Die ander kant van die saak: Swart onderwys en 16 Junie 1976

Die Soweto-jeugopstande in 1976 Foto: SAHistory.org.za

Die Soweto-jeugopstande in 1976 Foto: SAHistory.org.za

Deur AJ Jacobs

Dit is hierdie week die 40ste herdenking van die Soweto-jeugopstand en die media gaan weer vol berigte oor daardie tydperk wees. Die Suid-Afrika van 2016 is ʼn ander wêreld as dié waarin ons in 1976 geleef het. Daarom sal jong mense met reg wonder wat op aarde die destydse regering besiel het om minderwaardige onderwys aan swart kinders te gee, en dit nogal in Afrikaans! Daarom is die doel van my skrywe om die ander kant van die saak te stel, nie om te verdedig nie, maar om te verduidelik. Hierdeur wil ek help verhoed dat die 1976-gebeure as ʼn stok misbruik word om die Afrikaanse jong mense van 2016 tot Engelse onderwys te slaan.

Die huidige LUR van onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi, het onlangs met negatiwiteit na die minderwaardige swart onderwys van die Verwoerd-era verwys. Myns insiens bestaan daar onkundigheid en moedswil oor wat in dié tydgleuf gebeur het. Ek self het by geleentheid ook voor hierdie vrae te staan gekom en toe ondersoek gaan doen oor wat die posisie was en wat gebeur het met suksesse en mislukkings wat daarop gevolg het.

Om vas te stel wat gebeur het, het ek ʼn tyd gelede ʼn gesprek met dr. Koot Greyling hieroor gaan voer. Dr. Greyling was ʼn sendeling in die Oos-Kaap en kon Xhosa vlot praat. Dr. Verwoerd het hom as hoof van die nuwe departement van swart onderwys aangestel, omdat hy met swart mense in hul eie taal kon praat. Daar was nie algemene onderwys vir swart mense voordat die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem het nie, en dr. Verwoerd was die eerste om massa swart onderwys te begin. Wat hierop volg is mededelings soos aan my oorgedra tydens ons ontmoeting.

Behuisingsprogram

Dr. Verwoerd het tydens sy tydperk as minister van wat destyds “naturelle sake” genoem is, ʼn groot behuisingsprogram vir swart mense van stapel gestuur. Dit het nodig geword vanweë die geweldige verstedeliking van swart mense in daardie tydperk. Dit was toe een van die grootste staatsbehuisingskemas ter wêreld. Daar is sowat 1 miljoen huise vir swarte mense in drie jaar gebou, van ʼn standaard wat baie beter was as die huidige HOP-huise. Dit is gedoen in ʼn tydperk toe daar baie minder swart mense in die stede as vandag was en met ʼn baie kleiner ekonomie en belastingbasis. Tydens hierdie oefening is daar gevind dat baie min swart mense in staat was om ʼn aansoekvorm vir ʼn huis in te vul – hulle was ongeletterd. Die rede is dat daar veral tydens die oorlogsjare baie min deur die vorige regering van premier Jan Smuts vir swart onderwys gedoen is. Die oorlogsmasjien het bykans alle fondse opgeslurp en die staatskuld het boonop ook vinnig toegeneem. ʼn Klein minderheid swart mense het by sendingskole onderwys gekry voordat dr. Verwoerd met algemene swart onderwys begin het.

Teenstand

Dr. Verwoerd het swart onderwys as belangrik gesien omdat hy gemeen het dat goed opgeleide swart mense nodig was om die swart stede en tuislande te laat ontwikkel volgens sy destydse beleid. Gevolglik is daar vroeg in die 1950’s besluit dat swart onderwys dringende aandag moes kry. Daar is besluit dat alle swart kinders in die toekoms skoolopleiding moes kry, en dat hulle aanvanklik op skool moes bly totdat hulle minstens standerd twee geslaag het. Dit is vier jaar se opleiding, terwyl die wat kon, verdere opleiding moes kry. (Teenstanders van die destydse regering hou tot vandag toe vol dat dr. Verwoerd gesê het dat swart menses net tot standerd twee opleiding moes ontvang.) Waarom die besluit om minstens op vier jaar opleiding vir almal aan te dring? Wat nie besef word nie, is dat daar onder swart mense in daardie stadium ʼn groot teenstand hierteen was – veral in die landelike gebiede waar verreweg die meeste swart mense gewoon het. Algemene onderwys vir almal was iets onbekends en baie tradisionele gemeenskappe het dit as onnodig gesien. Die regering moes groot druk op swart gemeenskappe plaas om hulle kinders skool toe te stuur.

