VivA stel gratis aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend

Argieffoto (Foto: DariuszSankowski/ Pixabay)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) stel op 30 September sy nuwe aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend. Die biblioteek is deur VivA ontwikkel en is gratis beskikbaar.

Sophia Kapp, senior taaladviseur by VivA, sê die projek het ontstaan na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns. Onrusbarende statistieke oor die afname van leesvaardighede onder eerstejaarstudente – alles tekens dat jong mense se blootstelling aan die Afrikaanse skrifbeeld aan die kwyn is – het ook ʼn rol in die totstandkoming van die lees-en-luisterbiblioteek gespeel.

Die belangrikheid van goeie leesvermoëns kan nouliks oorbeklemtoon word.

“Jong leerders, en selfs hul ouers, meen dikwels dat die tegnologiese ontwikkelinge wat ons die afgelope 30 jaar beleef het, ons in ʼn digitale eeu plaas waarin lees nie meer ʼn rol speel nie,” sê Kapp. “Intussen is die oorwig inligting wat ons in ʼn digitale omgewing kry, steeds in taal vasgevang.”

Die lees van ʼn teks op ʼn rekenaarskerm in plaas van in ʼn papierboek verg presies dieselfde leesvaardigheid. Leerders wat nie kan lees nie, kan geen vakinhoud behoorlik bemeester nie, want selfs vakke soos wiskunde, musiek, drama en tegnologie vereis van leerders om groot dele van die vakinhoud in die vorm van geskrewe teks te bemeester.

Afgesien van die gewone probleme wat leesonvermoë ʼn jong leerder besorg, is daar sekondêre probleme soos onkunde oor die wêreld waarin ons leef, ʼn gebrekkige woordeskat en uitdrukkingsvermoë, en onkunde oor die verband tussen die klank- en skrifbeeld van ʼn taal. Mense wat nie lees nie, sukkel gewoonlik ook om te spel, omdat hulle nie op ʼn vermaaklike en gemaklike manier die taal se spelpatrone ontdek het nie. En dis hierdie leemte wat die lees-en-luisterbiblioteek beoog om te vul.

Kapp verduidelik dat die tekste in twee groepe verdeel is. Die een groep bevat inhoud vir jong lesers, en die ander een is geskik vir volwasse lesers.

Elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word, tot romans wat net voorgelees word. Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ʼn Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld, en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak.

“Hoewel die nuus oor die projek groot opgewondenheid veroorsaak het, was dit ook verbasend moeilik om tekste daarvoor te kry. Ons het by verskeie uitgewers gaan aanklop om samewerkingsooreenkomste te sluit, maar kopieregwetgewing het ons gefnuik,” erken Kapp. “Die feit dat ons die materiaal gratis beskikbaar stel, het ook ʼn stok in die wiel veroorsaak, want uitgewers moet geld maak om te oorleef.”

Uiteindelik moes VivA op die goedheid van Afrikaanse skrywers staatmaak. Tekste van bekende skrywers Fanie Viljoen, Christien Neser, Francois Bloemhof, Eben Venter, Elsa Winckler, Marion Holm, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Kristel Loots, Peet Venter en Reinette Lombard van Tippie-faam is ontvang en gebruik. Professionele stemkunstenaars soos Marion Holm, Karin Hougaard, Esmarie Yssel en Altus Venables het met stemopnames gehelp.

Soos met al VivA se projekte is die lees-en-luisterbiblioteek ʼn lewende projek wat aangevul word soos wat Afrikaans groei. Kapp spreek die hoop uit dat die biblioteek se leesstof sal gedy en dat taalaanleerders by die inhoud sal baat.

“Ons hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel,” sê Kapp.

Gebruikers moet op VivA se webwerf registreer om toegang tot die platform te verkry. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] om meer oor die lees-en-luisterbiblioteek uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.