Lesersbrief: Laat ons warm wees vir Christus, Suid-Afrika!

Du Toit Peters van Kathu skryf: 

Du Toit Peters.

“Bykomend tot dié vergunnings het Ramaphosa ook ’n nasionale biddag vir Sondag 31 Mei aangekondig. Op dié dag word Suid-Afrikaners van alle gelowe versoek om, maak nie saak waar hulle hul bevind nie, ʼn oomblik te neem en te bid vir dié wat geraak is deur die Covid-19-pandemie, dié wat geliefdes weens die virus verloor het en ook dié wat onverpoos veg om die verspreiding daarvan te bekamp.” Só skryf Elaine Krige op 26 Mei in ʼn artikel op Maroela Media, na aanleiding van Ramaphosa se toespraak oor geloofsake.

Alle gelowe… Wie moet ons nou eintlik help? Moet die gode lootjies trek om te sien wie se beurt dit is om dié keer in te gryp? Het hulle dalk ’n lys waarop hulle in sekere tye ingedeel is? So vra die boodskapper, wat die bedrukte aardbewoners se gebede bring, in die gode se ontspanningsaal totdat hy een vind wat, ná sy middagslapie, nie te apaties lyk nie en halfhartig instem om maar die mensdom by te staan?

Of moet hulle dalk kragte saamsnoer – ’n uiters gedrewe en gemotiveerde span gode vorm wat saam hande vat en soos ’n wafferse “dream team” die bedreiging stormloop?  Ons moet tog genoop wees om tydens gebed laasgenoemde aan te beveel aan ons god want, net ingeval my god nie heeltemal die mas kan opkom nie, is ek darem gerus dat andersgelowige Suid-Afrikaners tot hul gode ook bid.  Iewers tussen die lot behoort ons reg te kom.

Alle gelowe… Wat op dees aarde? Daar is landwyd Christene wat hierdie beweging met ope arms verwelkom.

“Ons het God se hulp só nodig: dit is goed dat ons almal saam bid, ongeag aan wie jy bid”. Maar Jesus noem pertinent dat iemand wat Hom nie volg nie, die vyand is: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met my versamel nie, verstrooi.” (Mattheüs 12:30).

Dus, as ons almal ewe vroom vir ons onderskeie gode bid, wat beteken dit eintlik? Gestel daar kom genadiglik ’n uitkoms, aan wie kom die eer toe? Die gode het voorsien. Joune, myne, almal s’n. Nee, aan God (die regte Een; die enigste Een) kom álle eer toe. “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (1 Timotheus 1:17).

Is dit billik van ons om te verwag dat God ons moet verlos, terwyl elke Jan Rap en sy maat agterna daarop kan aanspraak maak dat dit sý god was wat die verlossing bewerkstellig het? Is dit billik van ons om te sê ons dien God, maar kyk toe hoe vreemde gode in ons land – God se land – dag in en dag uit geprys word? Moses maak dit baie duidelik wat met vreemde gode gedoen moet word: “Maar julle moet met hulle so doen: hul altare moet julle omgooi en hul klippilare verbrysel en hul heilige boomstamme omkap en hul gesnede beelde met vuur verbrand.” (Deuteronomium 7:5).

President Ramaphosa, jy moet pertinent opstaan vir God. Suid-Afrika, jy moet pertinent opstaan vir God. Ons kan nie so katvoet deur die lewe voortploeter om tog net nie iemand se gevoelens seer te maak nie: “Jy het jou god en ek het my God, kom ons laat mekaar net in vrede.” Die ironie is dat die vrede juis sal wegbly solank ander gode in ons midde aanbid word. “Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.” (Jeremia 8:15).

Jy kan nie die lof wat God toekom deel met ’n ander nie. Jy kan nie God dien op jou manier en dan onbeswaard toelaat dat ’n ander sý god – jou God se vyand – dien op sy manier nie. Jy kan nie in die oggend op jou radioprogram open met die Woord van God en dan saans jul bespiegeling oor Allah se opinie van wêreldsake uitsaai nie. “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Mattheüs 6:24). En dit geld vir alle gode.

Wat hartverskeurend is, is deur so suutjies te swyg om alle gelowe tegemoet te kom en almal se oënskynlike menseregte te streel, laat ons toe dat hulle die ewige verderf ingaan. Jesus het ’n hartstogtelike hunkering om ook saam met húlle die ewigheid in die paradys te geniet. “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timotheus 2:3,4).

Ons moet, soos deur God beveel, ons opdrag om vissers van mense te wees, uitleef. Sodoende sal ons nie net ons mede-Suid-Afrikaners se siele red nie, maar God sal Hom oor ons ontferm en sy seën oor ons uitstort. “As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie. (Jeremia 4:1).

Daar is één God! Laat ons Hom smeek om genade. Laat ons diegene om ons wat Hom nie ken nie, inspireer om Hom aan te roep. President Ramaphosa, moenie skuil agter ʼn generiese god nie – noem Hom op sy naam – Jesus Christus! En bid. Laat ons warm wees vir Christus, Suid-Afrika!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Dit is absuluut waar . Baie dankie dat jy dit so duidelik stel !

Lorette ·

Ek stem saam. Hy wat Sy lewe vir my gegee het, is my God en tot Hom sal ek bid. Sy tyd is nie ons tyd nie, maar Hy sal ons antwoord in Sy tyd. Ek glo dit met alles in my lewe!

Daniel Jordaan ·

Hierdie aangeleentheid herhinner aan die Elia en die Baalprofete gebeurtenis soos opgeteken in die Ou Testament…WIE IS GOD?
Wat se die Skrif?
Want Jesus Christus homself getuig deurlopend van sy God en Vader…die Een Mark 12:28-34 wat alleen goed is…Luk 18:18, en Hand 10:38 leer God het Jesus gesalf of gechristos met die Heilige Gees en met krag…wat hom ‘n gesalfde maak, die eerste van baie broers Rom 8:29, waarvoor die skepping met reikhalsende verlange voor wag Rom 8:19…
Tyd om terug te gaan Skrif toe…meskien moet die bree kerk hul God “herontdek”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.