Minderwaardig

Die teenstanders van die regering, en by name die destydse Rand Daily Mail, het swart onderwys as minderwaardig verkondig. Hulle het hiermee voortgegaan totdat senator Faber van die ou Verenigde Party en ʼn oud-skoolinspekteur, in die senaat verklaar het dat hy niks minderwaardig in die swart leerplanne kon vind nie. Dit was wel toegespits op swart mense se kultuur en behoeftes van die tyd.

Onderwysers

ʼn Groot poging om swart onderwys te bevorder is van stapel gestuur. Volgens dr. Greyling is daar in die eerste aantal jare 10 000 klaskamers per jaar gebou en is die getal skoliere binne tien jaar opgestoot tot 500 000. Soos dr. Greyling dan ook aan my meegedeel het, kan ʼn mens klaskamers bou en boeke verskaf, maar die groot uitdaging was om genoeg opgeleide onderwysers vir die taak te kry. Derhalwe is daar swaar gesteun op Afrikaanse onderwysers om by swart skole te kom help. Terselfdertyd is daar begin om opleidingskolleges te bou waar swart mense as onderwysers opgelei kon word. Voldoende getalle opgeleide onderwysers het egter vir lank ʼn knelpunt gebly, ʼn probleem wat skynbaar tot vandag nie opgelos is nie.

Koste per kind

Daar word ook beweer dat daar dramaties meer vir wit as swart kinders vir onderwys betaal is. Dr. Greyling het my meegedeel dat daar altyd ʼn tekort aan geld was vanweë die geweldige vinnige toename in swart skoolkinders en die groot omvang van die projek. In daardie jare was al die uitgawes van die onderwys vir wit mense by een departement sentreer. By swart onderwys was lopende besteding deur die department van swart onderwys betaal, maar die konstruksie van skole is deur openbare werke onderneem en befonds. Laasgenoemde besteding word nooit in berekening gebring wanneer die kostes vir wit en swart kinders vergelyk word nie, wat die syfers per kind heeltemal skeeftrek. Dan was daar persentasiegewys aanvanklik meer wit kinders op sekondêre vlak as wat die geval by swart onderwys was. Dit is aansienlik duurder per kind om onderwys op sekondêre vlak aan te bied. Verder was daar ander verskuilde kostes soos byvoorbeeld dat ʼn skoolhandboek in wit skole ʼn leeftyd van ongeveer vyf jaar gehad het maar slegs twee jaar in die destydse swart skole.

Maar dan was daar ʼn beleid onder swart politieke groepe van “liberation before education”, wat die swart onderwysprojek verder bemoeilik het. Tydens dr. Greyling se tyd as onderwyshoof is daar byvoorbeeld sowat 200 skole totaal en al vernietig, hoofsaaklik tydens politieke onrus.

Afrikaans en die 1976-opstand

Volgens dr. Greyling was daar in 1976 steeds nie genoeg swart onderwysers nie en is met die ouerkomitees ooreengekom dat Afrikaanse onderwysers sekere vakke in Engels en/of Afrikaans sou aanbied. Daar was nie genoeg swart onderwysers beskikbaar om onderwys in die kinders se moedertaal aan te bied nie, veral op hoërskool. Afrikaans was destyds ʼn sterk landstaal, en was saam met Engels die amptelike taal. Dit was ʼn groot rede waarom Afrikaans steeds in onderwys gebruik is.

Een van die bekendste foto’s uit die Soweto-opstande. Hector Pieterson (12) word deur Mbuyisa Makhubo gedra ná die Suid-Afrikaanse Polisie hom geskiet het. Sy sussie, Antoinette Sithole, hardloop langs hulle. Hector is met sy aankoms by ʼn plaaslike kliniek dood verklaar. Foto: Sam Nzima - Dzambukira, Proud (5 November, 2006). "Remember, Remember the Fifth of November". Harvard Computer Society., Fair use

Een van die bekendste foto’s uit die Soweto-opstande. Hector Pieterson (12) word deur Mbuyisa Makhubo gedra ná die Suid-Afrikaanse Polisie hom geskiet het. Sy sussie, Antoinette Sithole, hardloop langs hulle. Hector is met sy aankoms by ʼn plaaslike kliniek dood verklaar. Foto: Sam Nzima – Dzambukira, Proud (5 November, 2006). “Remember, Remember the Fifth of November”. Harvard Computer Society., Fair use

Dis baie moeilik om presies vas te stel wat presies op 16 Junie gebeur het. Daar was wel ʼn amptelike ondersoek deur regter PM Cillie gedoen, wat bevind het dat algemene politieke griewe en die internasionale klimaat ʼn groot rol in die opstand gespeel het. Daar het algemene onrus ontvlam wat tot klipgooi, brandstigting, plundery en selfs moord op onskuldige mense soos ʼn dr. Edelstein, ʼn maatskaplike werker aanleiding gegee het. Dit het daartoe gelei dat die polisie eers traangas gegooi en later geskiet het. ʼn Onskuldige kind, Hector Pieterson, is toe gedood. Dit is insiggewend dat die voertaal by ses van die sewe skole wat die optog gereël en uitgevoer het, Engels was. By die sewende skool is net geskiedenis in Afrikaans aangebied. Maar die gebruik van Afrikaans is deur politieke teenstanders van die regering as rede gesien om die onderwys te ontwrig.

