Spys en drank

Renata Coetzee

Die ontstaan van die Afrikaanse kultuur en kookkuns gedurende die 17de en 18de eeu, met resepte van tradisionele geregte

Fynproewers word van tyd tot tyd deur die ou Kaapse kookkuns, soos dit vandag nog beoefen word, geïnspireer om die ontstaan van tradisionele geregte vas te stel. So iemand is Renata Coetzee, wat haar geruime tyd daarop toegelê het om die oorsprong en ontwikkeling van die Kaapse kookkuns na te spoor. Die vrug van haar onvermoeide navorsing word hiermee te boek gestel.

Spys en drank bied ‘n helder etenstydbeeld uit ‘n belangrike tydperk in ons geskiedenis van 1652 tot aan die einde van die 18de eeu. Die metodes en dissipline wat Renata Coetzee as dieetkundige en tydens haar studies vir die M.Sc.-graad in huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel het, het haar in staat gestel om die onderlinge verband tussen die kulturele agtergrond, eetgewoontes en gesellige verkeer van die Kaaps-Hollandse gemeenskap met insig te benader.

Die publikasie behandel outydse resepte in alledaagse taal en die inhoudsmate van die bestanddele in eietydse begrippe met behoud van die oorspronklike karakter en kenmerkende aroma daarvan.

Hierdie nuttige werk bied genotvolle leesstof vir elke Suid-Afrikaner wat in sy verlede belangstel, asook vir die vreemdeling wat nader kennis wil maak met die outydse kombuis. Die boek is ryk aan die romantiek van die 17de en 18de eeuse kookkuns.

Oor die skrywer:
Renata Coetzee is ‘n navorser van formaat. Sy het onlangs ‘n eredoktorsgraad ontvang van die Noordwes Universiteit vir haar dekades lange navorsing oor die eetkultuur van die inheemse mense van Suid-Afrika. Boeke wat uit haar navorsing gespruit het is onder meer Funa Food from Africa – Roots of African Food Culture en Koekemakranka: Khoi-Khoin-Kultuurgoed en Kom-Kuier-Kos (uitgegee deur LAPA) wat gedurende 2010 bekroon is met ‘n Gourmand Wêreld-Kookboekprys.

Uitgewer: Lapa
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Spys en drank is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek www.lapa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.