Lesersbrief: Die dae toe mans nog ‘mans’ was

Dewald Zaayman skryf: 

Argieffoto van die voormalige All Black-stut Carl Hayman. (Foto: NICOLAS TUCAT / AFP)

Die artikel oor Carl Hayman wat op 41-jarige ouderdom met demensie gediagnoseer is en die daaropvolgende kommentaar van sommige Maroela Media-lesers het nogal ʼn wrang smaak in my mond gelaat én my oor ʼn paar dinge laat wonder.

Mans was in die ou dae mos sterk. Hulle het nie oor nonsens gekla nie en die stampe en stote van ʼn taai rugbywedstryd (en die lewe) gevat. Daai was mos ʼn régte man! Vandag se sissies sou nie ʼn dag in die outydse weermag oorleef het nie.

Eerstens, ʼn meer wetenskaplike argument. Ek het oor studies gaan oplees wat in Amerika onder NFL-voetbalspelers gedoen is waar chroniese traumatiese enkefalopatie (CTE) weens veelvuldige kopstampe gediagnoseer is, soos by Carl Hayman. Will Smith het die saak in Concussion, sy 2015-film, aangeraak en ʼn onlangse studie onder Walliese rugbyspelers het soortgelyke kognitiewe simptome by spelers gedokumenteer.

“Hoe weet ons dit was nie ʼn ongeluk by die huis nie – nou is dit rugby se skuld?” Hier is ʼn bietjie begrip van navorsingsmetodiek waardevol. Daar word al hoe meer data met behulp van sorgvuldige studies ingevorder – oor die oorsaak en invloed van hierdie tipe besering op onder meer kognitiewe vermoë, geheue en gedragsprobleme in rugbyspelers, boksers, skopboksers, voetbalspelers (NFL) en selfs gereelde slagoffers van huishoudelike geweld; alles met herhaalde kopstampe te doen.

“Maar hoekom sien ons dit nie in ou rugbyspelers nie; die man is duidelik net sag?” Wel, ons moet verstaan dat nie elke rugbyspeler hiermee gediagnoseer sal word nie, en dat nie elkeen wat wel gediagnoseer word dieselfde tekens of simptome sal hê nie. Carl Hayman het demensie ontwikkel. Hierdie oudspeler van die 70’s was dalk depressief, of dalk het sy gemoed en gedrag verander; net dalk kon dit weens CTE wees.

Dit bring my by ʼn tweede, dalk meer emosionele argument. Hier hoor jy: “Ag snert man, ʼn cowboy huil nie voor sy perd nie. Hy soek net aandag. Hy weet waarvoor hy homself ingelaat het.” Nee, hy het nie geweet nie. Niemand kon die jarelange blootstelling aan kopbeserings in rugbyspelers voorspel nie. Dis juis hierdie tipe ingesteldheid wat daartoe lei dat simptome van geestesgesondheid, veral onder mans, ʼn taboe onderwerp is. Gevolglik sal dié mans eerder oor depressie of ander geestesgesondheidsprobleme stilbly, of die oorsaak nou CTE is of nie.

Om hierdie toestande onder die mat in te vee – omdat ʼn man mos ʼn man moet wees – kan tragiese, selfs noodlottige gevolge vir mans soos Carl Hayman, asook hulle vroue en kinders, inhou. As hierdie argaïese “sosiale norm” beteken dat Carl Hayman regsaksie moet neem om aandag op die onderwerp te vestig, dan moet hy dit doen. As hy geld daaruit maak, is dit ook goed so, want mettertyd sál hierdie toestand sy lewe eis. Minstens is sy gesin dan versorg. Om geestesgesondheid of ander gevolge van traumatiese breinbeserings te ignoreer, maak nie van jou ʼn man nie, en om die kollig daarop te gooi, maak jou beslis ook nie minder van ʼn man nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Madeleine ·

Wie het hierdie artikel geskryf!?

Skokkende eng siening?!

Zombie ·

As jy mooi gelees het, sou jy sien dat dit ń brief deur ń leser is en nie ń artikel nie. Die argument is uit verskillende hoeke benader. Moontlik is jou begrip maar “eng”. Sterkte.

Dewald ·

Ek hoor graag jou opinie, niks fout met gesonde debat nie – maar, maak ‘n argument.

