[Tel jou woorde] ‘Woorde is oorgehaalde pistole’ – Jean-Paul Sartre

Argieffoto (Foto: Ashish_Choudhary, Pixabay)

Maandag en Dinsdag moet ek ʼn vergadering in Stellenbosch bywoon. Dit is, soos altyd, ʼn voorreg om dié historiese dorp te besoek en gewaardeerde vriende en kollegas weer te sien, maar die gemoedere is hierdie keer donker. ʼn Nabykind van ʼn kollega in taalkringe is die naweek vantevore hier dood. Eers verinneweer en toe vermoor. Koelbloedig. Vir ʼn onsinnige ding soos ʼn ou rammelkas. As ʼn ma van ʼn studentekind, breek en breek en breek my hart vir die ouers en familie van dié mooie meisiekind wat in die media moet lees watter alleraaklige laaste oomblikke sy moes deurmaak.

Haar storie is afgryslik, maar dit is, helaas, nie uniek nie.

2017 was nie ʼn goeie jaar vir vroue nie: Hulle was om al die verkeerde redes in die nuus. ʼn Mens kan omtrent nie meer ʼn nuusblad oopmaak nie, dan loop jy jou in die afskuwelikheid daarvan vas: moord, aanranding, verwoesting, verplettering. Ten spyte van al die oproepe en veldtogte om die beëindiging van geweld teen vroue en kinders, is dié gruwel net aan die toeneem. Saam daarmee, die koelbloedigheid waarmee die aanvalle plaasvind.

Dié soort geweld is werklik ewekansig. As ʼn mens sommer lukraak begin name uitsoek op ʼn lys vroueslagoffers, is dit duidelik dat daar nie ʼn tipiese profiel is nie. Al wat hulle gemeen het, is hulle gender. En hulle lot:

  • Nicola Pienaar (28), vermoor en in ʼn vlak graf begrawe (Paarl, Januarie 2017)
  • Priska Schalk (29), geboei en doodgesteek (Kempton Park, Februarie 2017)
  • Karabo Mokoena (22), ʼn student, wat vol suur gegooi is voor sy genecklace is (Johannesburg, April 2017)
  • Popi Qwabe (24), geskiet en gelos dat sy kan doodbloei (Soweto, Mei 2017)
  • Bongeka Phungula (28), ʼn vriendin van Popi, geskiet en verkrag (Soweto, Mei 2017)
  • Courtney Pieters (3), verkrag en vermoor (Elsiesrivier, Mei 2017)
  • Mavis Mabala (25), vermoor en in die bosse weggegooi (Polokwane, Mei 2017)
  • Hannah Cornelius (21), student, verkrag en vermoor (Stellenbosch, Mei 2017)

Hulle was uiteenlopend, dié klompie. Hulle het mekaar nie geken nie en niks gedeel nie. Niks wat hulle wel gehad het, kon hulle beskerm – nie hulle velkleur, ouderdom, agtergrond, sosiale stand, inkomste of voorkoms nie. Maar hulle het almal in hulle laaste, weerloosste oomblikke dieselfde sielsverskeurende vrees ervaar. En uiteindelik is hulle almal, soos rommel, deur hulle aanvallers weggesmyt.

Ek besef goed vroue is nie die enigste slagoffers van geweld in hierdie land nie. Dinsdagaand het ek net-net die laaste Gautrain van die lughawe af Centurion toe gehaal, en die Uber-bestuurder wat my van die stasie af moet huis toe neem het my by ʼn agterste voetgangerhek in ʼn donker systraat opgelaai. Toe hy wegtrek, gewaar hy ʼn figuur op die sypaadjie en hy druk my kop onder die paneelbord in terwyl hy vetgee. “I’m sorry, ma’am,” maak hy verleë verskoning, “but it really is not safe for us around the station.” Hy is net so blootgestel as enigiemand anders. Sy vrees is net so reëel. Die koeëls waarvoor hy moet koes, net so dodelik.

Die verskil is dat vroue bloot op grond van biologie teikens is.

As ʼn mens na die WHO se statistiek kyk, is dit onrusbarend om te sien dat een uit elke twee Suid-Afrikaanse vroue gedurende hulle leeftyd op een of ander wyse aan gendergeweld blootgestel sal wees. Dink mooi oor daardie getal: Dit is ʼn kwart van die bevolking. En daardie slagoffers gaan feitlik deur die bank daarvan verdink of openlik beskuldig word dat hulle op een of ander manier aan hulle lot aandadig was.

