Het ons God verloën?

bekommernis

Argieffoto.

Terwyl Suid Afrika brand, verval witmense toenemend in selfbeskerming en selfbeskikking ten gunste van hulself en ten koste van Jesus se opdragte. Sy opdragte is om Sy dissipels te wees, om in liefde en eenheid te wandel, om nie te oordeel en veroordeel nie, om selfopofferend te leef, om sout en lig te wees, om versorgend en genesend op te tree, asook om dissipels te maak. Jesus het ons met Sy bloed oorgebring van die mag van duisternis na die koninkryk van God (Kol.1:13) en aldus sy opdrag –  ‘soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle ook’ (Johannes 20:21).

Hoe word ons as witmense se leefstyl vereenselwig met dit wat God in hierdie tyd na die voorbeeld en opdragte van Jesus, tot stand wil laat kom? Deur weg te kruip in ‘veilige hawens’ agter doringdrade met die valse gerustheid van beleggingsfondse en allerlei finansiële dienste? Deur sinies en meerderwaardig na ander rasgroepe te verwys? Deur met ‘gospel’ liedjies in luukse voertuie by die nood van die wȇreld verby te ry? Deur in kerke debat te voer of sondige gedrag inderdaad sonde is? Deur ons leefstyl wat so deurdrenk met Mammon is dat ons geen idee het waaroor die koninkryk van God gaan nie? Deur selfsug, hoogmoed en liefdeloosheid? Jesus se woorde in hierdie verband slaan hard – ‘En wat noem julle My Here, Here! en doen nie wat Ek sȇ nie.’ (Lukas 6:46).

Hier, waar ons aan die einde van die jaar is en binnekort weer begin kersliedjies sing, moet elkeen van ons onsself voor God verootmoedig. My vraag aan individue, gesinne en veral kerke is: was julle gehoorsaam aan Jesus se opdragte? Die feit is, indien jy aan Jesus se opdragte ongehoorsaam is, het jy sy liefde en werk aan die kruis verloën. Jy kan kersliedjies sing dat die trane rol, maar indien die liefde van Jesus nie deur jou lewe sigbaar is nie, het dit geen substansie nie.

Nie elkeen wat vir My sȇ: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is’. (Matt. 7:21).

Kom ons hou op met sinnelose debatte en bely voor God dat ons ongehoorsaam is aan Sy woord en wil, kom ons draai na mekaar en neem hande en bid saam vir ons land en sy mense, kom ons benader die kerstyd as werklike gestuurdes van Jesus, as Sy dissipels van liefde en lig. Kom ons begin binne ons huisgesinne, werksplekke en kerke herbesin oor Christen wees, oor die rol van die kerk, oor ons lewens en waarde as kinders van God. Kom ons begin gesprekke en sosio-ekonomiese prosesse om in hierdie tyd ʼn positiewe invloed op ons land te hê. Kom ons begin met ʼn dialoog van hoop. Kom ons benader 2016 as dissipels van Jesus Christus.

Hugo van der Walt

Pretoria

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Winston

Hugo ek dink jy het die kat aan die gat beet. Jy het geen idee hoeveel WITMENSE juis gee ten opsigte van behoeftiges nie. Gaan praat met jou regering en vra dat hulle ook n slag GEE en nie net vat nie. Daar is duidelike redes hoekom WITMENSE in veilige hawes bly. Want WITMENSE kan Hugo. Dis oor snert wat jy kwyt raak wat my de m..r in maak. Wie is jy Hugo om te veralgemeen. Gaan eerder op jou kniee en se dankie dat die WITMENSE nie moed opgee nie Hugo. Se dankie dat hulle met oop hande loop… Lees meer »

Esli

Amen!

Johann

En hierdie is PRESIES waarom die Afrikaanssprekende blankes in hierdie land hulle in die posisie bevind waarin hulle is. Hoekom vra jy “Hoe word ons as “witmense” se leefstyl vereenselwig met dit wat God in hierdie tyd na die voorbeelde en opdragte van Jesus, tot stand wil laat kom?” Hoekom vra jy nie ‘n slag dieselfde vraag en sit “swart mense” daarin nie? Ek kruip nie in ‘n “veilige hawe” weg omdat ek dit WIL doen nie? Maar as ek nie my Godgegewe intelligensie en breinkrag aanwend om vir my en my gesin ‘n veilige hawe te skep nie, was… Lees meer »

Danie

Met als stem ek saam behalwe, die gedeelte oor self beskerming en selfbeskikking. As God my die intellektuele vermoë gegee het om te besef dat ek nie op die regering kan vertrou vir dienste en dies meer nie ( baie eenvoudig gestel) mag ek dan nie my God gegewe talente gebruik om vir myself te sorg nie? Kanse is goed ek sal in die proses my buurman / mede landsburger ook help.

Frans

Misdaad in al sy vorme en ‘n slapgat regering is die grootste oorsaak dat mense veral witmense veral soos hul ouer word hul almeer aan die samelewing onttrek.Verby is die dae dat ons as ‘n familie die middestad van die stad kon besoek en vensterinkopies doen,na nuwe modelle van voertuie kon kyk ens. Jy kon daarna rustig ‘n koppie koffie en ‘n versnappering in ‘n buitelugkafee geniet en seker wees jou voertuig is nog daar waar jy dit parkeer het.Die dae is voor goed verby. Vandag as jou kinders jou besoek het dan verlaat hul jou en laat jou agter… Lees meer »