Waarom weer ’n bohaai oor moedertaalonderrig?

(Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Deur Ingrid Erlank, redakteur by Afrikaans.com

Dit is Moedertaalmaand en op 21 Februarie vier ons Internasionale Moedertaaldag wat deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ingestel is om te fokus op die belangrikheid van moedertale wêreldwyd. Unesco moedig mense aan en lig mense in oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en lê klem op die bewaring van kultuur en erfenis.

Ons wêreld staan op sy kop. Die gaping tussen die rykes en armes word al groter. Die gevolge van aardverwarming staar ons in die gesig, politici faal ons en die tegnologie tot ons beskikking word in baie gevalle ons grootste vyand. Ons almal probeer net kop bo water hou. Waarom nog teem en kerm oor moedertale en veral moedertaalonderrig?

Teen dié tyd is ons almal deeglik bewus van die oorweldigende resultate van navorsing wat moedertaal aandui as die sleutel tot leersukses, maar ons staar ons blind teen die praktiese uitdagings. Dit is moeilik om toegang te kry tot gehaltemoedertaalonderrig. Die wêreld funksioneer hoofsaaklik in Engels. Tersiêre instellings het boedel oorgegee …

Dit is mos die realiteit. Basta met die navorsing wat aantoon dat jou grondslag in jou moedertaal jou ware potensiaal ontsluit. Basta met die feit dat dit ’n mensereg is om in jou moedertaal te leer. Basta met die feit dat jy Engels en ander tale beter aanleer as jy eers leer lees en skryf in jou moedertaal. Basta met die feit dat ingewikkelde konsepte makliker posvat wanneer jy eers die begrippe in jou moedertaal onder die knie kry. En basta met die feit dat van die suksesvolste, welvarendste en beste lande in die wêreld hul reg op moedertaalonderrig opeis. In lande soos Nederland, Duitsland, Japan en Amerika, wat op die gebied van innovasie, tegnologie en ekonomiese vooruitgang die toon aangee, is moedertaalonderrig nie eens ’n debat nie!

Maar in Suid-Afrika, waar die geletterdheidsvlak daal, waar die standaarde jaarliks verswak en waar die sosio-ekonomiese uitdagings daagliks eskaleer, besef ouers steeds nie dat die pendulum slegs kan swaai wanneer ons ons kinders bemagtig sodat hulle die uitdagings van vandag met innovasie en kreatiwiteit kan aanpak – jongmense wat uitnemendheid na die tafel bring.

Die adjunkminister van basiese onderwys, dr. Regina Mahaule en die minister, Angie Motshekga wens 2019 se toppresteerder, Madeleine Dippenaar, geluk met haar prestasie. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Maak die waarheid jou realiteit

Kyk na die sukses van die 2019-matrieks wat kon skoolgaan in hul moedertaal. Een so ’n voorbeeld is Madelein Dippenaar, Suid-Afrika se topmatrikulant. Sy was bevoorreg om haar hele skoolloopbaan in haar moedertaal te kon voltooi en dit stel haar in staat om sonder skroom (en in Engels!) ’n graad in molekulêre en biotegnologie aan te pak.

Afrikaanse skrywers en joernaliste met ’n stewige grondslag in hul moedertaal kraai koning in die Suid-Afrikaanse niefiksiemark. Entrepreneurs, akteurs en beroepslui wat internasionaal meeding, ervaar uitsonderlike sukses. Kreatief dra mense wat die voorreg van moedertaalonderrig gehad het, by tot ’n lewendige multimiljoenrand-teater-, fees-, boeke- en vermaakbedryf en kommunikeer radio-omroepers vlot (dikwels in meer as een taal) en dui rigting aan op die gebied van joernalistiek.

Wat het hulle almal in gemeen?  Hul moedertaal en ’n stewige fondament gebou op moedertaalonderrig.

“Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal, laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld,” het Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê.

Die prestasie in en deur Afrikaans is seer sekerlik een van die beste voorbeelde van wat die voordele van moedertaalonderrig tot gevolg het.

‘n Muur wat deur Afrikaans.com se muurkunsprojek geverf is (Foto: Afrikaans.com/Facebook)

En as jy steeds bekommerd is oor jou kind se Engelse taalvaardigheid?

Spraakterapeut Christien Neser sê: “Dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie, maar slegs ’n ouer (ma, pa, ouma, oupa) kan vir die kind ’n moedertaal aanleer. Die plastisiteit van kinders se breine gee hulle die unieke voordeel dat hulle taalkodes uit die omgewing kan absorbeer. Die taalkundiges glo: ‘Language is caught, not taught’. Wanneer ouers dus hul moedertaal vir die kind aanleer, verseker hulle dat hy of sy later meertalig gaan wees. Want Engels gaan hy leer praat, kom wat wil.”

Afrikaans.com se leerhulp

Hou gedurende Februarie ons Leer- en onderrighulpblaaie dop vir praktiese hulp in ’n meertalige klaskamer (die konsep van transtaligheid). Ons is voortdurend besig om ons inligting by te werk en jou ingelig te hou oor die jongste verwikkelinge en gebeure op die moedertaalonderrigfront. Ons hou jou ook ingelig oor die werksaamhede van organisasies wat hard werk om moedertaalonderrig behoue te laat bly.

Lees verder:

  • Kry antwoorde op jou kwelvrae hier.
  • Kry die jongste navorsing hier.
  • Wat kan jy doen as moedertaalonderrig (in jou omgewing) nie ’n opsie is nie? Klik hier.
  • Wat is die verband tussen kreatiwiteit en moedertaal? Klik hier.
  • Waarom is meertaligheid belangrik? Klik hier.
  • Kyk hier na video’s waarin uitskieters hul sukses aan moedertaalonderrig toeskryf.
  • Afrikaanse skrywers blink uit in Engels. Klik hier.

Kuier in Afrikaans met Maroela Media se eg Afrikaanse produkte in die Koöperasie. Februarie is die maand waarin jy jou trots vir Afrikaans op die mou kan dra met ʼn Afrikaanse hemp of selfs oor die skouer met ʼn boektas van egte leer. Klik hier om die mooiste Afrikaanse produkte te sien en ondersteun só jou moedertaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus W ·

Eendag, n paar jaar van nou, gaann kind in KwaZulu-Natal gebore word. Hy gaan n direkte nasaat van Shaka wees, maar gaan nie Zoeloe kan leer praat nie.n Kind gaan in die Oos-Kaap gebore word, as nasaat van Nelson Mandela, maar sal nie Xhosa kan leer praat nie. Want hulle ouers het moedertaal versaak vir Swart Ekonomiese Bemagtiging deur Engels. Maar die Afrikaner-kinders wat gebore word in dieselfde hospitale sal nog Afrikaans kan leer praat, want hulle ouers was die ware patriotte, wat geveg het vir die behoud van hul moedertaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.