Tradisieryke Winterskool vir intredende skrywers weer aangebied

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Die jaarlikse Winterskool van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit is gemik op die slyping van intredende of opkomende skrywers.

In dié weeklange kursus se bestaansgeskiedenis van 34 jaar het dosyne gevestigde en bekroonde skrywers ’n wegspringplek vir hulle skryfloopbane gevind. Onder hulle tel bekende skywersname soos dié van Irma Joubert, Jaco Jacobs, Carina Stander en Chanette Paul – om maar enkeles te noem.

Vanjaar maak die ATKV-Skryfskool weer so. Van 6 – 10 Junie kan dié wat nog altyd wou, eerstehands op die Potchefstroomkampus van die NWU kom uitvind wat ’n stuk kreatiewe skryfwerk werklik góéd maak. Daar kan vir die skep van verhale (romans, kortverhale, memoires, sketse) óf gedigte ingeskryf word.

Bekende, bekroonde skrywers uit albei genres kom dra ervaring en begeestering oor. Andries Buys (Lodewyk G. du Plessis), Zelda Bezuidenhout, Fanie Viljoen en S.J. (Fanie) Naudé kom gesels oor hul skryfwerk, terwyl Bernard Odendaal, Pieter Odendaal en Johan Myburg uiteenlopende fasette van die digkuns belig. Aangaande die skryfproses in die algemeen het Hans du Plessis, veelsydige skrywer en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool, baie ervaring; hy kom deel gedagtes hieroor. Ewe belangrik is die kreatiwiteitwerkswinkel oor nuwe vertelmodusse wat Franci Greyling sal aanbied. Sy is ’n kinder- en jeugboekspesialis en dosent in Skryfkuns aan die NWU.

Net so belangrik as wat die skrywers te sê sal hê, is die raad wat verteenwoordigers van hoofstroomuitgewers (NB-Uitgewers, Protea Boekhuis, LAPA, Naledi) kom gee. Susan Lombard van Maroela Media sal ook weer haar kundigheid oor die verband tussen kreatiewe skryfwerk en die joernalistiek kom oordra.

Die hart van wat die Winterskool bied, bly egter die genrewerkswinkels en die groepsgespreksessies waaraan kursusgangers deelneem. Die elemente waarmee te werk gegaan word in die skep van die twee literatuursoorte kom afsonderlik onder deeglike bespreking, en vind toepassing op kursusgangers se eie skryfwerk in die groepsessies.

In die oggendlange werkswinkel oor die skryf van verhale sal Fanie Viljoen vanjaar die leiding gee, terwyl Bernard Odendaal die werkswinkel oor die skryf van gedigte sal aanbied. Die gesprekke in die groepsessies sal gelei word deur Fanie Viljoen (verhaalkuns) en Pieter Odendaal (digkuns).

Tydens die openingsgeselligheid op Maandagaand 6 Junie gesels Bernard Odendaal met Marlies Taljard (van Versindaba) oor sy digbundel Nootvat. Kwashaal. Stapel., terwyl Kirby van der Merwe tydens die afskeidgeselligheid op Donderdagaand 9 Junie vrae oor sy opspraakwekkende nuwe roman, Eugene, sal beantwoord.

Die Winterskool het ’n trotse tradisie, waarop met geesdrif voortgebou word.

Inskrywing vir vanjaar se geleentheid om, van 6 – 10 Junie op die kampus van die NWU in Potchefstroom, uit te vind hoe ’n mens jou skryfstuk kan verbeter tot moontlike publiseerbaarheid, kos R3 250 per persoon (R4 700 indien bespreekte deelverblyf vir 4 nagte verkies word). Die inskrywing moet naamlik vergesel gaan van ’n kortverhaal of twee gedigte, afhangende van die genre waarvoor gekies word.

Die sluitingsdatum is 27 Mei 2022. Die inskrywingsvorm en meer inligting kan aangevra word by Kobie van Aswegen, te e-posadres [email protected], of telefonies te 018 299 1783. Moet egter nie talm nie, daar is beperkte plek beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.