Lesersbrief: Bevelsrade, oorloë en wit vlae

Foto ter illustrasie. (Foto: Kerolainy/Pixabay)

Marlene Farmer skryf:

“Al die kriekies kriek daar buite.”

So skryf C Louis Leipoldt in sy gedig “Lenteliedjie”.

Ek bespeur ʼn deernis vir die spesie waarmee ek myself vir seker nie kan vereenselwig nie. Ek vind eerder aanklank by “die geskril van die kriek” soos ʼn ander digter dit stel.

Dit bring my by die nimmereindigende, en tot op hede, onoorwonne oorlog wat ek veg met krieke. Kalmerende naggeluide is ononderhandelbaar vir my om ʼn goeie nagrus te geniet. ʼn Kriek met die aanhoudende geskuur van sy vlerke is beslis nie my idee van kalmerende klanke nie.

ʼn Paar jaar gelede verhuis ek na ʼn gerieflike tuinhuis in die Riebeekvallei. Ek het daar met mening begin nesskrop, min wetende dat ʼn hele weermag Grylloidea alreeds beheer van my stukkie aarde oorgeneem het. Reeds diep ingegrawe in die voorste, middelste en agterste linies van die slagveld.

“Ooooo! As ek darem daardie vlerkies in die hande kon kry en met die welbekende ‘Stick like…’ aanmekaar kon vasgom!”

So het ek deur my jarelange oorlog met krieke verskillende strategieë bedink, ontwerp en tot uitvoer gebring. Ek en Google het dikwels vergadering gehou, soekende na oplossings. Enige sukses? Nee, glad nie!

My lang houtleer en drie kannetjies bekende spuitgif het my beste vriende geword wat ek male sonder tal ingespan het. Met my leer het ek tot op die dak van my huis geklim en spuitkannetjie nommer een leeg gespuit. My leer het my ook toegang gegee tot die mangat in die plafon. Met spinnerakke wat taai aan my vasgekleef het, het ek spuitkannetjie nommer twee geledig in my plafon. Na sulke oorlogstaktieke was daar vir kort periodes ʼn welkome wapenstilstand. Ek vermoed die vyand het ʼn paar lewensverliese gely, maar ek het geen wit vlag gesien nie.

Om ʼn kriekende kriek te lokaliseer sit nie in enigeen se broek nie. Hierdie afdeling van die oorlogvoering het my byna my geestesgesondheid gekos. Ek het geleer om geduldig te wees en soms vir onbepaalde tydperke botstil te staan in welke posisie ook al. Kompleet soos ʼn standbeeld op een of ander markplein. Met spuitkannetjie nommer drie in my hand het ek ʼn aangepaste vorm van leopard crawl gedoen, die vyand gelokaliseer, die klip gelig en blitsvinnig die kannetjie dolleeg gespuit. Ek sou dan selfvoldaan opstaan, die gras en grond van my skoon pajamas afskud en bed toe gaan. Ten minste sou ek vir een aand rustig kon slaap. Jy reken?

Net totdat die vyand sy volgende aanval geloods het. Die plafon in my kamer het skielik die hoofkantoor van die bevelsraad geword. Dit het gekriek oor gif. Dit het gekriek oor strategieë. Dit het gekriek oor oorwinnings. Dit het gekriek! Ek het ʼn serp om my kop en oor my ore gedraai, slaappille gedrink. In my drifbuie sou ek verwoed met my besemsteel teen die dak stamp en my kussing magteloos teen die plafon smyt. Daar is egter geen notisie geneem van al my desperate pogings nie en die bevelsraad het eenvoudig net voortgegaan met die kriekvergadering.

Een Sondag het ek na ʼn slapelose nag op my bed gelê en na die plafon gestaar. En skielik… die oplossing! ʼn Mangat in my slaapkamerplafon (ek kon dit nie bereik deur die hoof-mangat nie).

Ek het my getroue nutsman geskakel om dié Maandagoggend by my aan te meld vir ʼn klein veranderinkie aan my plafon. So gesê, so gedaan. Kopskuddend het hy in ʼn oogwink ʼn skoenboksgrootte luik in die plafon geïnstalleer en siedaar! Ek het met die volgende bevelsraadvergadering kannetjie nommer vier leeggespuit. Probleem opgelos, of is dit?

Die mangat, my lang houtleer, die kannetjie gif − my beste vriende − het gehensop en ek het met die groeiende weermag krieke alleen agtergebly. Hoeveel keer moes ek vergifnis en verskoning vra vir die wrede manier waarop ek op my vyand getrap het of met ʼn wapen vermorsel het. Dis immers deel van die Skepping.

Die dag toe ek daardie tuiste verkoop het en die koper my uitgevra het oor die vreemde deurtjie in my slaapkamerplafon en ek verleë moes verduidelik, sal ek nie sommer vergeet nie. Ek het nietemin die huis saam met die weermag verkoop om by my nuwe tuiste aan die kus ʼn nuwe nes te skrop. Daar is mos nie krieke by die kus nie, of so het ek gedink.

Wreed was my ontnugtering toe ek besef het dat die enigste kriek in ʼn radius van dertig kilometer (of meer) onder my slaapkamervenster bly. Hoe kan dit? Is dit die doring in my vlees waarvan Paulus in die Bybel skryf?

Ek is moedeloos en het nie meer antwoorde nie. Vir ʼn laaste keer gaan ek probeer om in hierdie oorlog as oorwinnaar uit te tree. My strategie? ʼn Mengsel van skottelgoedseep, knoffel, peper en water gemeng in ʼn spuitbottel. Daarmee saam twee gevoude waslappe – een op elke oor.

Dan sorgvuldig my geel gebreide mus opsit om dié spulletjie bymekaar te hou. Ek lyk soos ʼn vlieg onder ʼn vergrootglas, kompleet met uitgebolde oë. In my geval uitgebolde ore.

En dan… die minste wees, my wit vlag hys, vir Kriek de Krieker omarm en in vrede met hom saamleef.

Dit gaan ʼn baie lang pad wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Mmm… Sien eerste af van die gifspuitkannetjies. Jou grootste vyand. Dit maak jou geleidelik dood sodat die krieke kan oorleef! Daar is raat teen krieke. Vind uit.

Julius ·

Krieke is my grootste vriende en my vrou se grootste vyande. As krieke nie meer kriek nie, is daar gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.