Die Nasionale Loteryraad het Dinsdag gerugte ontken dat hy nie die vervaardigers van ʼn opera oor Nelson Mandela se lewe, betaal het nie.
Maroela Media het vroeër berig Madiba, the African Opera, het slegs drie vertonings in die Staatsteater in Pretoria gehad voordat dit gekanselleer is. “Dit is as gevolg van ʼn nie-betaling deur die Lotto,” het Unathi Mtirara, vervaardiger van die opera en een van Mandela se kleinneefs, gesê. “Ons wag nog vir hulle om te betaal. Ons kon nie voortgaan terwyl die saak nog nie afgehandel is nie.”
Sershan Naidoo van die Lotto het egter Dinsdag bevestig die betaling is gedoen. “Ons het die betaling gister [Maandag] gedoen,” het Naidoo gesê. “ʼn E-pos is op 26 Mei aan die organiseerders gestuur om te bevestig dat die betaling dieselfde dag nog gemaak sal word. Die loteryraad is dus besorg oor mediaberigte dat die opera weens nie-betaling gekanselleer moes word.”
Naidoo het gesê ʼn bedrag van R2.86 miljoen is Maandag betaal.
“Die oorspronklike aansoek was vir R11.8 miljoen en die lotery het ʼn toelaag van R2.86 miljoen, twee dae voor die première van die opera, goedgekeur,” het Naidoo bygevoeg. Hy sê die raad kon nie die hele bedrag finansier nie, weens ʼn beperkte begroting. Die raad se begroting vir finansiering aan welsyn, sport, ontspanning, kultuur, kuns, erfenis en die omgewing beloop R2 miljard per jaar.
Die opera sou eers in Suid-Afrika wys voordat dit in die buiteland sou toer.
Die Staatsteater het bevestig dat die vertonings gekanselleer is, maar wou nie besonderhede oor die privaat produksie verskaf nie. -SAPA
Iemand het iewers ‘n vet partytjie gepleeg met my swaar verdiende loto geld! Ai, Mnr Mandela draai in sy graf om en om. :)