MakersMark ·

Rugby spelers van vandag is aansienlik groter, sterker en vinniger as 50 jaar terug. Die toets agtal van ‘n voorste rugbyland in die ’70’s het so 760 kg geweeg. Vandag weeg skool eerste spanne se agtalle al meer as 800 kg. Elke duikslag, skoonmaak in die los of “collission” stuur massiewe skok golwe deur die speler se lyf, baie erger as 50 jr terug. Op die lang termyn sal dit skade aan spelers berokken. Niks met “manlikheid” uit te waai nie.

Johan ·

Ek dink gaan kyk eers na n wedstryd van 50 jaar gelede en lewer dan kommentaar, daar was geen genade getoon en vergelyk n werks liggamsbou teen vandag se gym maatjies. Onthou net een ding vet is sag en bene hard.

Henkb ·

Baie goeie berig. Ek het nog altyd gewonder of dieselfde nie met myself gebeur het nie. Ek het tans simptome wat daarop dui, na jare van “kopstamp” in die skrums.

Chantel ·

Dis nie ‘n kwessie van “manwees ” nie, dis meer ‘n saak van wat verwag rugbyspelers. Elke sport het sy beserings, en wragtig, met sulke harde duikslae moet jy weet iewers in jou lewe gaan jy daarvoor inboet. My pa was ‘n bokser in sy jong dae en het gesê dat sy hande en kniee as gevolg daarvan in sy later jare moeilikheid gegee het
Selfde met ‘n fietsrye en of motorfietsrenjaer, op jou oudag haal al die besering jou in.
Ek dink eerder dis ‘n situasie van afrigters wat die spelers nie genoegsame hersteltyd toewens nie.
Ek sien dit in skolerugby ook, kinders het harsingskudding en dokter sê geen sport vir 6 weke nie, die outjie voel na 3 weke reg en dan laat die afdigters hulle speel. Dis meer ‘n sameloop van omstandighede hierdie.
Net my opinie

Pieter9 ·

Nou wat se jy nou eintlik; kom ons, vir hierdie argument, aanvaar wat jy se het meriete… Gee dit Hayman nog nie die reg om Wereld rugby te dagvaar… Hy was nie gedwing om te speel nie. Die rede is geld. As ek ‘n diepseehengelaar is en verdrink in die diepsee moet my vrou nie die hawemeester dagvaar nie.

Dewald ·

My argument is deels dat dit heel moontlik is dat Hayman se CTE en daaropvolgende dimensie toegeskyf kan word aan rugby. Om dit beslis te bewys, gaan moeiliker wees.

Kan hy wêreld rugby verantwoordelik hou? Dis ‘n ander vraag. Ek dink dit sal moeilik wees om te argumenteer. As jy daarna kyk vanaf die perspektief van ‘n professionele rugbyspeler in ‘n werkgewer/werknemer verhouding, is dit wêreld rugby se plig om alles moontlik te doen om sy spelers veilig te hou? Sal so argument slaag? Ek twyfel.

tweeling ·

Wêreld rugby is nie die speler se werkgewer nie. Dit is of sy klub of land se rugby raad in geval van nasionale speler. Die speler dra ‘n groot verantwoordelikheid om te besluit of hy wil begin/voortgaan en of hy eerder dit wil los. As ek in my kar klim en ongeluk maak op die pad as gevolg van my onvermoe om ordentlik te ry kan ek nie staat dagvaar nie. Dit is oneties.

tweeling ·

Ek verwys na jou 3de laaste paragraaf. Uit die artikel oor Carl Hayman is daar genoem dat alle gevalle wat in Wallis ondersoek is gewys het daar is verminderde bloedvloei na die brein (gaan lees die vorige artikel oor Carl Hayman), so hoe kan jy sê die diagnose kan nie positief wees nie. Nog ‘n ding ek het ‘n probleem dat daar skielik nou skielik van hofsake gepraat word. Jy kies om die spel te speel met sy risiko’s. So jy kan nie wereld rugby verantwoordelik hou vir jou keuses nie. Dan nog ‘n ding daar is nie iets soos “geestes gesondheid” nie, dit is “mental health” (daar is nie ‘n goeie woord in Afrikaans vir dit nie) jou psige is nie jou gees nie, hulle vul mekaar aan maar is verskillend.

Martie Smartie ·

Hierdie brief is eintlik sonder ‘n punt. Geen argument nie. Net ‘n gebrabbel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.