Wen: Gee gesinstyd woema met dié eg Afrikaanse bordspeletjie

Tel jou woorde is trots Afrikaans. (Foto: Maroela Media)

Kom ons wees eerlik: ʼn Meevaller so nou en dan is nie te versmaai nie. En met Moedertaalmaand wat in Februarie gevier word, is dit juis die ideale geleentheid om Maroela Media-lesers op ʼn eg Afrikaanse manier te trakteer.

Wrintiewaar! Vier lesers kan elk ʼn Tel jou woorde-bordspeletjie wen.

Pertjoema. Pasella. Gratis. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir ʼn gelukkige trekking is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul en die eenvoudige vraag te beantwoord.

Hoe het Tel jou woorde ontstaan?

Maroela Media het in Junie 2020 berig dat Sanet du Toit, ʼn ma van Monumentpark in Pretoria, ʼn paar jaar gelede besluit het om self ʼn Afrikaanse stel van die gewilde woordbouspeletjie Scrabble te maak. Dit volg nadat sy winkels gefynkam het, maar telkens met leë hande moes terugkeer huis toe.

Uit pure moedeloosheid het Sanet destyds besluit om haar eie Afrikaanse stel van dié alombekende bordspeletjie te ontwikkel. Krabbel, soos wat haar weergawe bekendgestaan het, was in ooreenstemming met die oorspronklike weergawe en riglyne.

Sanet het weggespring en sommer self die bordspeletjie by haar huis vervaardig. Soms wanneer daar ʼn klomp bestellings was, het sy haar kinders ingespan om die teëltjies te verpak.

“Die eerste probeerslag was baie primitiewe, handgemaakte teëltjies,” onthou sy. “Ek het toe in 2017 ʼn meer duursame gehalteproduk ontwikkel en vanjaar begin om ook die bord in Afrikaans te maak.”

Kort ná die verskyning van die berig “Ma trek nuwe taalbaadjie vir Scrabble aan” is Sanet oorval met navrae en bestellings. Sy het egter gou besef dat haar konsep en vervaardigingsproses nie volhoubaar is nie.

Geluk bo geluk het die nuus ook vir André Steyn, bemarkingshoof van Spoetnik Bordspeletjies, bereik.

Spoetnik is ʼn maatskappy wat sedert 2015 ʼn verskeidenheid bordspeletjies vervaardig met die doel om gesinne en vriende bymekaar te bring. Hulle fokus veral daarop om die Afrikaanse taal en kultuur aktief te bevorder. Die idee is om skermtyd vir interaksie met ʼn opvoedkundige oogmerk te verruil, sonder om die pret van bord- en kaartspeletjies mis te kyk.

Spoetnik is die verspreider van bekende speletjies soos Boereplaas, TydToer, Patriot Troefkaarte, Die Volgende Stop, Die Groot Trek, Voetspore van Israel en Bogwoordkies.

“Ek onthou dat André my enkele dae later gebel en gesê het: ‘Jy sal nooit hierdie oproep vergeet nie’,” vertel Sanet. André en sy span het voorheen ook beraadslaag oor ʼn Afrikaanse woordbouspeletjie, maar hulle het nie die kundigheid gehad om die gedagte deur te voer nie. Toe Spoetnik van Sanet se speletjie hoor het hulle geweet dit is ʼn gulde geleentheid om aan dié droom vlerke te gee.

“Ons het ná herhaalde navrae van die publiek en kleinhandelaars besef daar is ’n behoefte aan ’n Afrikaanse woordbouspeletjie,” sê André. “Spoetnik werk dikwels saam met plaaslike entrepreneurs en daarom het ons die Du Toit-egpaar, wat heelwat kennis oor woordbouspeletjies het, gekontak en ʼn vennootskap gesluit.”

