Brief: Hoor hoe raas die stilte…

Audrey Bierman.

Audrey Bierman van Orkney skryf: 

Liewe Afrikaanse kunstenaars,

Ja, ek sê liewe, want meeste van julle is geliefd. Nie deur almal nie, maar steeds voel ek dat daar vir elke genre ‘n plekkie onder die son is.

Dis egter hier waar my huidige probleem begin, by almal se plekkie in die son.

Die Afrikaanse musiekbedryf is nie ‘n maklike een nie. Met die moderne tegnologie en webwerwe wat daarop uit is om die kos uit kunstenaars se monde te haal, kan ek verstaan dat die bedryf besonder kompeterend is. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is dat baie kunstenaars blykbaar nie besef dat hulle grootliks die ambassadeurs is wat ons taal (wat elke dag op soveel vlakke aangeval word) moet beskerm en moet help bevorder nie.

Wat gebeur as mense vir jou vertel wat jy mag sing en wat nie? Wat gebeur met ons as publiek as die magte in beheer vir ons begin vertel waarna ons mag luister en wat nie? Wat word van ‘n land of ‘n volk as hul vryheid van spraak van hulle weggeneem word? Ons vat jou taal, ons vat jou keuses en ons vat dít wat van jou maak wie jy is. Ons vat jou identiteit, jou geskiedenis, ons misken jou tot daar van jou niks oorbly, behalwe ‘n vae herinnering van verhale wat eens deur die ouer mense oorgedra is. Soos hulle afsterf, sterf ook alles wat van jou ‘n Afrikaner maak…

Kunstenaarkollega, Steve Hofmeyr, het dit op homself geneem om hierdie tradisies, herinneringe en volkskatte te bewaar, want dis wie hy is. Hy het, net soos elke ander kunstenaar, ‘n platform wat ons as publiek nie het nie. My eerste vraag is egter: Hoekom is jy ‘n kunstenaar in hierdie land? Is dit vir jou net nog ‘n beroep? Doen jy dit vir die roem? Of is daar iewers binne jou ook ‘n begeerte om jou talent in jou taal en aan jou mense oor te dra op só ’n manier dat jy nie net jou talent ontwikkel nie, maar ook iets van waarde aan die mense kan nalaat? Dié mense wat soms, as gevolg van hul alledaagse probleme, smag na ‘n bietjie hoop, iets mooi en ja, selfs om deur jul kuns te kan droom oor dae met mooier en beter horisonne.

Deur op te staan en dit kwyt te raak wat die meeste van ons alledaagse mense sonder platforms elke dag dink, het Steve vir homself die gramskap van die ringkoppe van groot organisasies op die hals gehaal. Hy is geboikot, sleggesê en beswadder deur al wat ‘n liberaal, kunsteraad en hoofstroommedia is. Hulle verlekker hulle daarin om te sien hoe daar van sy konserte gekanselleer word, maar dis al wat hulle kan doen, want hulle het nie rekening gehou met die mense op die grond se lojaliteit en nasietrots nie. Terwyl die organisasies skree: “Kruisig hom!”, nooi die publiek hom weekliks met vol vertonings in hul dorpe en harte in.

Steve Hofmeyr. Foto: Facebook

Ek is bevrees dat daar ‘n groot keerpunt gekom het met die Ghoema-toekennings vroeër vanjaar.  Skape en bokke is in kampe verdeel. Sommige kunstenaars het in solidariteit gestaan met hul kollegas Steve, Bobby, Bok, Jay en Ruhan. Ander het absoluut ‘n saak gehad met die feit dat een organisasie nie net namens die kunstenaars besluit wat gehoor mag word nie, maar sommer ook vir die publiek besluit wat vir hulle aanvaarbaar behoort te wees.

Ek het egter slegte nuus vir Bobby, Bok, Jay en Ruhan. Maar ek is seker Ruhan besef dit ook reeds. Net soos Steve al jare lank geboikot word, word Ruhan ná dese ook onder daardie kam geskeer. Sy liedjie word geboikot op verskeie radiostasies vanweë ʼn kru woord. Die organisasies het namens ons as publiek besluit dat daardie woord absoluut onaanvaarbaar is, maar dat ander liedjies, soos “Souserig”, heeltemal aanvaarbaar is, selfs vir kinders, ten spyte van die suggestiewe aard daarvan.