Beoordeling

Dit is verbasend wat wel met swart onderwys destyds bereik is. Daar was inspekteurs, net soos by wit en ander skole, wat onderwysstandaarde beheer en gehalte verseker het. Die afskaffing van die gehaltebeheerstelsel na 1994 het groot skade aan die swart onderwys aangerig. Inderwaarheid, die Sentrale Statistiekdiens (SSD), het ná ʼn onlangse ondersoek bevind dat die swart jeug tussen 25 en 34 jaar, tans minder geskoold as hulle ouers is. Die hoof van die SSD het hom as volg hieroor uitgelaat: “When parents are better equipped than the children, it’s a sign of regression.”

Die vordering met swart onderwys voor 1994 moet gemeet word teen die vordering wat swart onderwys in die 22 jaar van ANC regering gemaak het. Natuurlik was daar gebreke, maar die geweldige omvang van die projek om landwyd massa-onderwys vir miljoene swart mense in te stel midde in politieke onstuimigheid moet ook verreken word.

Belasting

Dit moet ook in aanmerking geneem word dat die koste van swart behuising, skole en ander noodsaaklike ontwikkeling soos die infrastruktuur, destyds hoofsaaklik op die wit belastingbetaler afgekom het. Hulle het sowat 15% van die bevolking uitgemaak. Dit is eenvoudig onmoontlik om 85% van die bevolking in die korttermyn op te hef tot die vlak van Westerlinge, gemiddeld beoordeel. Dis veral waar as daar groot agterstande in ontwikkeling bestaan, daar nie oral genoeg samewerking was nie, en die beleid van “liberalisation before education” tot die ontwrigting van swart onderwys bygedra het.

In die lig van voorgaande kort opsomming van gebeure dink ek dat dit die huidige LUR van onderwys in Gauteng sal baat om hom beter te vergewis van die geskiedenis. Sy kritiek is onvanpas, veral gesien die huidige regering se eie swak vertoning die afgelope 20 jaar op onderwys- en ekonomiese gebied. Boonop lyk dit ook nie of daar betekenisvolle verbeterings intree nie. Die werklike gevaar bestaan dat hy met sy politiek gedrewe strewes dit wat nog goed werk ook tot ʼn sub-standaard kan laat daal.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

THEA ·

N briljante brief, wens meer mense kan dit lees, duidelik uit eengesit sonder om n skewe waarheid te gee. wens veral die radio stasies kan dit lees, oor die helde vereering van brandstigters en plunderaars

Lisa ·

Baie dankie, dit is n baie duidelike verduideliking van die gebeure. Ja, dit is jammer dat n swart kind ongelukkig dood is. Niemand het dit opsetlik beplan nie…die vraag is nou net…hoeveel Boere is uitgemoor die afgelope 10 jr, en dit word net orals geignoreer….ons sal nooooit genoeg vakansiedae kan afstaan aan gestorwe Boere nie…laat onsnet nooit ons geliefde Boere vergeet nie…kom ons bid alamal saam vir ons Boere en hulle gesinne.

Pieter Ruthven ·

Ja, ongelukkig word die hele sogenaamde opstand van 1976 nie in perspektief oorgdra aan almal. Puik skrywe en soos Thea noem, ‘n jammerte dat die inligting nie weergegee word om veral Dr. Verwoerd se aandeel en insig tot reg te laat kom.

Connie ·

Dankie. Dr. Verwoerd was nie so ‘n groot onderdrukker nie. In fact, hy was glad nie ‘n onderdrukker nie. Niemand so blind soos die een wat nie wil sien nie. Niemand so dom soos die een wat nie wil leer nie.

Theuns ·

AJ , dankie vir die kommentaar! Dit Wys jou net weer hoe goed die ANC/SAKP propaganda gewerk het dat die Waarheid verdoesel is en die leuns verkondig is as die reine waarheid. Die Waarheid in jou skrywe moet aan die wereld en SA verkondig word. Ek stel voor you skrywe moet in al die hoof koerante hier en in die wereld gepubliseer word. Miskien kan ons ook miljoene vliers maak en dit in 11 landstale oor all die Townships per vliegtuig afgooi?

Therese van Schalkwyk ·

AJ Jacobs

Baie dankie vir hierdie uiters nodige “ander kant van die saak”.

Bitter jammer dat die buiteland, wat tog so graag dr. Verwoerd en die Afrikaner met Hitler en die Nazi’s vergelyk, dit nooit onder oë sal kry nie.

