Van Latynse hoofletters tot Amerikaanse bedsokkies: die storie van ‘cadeau’

Argieffoto (Foto: Kruscha, Pixabay)

Hierdie week se interessante navraag handel oor die woord “cadeau”. Die navraer het gehoor dit beteken “geskenk” en raai dat ons dit uit Nederlands gekry het, maar hy wou weet waar dit oorspronklik vandaan kom. Dit klink so half asof die woord ʼn Franse bloedlyn kan hê …

Die navraer is korrek: Ons kry “cadeau” inderdaad via Nederlands uit Frans. En ja, dit beteken in albei dié tale ook “geskenk”. In Nederlands het dit ʼn fraai verkleiningsvorm “cadeautje”, wat ʼn heerlike woord is om te gebruik vir die soort klein geskenkies wat ʼn mens vir ʼn gasvrou of gasheer saamneem as ʼn mens vir die eerste keer kuier en nog ʼn goeie indruk wil skep. Die Engelse ken ook die woord, en die Romene, en die Dene. Op ʼn Amerikaanse hekelwebblad waar hakers gereeld patrone uitruil, is al die prentjies van “cadeau” gehekelde bedsokkies.

Volgens Wiktionary het die Franse die woord via ʼn Provensaalse dialek, Oudoksitaans (“capdel”), uit Laatlatyn (“capitellum”) gekry. Daar het dit verwys na ʼn hoofletter (ons kry die betekenis steeds in Engels “capital”) of na die beginpunt van ʼn hoofstuk of ʼn kolom in skryfwerk (in Afrikaans het ons dit oorgehou in “kapiteel”, ʼn woord wat verwys na die versierde bokant van ʼn pilaar). Die gebruik was natuurlik om in ou geskrifte die eerste hoofletter van die teks of hoofstuk ryklik te versier, en dis hierdie versierings of ornamentasies wat aanleiding gegee het tot die betekenis van “verfraaiing” of “bykomstigheid”, wat later gelei het tot “geskenk”.

Wat uit ʼn taalhistoriese perspektief uiters interessant is, is waar hierdie woord oral neerslag gevind het, en in watter formaat dit op die onderskeie plekke in die wêreld gebruik word.

Die erkende Afrikaanse spelling vir die woord, is “kado” (kado’s; kado’tjie). Dit is hoe dit in die HAT, WAT en Etimologiewoordeboek opgeteken is, en ʼn mens sou logieserwys kon aflei dat dit gewoon ʼn verafrikaanste spelvorm van die Franse woord is. Maar volgens die Nederlandse taaladviesdiens is hierdie spelling ook in Nederlands aanwesig, hoewel dit slegs in informele skryftaal so aangewend behoort te word. (Lees meer daaroor hier).

Die artikel beweer dat dié informele spelvorm al in die negentiende eeu as informele variant opgeteken is, en die skrywer haal ʼn versie aan wat deur die digter Bernhard van Meurs in 1894 aan die destydse kroonprinses Wilhelmina opgedra is:

Daorum stuurt ze aon stokoud grootje / Oew portretjen as kadootje.

Maar die feit dat ons dit in Afrikaans oorwegend as “kado” ken, laat my wonder of dit nie ʼn ouer verskynsel in Nederlands is nie. Ek kan moontlik reg bewys word deur die voorkoms van “kado” in Indonesies, ʼn taal wat ook deur Nederlandse kolonialisering beïnvloed is, en in Haïtiese Kreool, ʼn taal wat aan die ander kant van die aardbol sy ontstaan gehad het, maar wat ook ʼn klap van die vroeë Hollandse seevaarttaal weg het.

Ek lees al dié goed, en skielik is ek verwonderd. Oor hierdie klein, oënskynlik onbenullige woordjie se vermoë om van antieke geskiedenis tot in die hede te reik, om van die Noorde van Europa tot die suide van Afrika, van die Weste na die Ooste, van die Ou Wêreld na die Nuwe Wêreld te strek. Sommer so ʼn gewone woordjie, wat eintlik nie belangrik moes gewees het nie, maar is, want dit is die woord wat aandui dat ons vir ander mense waardering het. Dat ons uit ons oorvloed deel. Dat ons gasvry en hartlik is, en dat ons omgee.

Mag jy hierdie winter ingaan met ʼn kado. En mag jou voete altyd warm bly.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae