Lesersbrief: Krisisse bied ook geleenthede

Nantes Kelder. Foto: Facebook

Nantes Kelder, koshuisvader van De Goede Hoop–koshuis in Pretoria, het die brief aan Alru Venter geskryf in reaksie op Alru se #JongStemme-meningstuk “Ek dink met angs aan my toekoms:

Beste Alru,

Dit was met trots in my hart wat ek jou stuk “Ek dink met angs aan my toekoms” gelees het. Ek onthou soos gister toe ons by De Goede Hoop begin het as huisouers, jy was die reus met die sagte gees, iemand wat omtrent nooit ʼn woord gesê het nie. Kyk waar is ons vandag, jy die primarius van De Goede Hoop en glad nie meer so stil nie, iemand met ʼn teenwoordigheid – ’n voorreg om te kon sien hoe jy gegroei het.

Ons mis jou en al ons ander “kinders” in die huis, ons het nou nooit kon dink dat 2020 so sou uitdraai nie. Dit is met ʼn beklemming om my hart dat ek besef dat jy en van ons ander staatmakers klaarmaak dié jaar… ek wil nie eens daaraan dink nie.

Alru, ou bul, ek dink jy verwoord wat baie studente wat in die pylvak van hul studies is, tans beleef – daar is baie Alru’s met ʼn klomp onsekerhede. Jou voordeel is dat jy nog altyd lief was vir die Here en dat jy weet dat Hy net die beste vir jou in gedagte het. Ek hoor jou vrese oor die toekoms, maar wil jou en ander jongmense ook bemoedig uit God se Woord: Hy het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar een van krag, liefde en selfbeheersing.

Ek glo die Afrikaner is gemaak vir tye soos hierdie. Ons het deur die jare geleer dat wanneer ons voor ons grootste krisisse te staan kom, haal dit die beste uit ons uit. Ek glo jou kinders en ons kleinkinders gaan eendag hiervan leer in geskiedenis.

Kyk maar net wat het die Solidariteit Beweging vermag in hierdie onseker tyd, die beweging se Krisisfonds staan oor die R14,5 miljoen sterk wat, onder andere, die Helpende Hand in staat gestel het om reeds meer as sesduisend gesinne by te staan sedert die staat van inperking. AfriForum en die landboubelangenetwerk SAAI (Suider-Afrika Agri Inisiatief) lewer vandag weer voedsel af by ʼn duisend gesinne verstaan ek. AfriForum Netwerk, ʼn inisiatief van AfriForum waar klein besighede gratis gelys kan word, het meer as tienduisend besighede al gelys tydens die staat van inperking. Merkwaardig wat ons kan doen as jy bietjie anders dink oor dinge en geleenthede skep vir groei en hoop skep in gemeenskappe – só ondersteun ons mekaar sonder die hulp van die regering.

Alru Venter.

Alru, jy en jou generasie jongmense sit in die ideale posisie om geleenthede te skep en met nuwe idees vorendag te kom. Ons gaan net eers die vrese en onsekerhede, wat natuurlik menslik is, opsy moet skuif. Ons normaal het verander, dié wat bo gaan uitkom is dié wat hierdie geleentheid gaan gebruik om nie net anders nie, maar ook nuut te dink. Ek sien mos hier by die koshuis, julle ken al die kort paaie, wat natuurlik nie altyd ʼn slegte ding is nie – dit maak dat julle slimmer, vinniger en meer kreatiewe planne maak as ons ouer garde.

Soos ek gereeld vir julle sê, dat die meeste dinge waaroor ons wakker lê van bekommernis, is dit waaroor ons nie beheer het nie. Soos hulle sê, kom ons beheer wat ons kan, beïnvloed wat, waar en hoe ons kan, en berus by dit waaroor ons nie beheer het nie en wat ons ook nie kan beïnvloed nie.

Alru, en dan praat ek met al die Alru’s daarbuite, soos ek altyd sê: as jy aanhou om die regte ding te doen, sal die regte goed met jou gebeur. Kom ons kanaliseer ons energie om ʼn positiewe verskil te maak.

Skuif die vrese en angs opsy, weet dat God in beheer is. As ons dit doen, gaan ons rustiger raak en gaan ons die geleenthede begin sien wat oor ons pad kom. Dankie dat jy steeds hoop het in ʼn onseker tyd. Jy laat ʼn gevoel van trots in ons harte.

Sterkte met die studies en ek en tannie Elsabé verlang baie na almal van julle.

Groete en liefde aan almal,

Oom Nantes

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.