En dit is presies op dié punt dat ek by die saak betrokke raak. Ten nouste. Want nou gaan dit nie net meer oor die geweld nie, nou gaan dit oor die woorde. Woorde wat die geweld aanwakker, toelaat en toesmeer. Woorde wat ʼn samelewing breinspoel om te dink dat gendergeweld deel mag wees van ons daaglikse handel en wandel: Walglike woorde wat niks anders is nie as verbale geweld, wat deur studente op plakkate by byeenkomste rondgeswaai word omdat dit deel geword het van ʼn bepaalde studentekultuur. Ander woorde wat dié optrede regverdig en goedpraat. Soos “net ʼn grap”, “deel van die gees”, “tradisie”, “maar almal doen dit”, “ag al weer ʼn klomp bekoeklike PK’s wat niemand vreugde gun nie”. Nog woorde wat van die slagoffer van gendermisdaad die oortreder maak: “wat het sy daardie tyd van die aand daar gesoek?”, “wat het sy gedink gaan gebeur as sy so aantrek?”, “ja, maar hoeveel het sy gedrink?”, “ja, maar kyk saam met wie was sy daar”. Asof daar iets is wat ʼn mens kan dink, doen, drink of aantrek wat ʼn uitnodiging vir verkragting of moord kan wees.

In die Washington, DC-museum oor die Joodse Volksmoord is daar ʼn aangrypende aanhaling van een van die oorlewendes, Elie Wiesel, onteenseglik een van die grootste geeste van die moderne eeu. Hy skryf: “Most people think that shadows follow, precede or surround beings or objects. The truth is that they also surround words, ideas, desires, deeds, impulses and memories.” Ons mag nie meer dink dat dit wat ons sê, of nie sê nie, geen skadu gooi nie. Die uitwerking van ons woorde is ontsaglik en onontkombaar. Want woorde word denke, en denke word dade, en as ons nie bereid is om ons woorde te tel nie, is die skadu’s naderhand groter as die lig.

Daar is onmeetbare krag in dit wat ons verwoord, in die taal wat ons toelaat, in die narratief wat ons deur middel van taal in ons samelewing laat ontvou. Dis geen wonder dat die leermeesters van feitlik elke religie gewaarsku het teen die mag en misbruik van woorde nie: Ons is wat ons dink, sê die Boeddha. Alles wat ons is, kom uit ons denke, en daarmee maak ons die wêreld. Die profeet Mohammed het sommer reguit gesê die meeste van ons sondes is aan ons tonge te wyte. En Christus self (Matteus 15:18) leer vir ons: “Wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak.”

Laat ons dan nooit vergeet dat skadu’s nie hulleself maak nie. Laat ons weeg aan wat ons die wêreld instuur. Want ons is, met alles wat ons sê, aan die bou aan die samelewing waarin ons leef. En ons kan nie ons vroue en vriendinne, ons susters en ons dogters langer so blootstel aan die donkerte nie.

Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Belaglik ·

Weet jy wat is die ERGSTE, dit is die verste wat die goed kom, ‘n naam op ‘n stuk papier, STATISTIEK. Almal praat en doen niks. Almal vertel hoe hulle teen geweld jeens vrouens en kinders gaan optree en as jy weer sien word hulle self aangekla van geweld/verkragting van ‘n vrou. Almal njap njap en niks gebeur daadwerkliks om vrouens of kinders teen aanvalle of verkragting of moord te beskerm nie. Ek dink ons het in elk geval nie helfte van die REGTE statistieke nie, veral nie in townships waar jong dogters elke dag verkragting in die oe staar nie, dit word nie eers aangemeld nie aangesien hulle nie met die stigma wil saamleef nie. GEWELD teen vroue en kinders sal nooit einde kry nie .. almal gil dit van verhoe af, gee vir een ma ‘n huis en vir ‘n ander een ‘n selfoon, en dan moet dit die pyn van die gemeenskap stilmaak? TJOL man . die verkragters word almal op borgtog vrygelaat, en die wat wel gevonnis word dien ‘n paar jaar van hulle vonnisse uit, of dalk glad nie, want die ‘getuies’ verdwyn ook nog voordat die saak afgehandel is. Die REGERING is nie ernstig oor misdaad in die algemeen nie hoekom oor misdaad teen vroue en kinders?

Gemors ·

Oh gosh, nou probeer ons nog religieus ook korrek wees, aanhalings van Boedha, Muhammed en Christus. Geen wonder die land sit in die gemors waarin ons is nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.