Jammer Snotkop, dis net ‘n voorbeeld.

My vraag aan elke kunstenaar ná hierdie hele lang relaas is: Hoe lank voordat jy gesê word hoe jy jou talent mag aanwend? Hoe lank voordat jy geboikot word omdat jy op die een of ander organisasie met ‘n agenda se tone getrap het?

Terwyl ek en ‘n vriendin sit en gesels, wonder ek waarom nie een enkele kunstenaar al opgestaan het en vir Steve dankie gesê het, dat hy van die Afrikaans is Groot se Kaapstad-vertonings onttrek het nie? Is die ander kunstenaars werklik so bang of so arrogant dat hulle dink dis hulle reg?

Net soos wat politici nooit moet vergeet wie eintlik hul salaris betaal nie, behoort kunstenaars ook nie te vergeet wie die mense is wat hulle dra nie. Moet ook nooit so groot word in jou eie klein wêreld dat jy voel jy is onaantasbaar nie.

Ek sal nie my asem ophou nie, maar ek hoop tog dat ek iewers ‘n antwoord sal lees dat een of meer kunstenaar sal opstaan en sê, dankie kollega, dat jy aan ons ook gedink het.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ag nee rerig

Hierdi landji van ons!! Hou asb politiek en musiek uitmekaar. Word n politikus as jy wil, of sing as jy wil. Moet asb ni di 2 meng… dit bring verdeeldheid in iets wat meeste net vir ontspanning wil gebruik. Ek wil musiek hoor – sonder om aan politiek te dink. Ons leef moeilik genoeg – musiek is juis ontvlugting! Ek wil na n musiekkonsert gaan om te geniet. As ek na n politieke vergadering wou gaan, sou ek. Di 2 moenie meng nie! Dis vandat dit gemeng word wat als bietjie suid gaan. Die sangers – hulle sing eerstens om… Lees meer »

Tilly

Om mee te begin, wil ek DANKIE se vir die berig.

Afrikaners se so maklik die regering en die land sleg, maar sodra daar iemand is wat wil opstaan vir ons (Steve), dan het hulle baie om te se, vir daardie mense wil ek net se, word tog wakker.

Ek bly vir n land tyd nie meer in SA nie, maar het wel nog my familie en friende daar en ek ondersteun alles wat sekere Afrikaanse mense probeer doen vir ons as n volk.

Bella

Steve staan vir sy eie mense. Van die ander Afrikaanse sangers verkoop hulle siele vir geld. Hulle sal saam met wie ookal optree as dit hulle sakke kan vol maak.
Ons word so vertrap en verneder en tog vat ons dit.
Ek staan by die sangers wat by my en ons mense staan.

Jerry

Audrey, jy skryf so mooi en dan eweskielik vind jy regverdiging uit jou mooi skrywe om die ander kunstenaars te dreig wie net kunstenaars wil wees en niks met Steve en sy politieke aktivisme uit te waai wil he nie. Bo en behalwe dit wat jy reken wat Steve vir musiek in afrikaans beteken het, seker nog beteken, leef jy egter in ontkenning van die skade van n verskerpte aanslag deur die linkse liberales, n aanslag wat Steve se politieke uitsprake en uitlokking tot boikotte en uitsluiting oor die afrikaner en kunstenaars gebring het. Seer sekerlik is jy tog seker… Lees meer »

EAN

Inderdaad roep die stilte! ‘n Vragie? Is die kunste in al sy vorme tog nie ‘n Profeet van die realiteit nie? Liedere/gedigte/dramas/kuns sketse ens probeer tog die huidige omstandighede interpreter vanuit die besondere kunstenaar se eie skeppingsvermoeë. Ons kan ongelukkig nie ons leef wêreld in kompartemente leef nie-alles vorm ‘n geheel. Dankie Steve en ander, wat dit so demonstreer en leef. Vir die ander – Julle stilte roep uit!!!