Die Ingrid Jonker-prys is ʼn literêre toekenning wat aan debuut-poësie in Afrikaans of Engels toegeken word en is ingestel ná die dood van Ingrid Jonker in 1965. Dié gesogte prys word jaarliks aan ʼn waardige digter toegeken. Vanjaar het Nathan Trantraal dié prys ontvang vir sy digbundel, Chockers en survivors, wat in 2013, gepubliseer is.
Nathan sê hy het aanvanklik nie eers van dié prys geweet nie en daarom was hy eintlik verbaas om te hoor hy is genomineer. “Toe die nuus by my vriende uitkom, wat regtig ʼn dieper kennis van dié tipe goed het, was hulle baie seker dat ek die prys sou wen.”
Vir dié digter, gaan Chokers en survivors, soos wat hy dit noem, oor “klein humiliations en victories in die lewens van arm mense.” Nathan wou iets skryf wat afwyk van wat gesien word as digkuns. “Dit het baie gegaan daaroor om te bewys dat jy lewe op die Cape Flats kan vasvang in die taal waarin dit gelewe word en dat dit steeds iets mooi kan wees. Om te bewys dat Kaaps ʼn ryk taal is en dat arm lewens ryk subject matter is. Die taal self is ʼn groot tema vir my.”
Chokers en survivors is Nathan se eerste probeerslag in die digkuns en hy sê hy is nou eers oortuig, na die skryf van sy jongste digbundel, dat hy wel kan dig. Sy nuutste bundel is nog nie gepubliseer nie. “Ek het regtig maar net eendag gaan sit en skryf en toe ek een gedig geskryf het, toe glo ek ek moet nog kan skryf. Dit was êrens naby die einde van 2012.”
En sy skryfproses? Nathan sê hy skryf elke dag. “Soms voel ek inspired en dis regtig ʼn beautiful gevoel, want dan kan ek skryf sonder om te weet wat ek volgende wil sê. Dis asof die woorde uitloop uit ʼn pen wat lek. Ander tye is dit soos om te skryf met ʼn pen sonder ink. Jy skud heeltyd die hand wat skryf, al sien jy die pen is leeg. Dis hoekom jy elke dag skryf. Inspirasie is soos payday, dit kom net elke einde van die maand. “
Nathan sê mens moet jou siel kan leegmaak en jou gedagtes uit die pad kry as jy gedigte wil skryf.” Jou eie gedagtes staan net in die pad. Dit begin by ʼn woord wat in my kop sal pop en as ek dit toelaat, sal die woord haarself unravel vir my totdat dit ʼn sin is, dan twee en dan ʼn gedig. Skryf is vir my iets persoonlik, ek skryf vir myself selfs as ek oor ander mense en dinge skryf.”
Ôs sit allien oppie bankie,
my broe is gou weg ma nie vi lankie.
Ôs het heeldag gesit en praat
maa ôs hettie hie oo gepraatie
en ekkittie hie oo gedinkie.
Ôs het nette gedrai rondom mekaa
maa ek herrittie soe bedoelie
en ekkittie vi jou soe gesien nie
en nou êrens in my kop
hette orchestra ’n symphony begin speel.
Daa isse electric current rondom ôs
ennit trek ôs na mekaa toe.
Ek praat aneen maa ek dinkie
jy kannie hoo wat ek sê nie
wan jy sit net en smile
en biewe binnetoe en ek wiet wat
ek vi jou wil sê, wat ek wil sê is
moenie beweegie en moenie praatie
wan as jy nou beweeg
en as jy nou jou mon oepmaak
gannie hele wêreld ytmekaa yt val.
© Nathan Trantraal (Uit: Chokers en survivors, 2013: Kelwa Boeke)
Gedig oorspronklik gepubliseer op Versindaba.