Nuuskommentaar: Murphy’s law vir Richard Mdluli

Foto: globalpost.com

Foto: globalpost.com

Vir die beskermling van pres. Jacob Zuma, die geskorste misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, was dit gister ‘n letterlike geval van “Murphy’s law” toe regter John Murphy beslis het dat die terugtrekking van kriminele klagte teen die goue seun onregmatig was, en dat met die vervolging voortgegaan moet word.

Hoewel die feitebasis van die Mdluli-geval en die terugtrekking van kriminele aanklagte teen Zuma heelwat verskil, is daar op die beginselvlak soveel ooreenkomste dat hierdie saak tog as ‘n spieëlbeeld is van wat met Zuma kan gebeur as die reg toegelaat word om sy onafhanklike verloop te neem.

Daar sal dus minstens sielkundige druk op die pas-aangstelde direkteur van Openbare Vervolging Mxolisi Nxasana wees om die geloofwaardigheid van die Nasionale Vervolgingsgesag te herstel. En daar is baie skade om te ontdaan, want die Mdluli-saak is boonop ten nouste verweef met die Glynnis Breytenbach-sage.

Gister se uitspraak is tegelyk ‘n riem onder die hart vir die land se grondwetlikheid, maar ook ‘n stekie in die lies van die grondwet wat leemtes gelaat het waarbinne sake so liederlik kon ontspoor.

In die finale instansie bestaan die gevaar dat daar vanuit die ANC nog groter transformasiedruk op die howe en regstelsel kan wees om die howe so ver te kry, om soos die ANC dit stel, getransrormeerde uitsprake te maak.

Die aanstelling van hoofregter Mogoeng Mogoeng en van sy openbare uitsprake oor transformasie laat ware juriste behoorlik ril. Maar die laer word deeglik om hom getrek.

Teen dié agtergrond is die uitspraak van regter Murphy ‘n bastion, en tensy die staat weer as vertragingstaktiek appelleer, behoort dit ‘n rits interessante prosesse aan die gang te sit.

Selfs in nie-grondwetlike demokrasieë geld die beginsel van die skeiding van die uitvoerende, wetgewende en regterlike gesag, en die onafhanklikheid van die regbank. In ‘n grondwetlike demokrasie behoort dit so verskans te wees dat daar nie vrae hieroor behoort te wees nie.

Die grondwet veronderstel dat die president, wanneer hy aanstellings maak van hoë ampte wat werklik onafhanklik moet wees, soos die hoofregter, die hoof van die OVK, die Openbare Beskermer, die direkteur van Openbare Vervolging en ander, daardie konvensie baie suiwer nagestreef sal word. Tog het dit bewysbaar minstens soms nie gebeur nie, soos die howe se tersydestelling van die aanstelling van ‘n vorige direkteur van die nasionale vervolginsgesag, Menzi Simelane. ‘n Leemte in die grondwet is hierop ingespan om van ‘n waarnemende hoof gebruik te maak, wat ook ‘n draai deur die howe gaan maak het, en die president gedwing het om dié praktyk kort te knip.

‘n Finale kwessie is dat die uitspraak ook sleg op die beleërde polisiehoof, Riyah Phiyega reflekteer. Onlangs is berig dat sy beplan om die hele breekspul oor Mdluli tot ‘n punt te bring deur hom as hoof van misdaadintelligensie in ere te herstel. Dié voorneme, wat sy nie ontken het nie, is ook deur die hofuitspraak nek omgedraai.

Mdluli behoort nou sy dag in die hof te kry. As hy werklik onskuldig is, sal hy die geleentheid nou met ope arms verwelkom, en sy naam skoon kry, en nie teen gister se uitspraak appelleer nie.

Die onlangse onthullings dat baie lede van die polisie oor kriminele rekords beskik – sommige baie ernstige misdaad en soms baie senior offisiere, het die polisie se beeld as wetstoepasser geknyp. Juis daarom is dit baie belangrik dat die hoof van misdaadintelligensie se lei silwerskoon sal wees, en sonder ‘n hofsaak en ongetransformeerde uitspraak is dit nie meer moontlik nie. Daaroor hang daar net te veel donker wolkies oor die koppe van diegene wat besluit het om die probleme te “make it go away” om so ‘n geloofwaardige skoon lei op te dis. Ook hulle kan baat by die afloop van ‘n hofsaak wat toon dat hul besluit die korrekte was.

Die land is ‘n groot dankie verskuldig aan gister se “Murphy’s law.”

In wese is dit baie hartseer dat so so die kreeftegang moes gaan dat die hofsaak enigsins nodig moes wees. Vandag se nuuskommentaar, volgens internasionale gewigte en impak op Suid-Afrika, behoort die afloop van die Duitse verkiesing en die segetog van die Duitsers se ystervrou, Angela Merkel te wees. Maar die klein jakkalsies het plaaslik soveel skade aangerig dat die heropbouproses die werklike groot nuus verdring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gawie Botha ·

,,,,,,sal maar net moet wag en sien,,hoe sterk “Murphy’s Law” werklik is in die regstelsel van Suid Afrika!

Erich Goosen ·

Goed gebalanseerde berig wat die tragiese agteruitgaan van ons regstelsel duidelik illustreer. Weer eens die klassieke geval waar ‘n staatshoof oor wie daar ‘n kleed van omstredenheid hang, sy voortbestaan probeer verseker deur mense in sleutelposte aan te stel wat nie daar hoort nie en bloot daar is omdat hul poppe is wat dans na die deuntjie van hul baas. Transformasie wat op die gebruik geskoei is, transformeer nie maar laat ‘n land in agteruitgang verval.

H J Bester ·

Erich, jy slaan die spyker op die kop. Die onrusbarende ding wat tans juis in Suid-Afrika onder die ANC-bewind aan’t gebeure is, is juis die stelselmatige en doelbewuste aftakeling van die regstelsel wat veronderstel is om outonoom te wees. Die ANC-regering het dit egter reeds tot so ‘n mate binnegesypel en en vir sy eie gewin gemanipuleer dat dit amper nie meer moontlik is om dit te suiwer nie. Die rede voor-die-hand-liggende saak – om Zuma en van sy naaste trawante uit die hof en die tronk te hou vir al hul toegesmeerde oortredings. Die sogenaamde “snoer” -wet is deel van die proses om alles sover moontlik dig te hou.

akram ·

Wel as daar oit iets van sal kom , gaan die goue roete gevolg word….. mediese parool. daai 2 goue woorde….

Danie van Zyl ·

Die voorbeeld wat deur Number One gegee word kring deur na onder en verkrag regverdigheid wat veronderstel is om te seevier

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.