Raadslid Mondli Gungubele, die burgemeester van die Ekurhuleni-munisipaliteit, hou Sondag ʼn publieke vergadering om die elektrisiteitprobleem in Alberton te bespreek.
Sam Modiba, die munisipaliteit se senior kommunikasiebeampte, het kort na Maroela Media se berig vroeër vandag bekend gemaak dat die vergadering Sondag om 17:00 by die Alberton Burgersentrum langs Alwyn Taljaardtweg gaan plaasvind.
Dit volg nadat Alberton-Noord, Florentia, New Rudith, South Crest en Alberton se sentrale sakegebied sedert Woensdag sonder kragtoevoer is. Skakelaars by die Truidaweg-substasie het glo uitgebrand nadat dit onlangs deur donderweer raakgeslaan is.
Zweli Dlamini, die burgemeesterskomitee se woordvoerder, het om verskoning gevra vir die ongerief. “Die burgemeester verstaan die erns van die saak en het daarvolgens die saak ʼn prioriteit gemaak. Hy het ook die openbare vergadering gereël om die inligting eerstehands aan die inwoners oor te dra.”
Modiba het verder gesê tegnici werk onverpoosd om die kragtoevoer na die gebiede wat geraak word, te herstel. Dit sal na verwagting twee dae neem om reg te maak.