Lesersbrief: Liewe mens bo 50

Magda Maas skryf:

(Foto: Mike Marrah/Unsplash)

Liewe mens, ek is die laaste ruk intens bewus van seer spiere, klappende knieë en bene wat pyn, knel op die bors, stomp tande, toe ore, oë wat nie fokus nie, persoonlike nagtelike somers as gevolg van hormone en al daardie ander skuurpapier-dinge wat deel vorm van later jare…

Ná 50 is effens meer van ʼn fisiese uitdaging as vroeër. Nie almal het mediesefondse en kan gereeld gaan vir ʼn ‘diens’ of ‘opgradering’ nie.

Geestelik, wel dis ʼn ander saak. Die Here is nie klaar met jou nie, inteendeel as die grys en plooie hul kom tuismaak het jy soveel meer om te bied, meer om te sê, en meer om te gee as in enige ander lewensseisoen.

As jou fokus bly op die Here om die vrug van die Gees, soos in Galasiërs 5:21-22 beskryf, verdoof die knalle en einas.

“Aan die ander kant kan ʼn mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ʼn boom wat ʼn baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort.

Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense.

Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie.”

Jou vrese en onsekerhede is nie vir Hom ʼn verrassing nie, jy is net mens, maar Hy sal elke stukkie van jou gebruik as jy Hom toelaat, die goeie, die slegte die lelike en die pynlike dele.

Hierdie lewensseisoen is nie die einde van iets nie, tensy jy dit toelaat. Dit is beslis nie die tyd om remme aan te slaan en af te tree nie!

Hierdie seisoen gaan oor ontwaking, ʼn herkalibrasie wat jou in staat stel om te herfokus en die dinge te doen waarvoor jy meer toegerus is as ooit! Halleluja, luister vir die Antie!

Die wêreld het jou nou nodig. As jy nou terugtrek en ophou om kanse te waag en voluit te leef, sal jou verhaal nooit vertel word nie. Hartseer nê? Maak die keuse om jou storie te deel. Een van liefde en avontuur saam die Here jou God!

Jy, liewe mens bo 50, moet nou meer gee as ooit tevore. Moenie aftree, ingee, of wegstaan nie. Ek sê nie dat hierdie seisoen maklik is nie. Dit is nie!

Here, wys my waar die wêreld my nou nodig het. Ek omhels die nuutheid van hierdie dag en U magtige planne vir al my dae wat voorlê.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.