Sanet en haar man, Callie, het in die daaropvolgende weke ure lank kopgekrap oor ʼn herontwerp en moontlike variasies vir ʼn Afrikaanse woordbouspeletjie. Sy het ook by ʼn prokureur wat in patentreg spesialiseer gaan aanklop om te help met die ontwikkeling van haar produk. Sanet wou seker maak dat die konsep, wat soortgelyk aan die oorspronklike speletjie is, uniek is en nie die intellektuele eiendomsreg van die oorspronklike vervaardigers skend nie.

Só het ʼn splinternuwe, Afrikaanse bordspeletjie, Tel jou woorde, sowat ses weke later die lig gesien.

Tel jou woorde is ʼn unieke Afrikaanse woordboubordspeletjie vir oud en jonk. Met 117 teëltjies en ʼn bord van 17 x 17 blokkies is elke spel anders en van voor af ʼn uitdaging. Die spel is ontwerp vir een tot ses spelers. Spoetnik behartig saam met Du Toit die verspreiding van Tel jou woorde.

ʼn Beperkte aantal speletjies is in ʼn spesiale ‘Grendel’-uitgawe uitgegee. Die eerste een is op 29 Oktober aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin oorhandig.

Van links na regs is André Steyn, bemarkingshoof van Spoetnik Bordspeletjies, Sanet du Toit en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, tydens die oorhandiging van die eerste Tel jou woorde-bordspeletjie (Foto: Verskaf)

“Sanet is ’n taalpionier. Tel jou woorde is wonderlik en presies wat ons vandag nodig het,” het Langer tydens die oorhandiging gesê. “Scrabble het in 1995 laas in Afrikaans verskyn. Sy het as ma nou Afrikaans speel-speel vir almal lekker gemaak.”

Indien jy belangstel om die bordspeletjie self aan te skaf, kontak Sanet du Toit by 083 274 9891 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Jy kan haar ook op Facebook en Instagram volg.

Tel jou woorde is ook beskikbaar by Exclusive Books, Protea Boekhuis, Kraal Uitgewers en die FAK. Dit sal na verwagting van middel Februarie ook by CNA-winkels landwyd beskikbaar wees.

Speel saam

Elke speler kry ʼn beurt om een woord met die sewe teëltjies op sy of haar rakkie te bou. Die speler probeer so veel moontlik punte bymekaar maak deur die meeste te maak van die teëltjies en die ligging van die bonusblokkies op die bord. Die speler met die meeste punte wen natuurlik die ronde.

Die letterverdeling en -waardes is spesifiek vir Afrikaans ontwerp. Bonusblokkies, waarmee letters en woorde verdubbel en verdriedubbel kan word, is strategies geplaas om spelers aan te moedig om die bord tot in die hoeke te benut.

Wees egter gewaarsku dat daar ʼn paar kinkels in die kabel mag opduik:

  • Die Nar-blokkie gee ʼn speler die opsie om enige teëltjie wat reeds op die bord is, in ʼn nuwe woord te gebruik.
  • As jy die 2 x 2 bonusblokkie kan raak bou, mag jy ʼn tweede woord bou wat die 2 x 2 blokkie kruis.
  • Die Lettervreter-blokkie ry dalk jou planne in die wiele, want as jy hom optel, sluk hy die teëltjie op jou rakkie met die hoogste waarde in. Dit laat jou slegs met vyf teëltjies vir die volgende beurt… Moet dus nie te lank aan jou waardevolle teëltjies vasklou nie!
  • Daar is ook variasies op die reëls wat dit moontlik maak vir kinders om op gelyke vlak met volwassenes te kompeteer.

Hoe sterker die teenstanders, hoe meer uitdagend raak die spel. Dit is eenvoudig, maar ook uiters bevredigend.

Baie geluk aan die volgende wenners wat elk ‘n Tel jou woorde-bordspeletjie gewen het: Audrey Abraham, Werner Jacobs, Mincky Stapelberg en Lettie Zwahlen.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 10 Februarie 2021 om 23:45.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna die wenners op e-pos deur Maroela Media gekontak sal word.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner sal die prys verbeur.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Lesers wat inskryf moet in ʼn Suid-Afrikaanse adres verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.