Lesersbrief: As jy bang is, ry dan in die dag

Anna Pienaar skryf:

Foto ter illustrasie (Foto: CHUTTERSNAP/ Unsplash)

Maandagoggend ry ek van my huis in Pretoria na my werk in Centurion. Dis so 05:30. Ek ry deur die stad om tolgeld te spaar. Daar is min verkeer so vroeg in die oggend en dis donker; die winter is hier. Byna geen straatlig werk nie.

In Bothalaan draai ek af in Cantonmentsweg. Dis spokerig in die donker strate. By die volgende verkeerslig, waar daar net ʼn inkomende straat van regs is, verminder ek spoed, maak seker daar is geen verkeer nie en ry oor die rooi lig. Dis 5:44 en ek is versigtig om heeltemal stil te hou. ʼn Entjie verder jaag ʼn wit motor met flitsende ligte op my af. Toe ek versnel, jaag die voertuig by my verby; draai dwars in die pad en versper al die bane. Die voertuig is ongemerk, geen sirene of blou ligte nie. Toe ek tot stilstand kom, sien ek hoe my bene bewe.

ʼn Man spring uit die voertuig en skree of ek weet dat ek oor die rooi lig gery het. Ek probeer vra of ons kan skuif na die verligte motorhawe aan die oorkant van die pad. Hy weier. Die man dring daarop aan dat ek die motorruit afdraai. Ek draai die ruit op ʼn skrefie oop. Hy dring daarop aan dat die ruit heeltemal afgedraai moet word. Die keer weier ek. Sy antwoord is ʼn enigma. “Ek moet hom vertrou, hy is ʼn verkeersbeampte”. Ek kry so tussen-in, my paar woorde te sê.

My verweer dat ek skrikkerig is om by ʼn verkeerslig in ʼn donker straat te stop word afgemaak met ʼn arrogante: “As jy bang is vir die donker, ry dan in die dag”.  Ek het niks om daarop te antwoord nie.

Die ding is nog nie verby nie. Die man dring daarop aan dat ek hom moet vertrou. Hmm, ek dink dis ʼn gelaaide versoek! Toe ek stilbly, dreig hy om my polisiestasie toe te neem. Ek sê ʼn gebedjie op en draai die ruit af. Hy oorhandig my R1 250-boete en wens my ʼn goeie dag toe. Ek ry werk toe. Dis ʼn blou Maandag! My binnegoed bewe nog. Ek is kwaad vir myself omdat ek so geskrik het. Magtig, ons in Suid-Afrika moet mos meer dapper wees.

Die volgende oggend ry ek dieselfde pad. Die straatligte is nog steeds af. Die strate is steeds donker. By die gewraakte verkeerslig, weer rooi, stop ek doodstil en veroorsaak amper ʼn helse botsing toe die taxi agter my skielik moet stop! Hy swenk regs en jaag oor die rooi lig. Siestog, hy was seker ook bang… Ek wag om te sien of daar reperkussies gaan wees… Maar mnr. Mbhazima in sy ongemerkte wit voertuig werk seker nie meer in die nag nie… Het ook seker besluit om eerder in die dag te ry…

Terloops, van vertoë rig aan AARTO gaan dadels van kom! My boete is nie op die stelsel nie en die persoon wat dit uitgereik het (issuing authority) kan nie opgespoor word nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

Wat is die verskil tussen ‘n rooi en groen verkeerslig? Niks. Hier in ons groot dorp by die see stop jy wanneer jy lus het om te stop, sndersins ry jy.

groenboer ·

Nou ja, as die boete nie op die stelsel is nie dan hoef jy seker ten minste nie te betaal nie.

En as hy wel op die stelsel is? Doen die moeite en daag op vir die hofsaak, eerder as om bloot die boete te betaal. Die beampte wat die boete uitgereik het sal daar moet wees om te getuig. Jy kan verseker wees hy sal nie daar wees nie, en dan sal die saak geskrap word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai spietkop is nie ‘n regte spietkop nie.

JvR ·

Na agt uur die aand en voor ses uur die oggend is meeste areas se robotte toegee tekens

Linda ·

Jare gelede nog bloedjong het ek en my oorlede man in Pretoria gey toe daar n motor by die rooi lig gebly ref het, toe lig oorslaan vra ek my man om vinniger weg tery aangesien ons 2 maande baba seuntjie in die motor was en ek bang was. Die uiteinde was dat dit metro polisie was wat ons uitgelok het en hulle in hof niks oorgekom het nie.

Patch ·

As ek vrou-alleen is stop ek ook nie laataande by verkeersligte nie, veral nie as al die straatligte ook af is nie. Ek ry baie stadiger, bly in tweede rat, maak seker ek sien geen voertuie aankom of rondstaan nie en ry dan oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.