Onderwys onder die ANC-regering is skandalig in vergelyking met wat aan hulle gebied is tydens afsonderlike ontwikkeling. Waarom hulle nie die hulp en raad van duisende welwillende ja-stemmers gevra en gevolg het toe hulle in 1994 die besluitnemers geword het nie, sal net hulle weet.

hans ·

Al baie sms’e aan Beeld oor die verdraaide anti-wit ens propaganda wat deurlopend op SABC en E-tv gebeeldend word gestuur ,dit word net nooit geplaas nie. Twyfel of enige deel uit bg stuk publiseer of beeldsensnd sal word

Kobus ·

Baie dankie vir ‘n puik agtergrondskets van wat werklik gebeur het onder Dr Verword se tyd as Minister. Dit is jammer dat die waarhede nooit gehoor of geglo gaan word deur die mense wat dit moet hoor nie. Indien die swart onderwys so swak was, waar het Mandela dan geleerdheid gekry om ‘n prokureur te word? die gemors wat vandag in die skole aangaan is die huidige regering se manier om mense ongeletterd te hou. Sodoende kan hulle onwaarhede oor “Apartheid” gebruik om hulle ongeletterde en swak opgevoede volgelinge alles te laat glo wat hulle wil hê hulle moet glo. Ek hoop van harte dat die waarheid gou sal uitkom en dat die duisende volgelinge van die ANC en EFF sal sien dat die Witman nie die vyand is nie, maar hulle eie leiers.
.

Theuns ·

Vandag 16 Junie 2016 kan jy geen Radio of TV stasie na luister of na die beelde kyk nie! Die Kommunistiese Propaganda gaan onverpoos voort. Vandag baai FW, Leon Wessels, Pik Botha en Roelf Meyer in n waas van Grootheidswaan en Ilusies en klop hulle hulle self of die skouer terwyl hulle hulle self komplimenteer met die “Verraad van die Afrikaner” wat hulle bereik het. Kort kort skemer dit deur dat die groep hierbo vir die Afrikaners moes besluit want hy kon dit nie self doen nie! Met ander woorde hulle dink ons onnosel ook? Ek laat my nie vertel hulle was nie bewus van die werklike gebeure soos uitgelig in CJ Jacobs se skrywe nie?

John ·

Ja, die geskiedenis van ons land word nou ‘his story’ — die geskiedenis wat die ANC en meelopers graag wil glo die waarheid is, en dit word telkens opgedis. Die wreedhede en dooies en gebeure destyds word net meer en meer aangepas, want dit sal die haat jeens die Afrikaners smeulend hou vir ‘n volhoubare ‘struggle’ en wanneer die knoppie weer gedruk moet word.

Arthur de la Rey ·

Kom ons stuur hierdie na FW , Pik en Roelf en vra om hulle kommentaar.

Janine du Plessis ·

Baie dankie vir hierdie stukkie geskiedenis. Ek glo nog al die jare dat die kinders voorgestoot is om die internasionale wereld se simpatie te verkry, soos wat die Siriers dit op die oomblik doen. ‘n Familielid van my was ‘n skoolhoof in Soweto. Hy en sy sekretaresse is in die kluis toegesluit terwyl die “comrades” die kinders uit die klasse geboender het. Daar is ook net laasweek oor RSG deur n Kleurling- vrou vertel dat hulle strate toe moes gaan al het hul nie geweet waaroor nie. Sy is ‘n Kaapse Kleurling en praat Afrikaans – haar moedertaal! Sy was in Wellington op skool. Hoe kon “skoolkinders” ‘n opstand reel in ‘n tyd sonder sosiale media??? Die hele 16 Junie is ‘n klug. Wat van Marikana? Nog ‘n vakansiedag?

Boerseun ·

Hector Pieterson is deur ‘n comrade se dwaalkoeel getref, nie waar nie. So ver my kennis strek is hy NIE deur die polisie gedood nie.

Mark ·

Woon in New Zealand en praat nog steeds afrikaans, het laas week lekker gesels met n kleurling uit die Kaap wat net veilig wil wees. Jammer ons moes so n pragtige land verlaat as gevolg van misdaad. Dr Verwoerd is puik, sal altyd onthou word vir goeie dinge.

Chris du Plessis ·

ALL IS NOT WHAT IT SEEMS ….

dankie vir n goeie artikel.

Alfred ·

Waar kan ons hierdie artikel in Engels kry ten einde dit meer sinvol te versprei?

Francois ·

Stem
Vertaal dit en gebruik social media om te versprei.
Vergeet van tv of koerante.
Die wereld gee nie om wat in SA gebeur nie
Na sogenaamde apartheid het die wereld nie tyd vir SA se probleme nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.