of plan), “rooi tapyt” (vir die uittrapsessie) en “rooi pen” (die ding wat ʼn onderwyser of teksredakteur inlê): Die feit dat die lig, die tapyt en die pen in die laaste drie voorbeelde figuurlik is, beteken nie daar het betekenisverdigting plaasgevind nie. Die lig is steeds groen al is die lig figuurlik. Dieselfde geld die tapyt en die pen: Die kleuradjektiewe is los.
  • Kleuradjektiewe wat ras aandui, is net los: “wit mense”, “bruin gesin”, “swart leerders”. Hierdie saak kan groot onmin veroorsaak, en die Taalkommissie moes hier met groot omsigtigheid optree. Die besluit was uiteindelik om streng taalkundig te werk te gaan sodat ʼn mens nie in emosie en sentiment verstrengel raak nie. Daar is in die verlede onderskei tussen “wit mense” (mense wat nie in die son kom nie) en “witmense” (mense wat tot ʼn bepaalde ras behoort), maar die probleem is dat ons nooit sal skryf “*bruingesin” of “*swartleerders” nie. Een van die grondbeginsels van ons spelsisteem is eenvormigheid, en as ons aanvaar dat ons “bruin” en “swart” los skryf as ons na ras verwys, moet ons “wit” ook los skryf as ons na ras verwys. Enigiets anders is taalkundig ʼn dwaling en ʼn oortreding van die grondbeginsel van eenvormigheid, wat beteken dat ons die taal self geweld aandoen as ons sulke bepalers vas skryf.
  • Kleuradjektiewe wat deel uitmaak van gewone plant- en diername tree nie noodwendig volgens die reëls op nie. Baie van hierdie name is dekades of eeue gelede al toegeken, en die gevestigde naam kry voorkeur bo moderne spelreëls, bv.: “rooivink”, “witstinkhout”, “bloukopkoggelmander”, “geelslang”, “bontsebra”. Dieselfde beginsel tree in werking by die name van siektes soos “geelkoors” en “swartwater”.

Mag dit jou help om koers te hou, en mag jy aan die einde van jou jaarboekjaar ‘n goue ster waardig wees.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.