‘Ek is nie meer lid van dié boekklub’

Boekklub 1

Die Boekklub (Foto: YouTube-skermskoot)

Anita Joubert van Waverley skryf:

Ek is nie eintlik ʼn gebruiker van sosiale media nie, maar vanoggend voel ek so ʼn klein bietjie soos Martin Luther, die Kerkhervormer, moes gevoel het toe hy 500 jaar gelede aan die keiser en die pous gesê het: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!”

Ek was ook een van die veel meer as ʼn miljoen mense wat op 22 April 2017 op my knieë in Bloemfontein gestaan het om ʼn lewende, almagtige, drie-enige God te smeek om Suid-Afrika van algehele ondergang te red. Ek is oortuig daarvan dat in hierdie land nog ten minste twee keer soveel mense is wat net so voel en daardie dag graag daar sou wees, maar dit nie kon doen nie. Hoe kan ons dan langer stilbly!

Ek het ook graag na die TV-reeks Die boekklub gekyk en dink nog steeds dat dit uitstekend geskryf is, met die beste van die beste akteurs in ons land. Aanvanklik het die hoofkarakter, Tom, se immorele lewenswyse my begin pla, maar ek het my gewete gesus met die gedagte dat baie van ons jongmense seker maar so leef en dat die skrywer net die samelewing uitbeeld. Die gay huwelik het ʼn mens maar verwerk omdat jy darem nie liefdeloos mag wees nie, hoewel die ooglopende ongemak waarmee die twee goeie akteurs Stian Bam en Arno Marais die rolle vertolk, eers vir my en my man lagwekkend was, maar my later begin hartseer maak het. Waarom is dit nodig om sulke uitstekende akteurs in sulke rolle in te forseer wat hulle duidelik nie wil vertolk nie?

Jana Cilliers se rol as waarsêer vertolk sy uitstekend, maar genoeg is genoeg. Om te moet sit en kyk hoe sy teekoppies lees en Tarot-kaarte gebruik om inligting te bekom, en om te dink dat ʼn hele dorpie se lewe en dood in die hande van ʼn towenaar se giere en grille is, druis so reg in teen dit wat ons as Christene glo en die Bybel ons leer, dat ons dit nie elke week kan sit en bekyk en niks daaroor sê nie. Dan huigel ons mos! My lewe op aarde en ook my ewige lewe is in die hande van ʼn liefdevolle hemelse Vader wat deur sy Seun, Jesus Christus, my vrygekoop het uit die mag van die duiwel, sonde en dood, en uit genade aan my die ewige lewe geskenk het.

Daarom sê ek nou: Nee dankie, kykNET en Louis Pretorius! Ek stel nie meer belang nie!

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

127 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zak

Dankie Anita. Werklik n wekroep tot besinning.

Louis

Jana Cilliers (Anna) gebruik al teeblare en kaarte van die begin van die eerste reeks af, hoekom pla dit nou eers? Hierdie is by verre die beste afrikaanse reeks tans op televisie te sien en kry dit reg om elke emosie te roer. As ons as Christene moet wegkruip vir alles wat nie binne ons Bybelse raamwerk val nie gaan ons kluisenaars in ons eie kamers word, Ek sal die reeks aanhou geniet sonder om te veel in Anna se toorkuns in te lees en so ook nie toelaat dat die gay huwelik my siening oor hoe die huwelik moet… Lees meer »

Eish

Watter hond is die sterkste? Die witte of die swart een?
Die een wat jy die meeste kos gee.
Ek is dankbaar dat mense nog die guts het om hul openlik uit te spreek teenoor die boosheid wat in ons keelgate afgedruk word.

Deloris

As mens nie van iets of n storie hou nie, moenie dit lees of kyk nie, daar is baie ander goed om na te kyk. Dis n storie en klaar. Almal van ons is nie dieselfde nie en smaak verskil, dis nie n sonde nie. Die Boekklub was en is nog die beste storie en beste akteurs. Dis ontspanning.

Rina

Die “Towenaar” is verpoonliking van die Doodsengel. In die eerste seisoen het Anna besoek met haar hartprobleme, oral gevolg, hy was mos in die hospitaal ook.