Wendy Smith van Potchefstroom skryf:
Percy Sledge het so ʼn sielvolle liedjie gesing: “What am I living for if not for you, you’ll be my little girl my whole life through and nobody else will do”.
Nou, ek weet dié liedjie is veronderstel om ʼn romantiese atmosfeer te skep. Maar ek het net hierdie sin gehoor en na my kind se gesiggie gestaar, nie ʼn woord verder gehoor nie behalwe die waarheid wat oor die radio ʼn glasie klink met my siel.
Ek weet dat almal in die lewe ʼn ma het. Dis net vanselfsprekend dat dit andersins onmoontlik is, maar almal het nie ʼn moeder nie.
Julle weet, daardie vrou wat net knaend in jou lewe se strokiesprent gaan sit en tydens jou tiener jare die “villian” is wat geen respek het vir jou omstandighede nie. Die vrou wat nie verstaan dat sy glad nie in Spar se konfytrak na jou moet verwys as “Kokkenolletjie” nie, want die aantreklike outjies wat verby loop, kan dit dalk hoor. Dis daardie einste vrou wat jou by die skool gaan aflaai met oop ruite, terwyl sy Elvis luister in ʼn era waar Lady Gaga eintlik moet seëvier en jou dan in absolute verleentheid laat terwyl sy vir jou by die ruit uitwaai. Om nie eers te praat nie van die gevalle waar sy so hard hande klap by jou Eisteddfod dat die mense dink haar hande haak vas of iets.
Moeders het ook geen skaamte nie. Hulle bring sommer vir jou ʼn oorgroot-woltrui en trek dit oor jou kop so in die verbyloop, omdat hulle koud kry. Dis soms absurd wat hierdie vroue aan hulle kinders doen. Net gister sien ek weer een van die vroue wat by die werk sit en wonder wat sy gaan maak vir aandete, want haar vis is klaar en kinders kort breinvitamiene. Wie dink oor die goed? Wie sou nou brokkoli as enige voedsel voorstel as daar dinge soos rooiworsies en kaas is?
En ek dink nog steeds oor die aangeleentheid van moeders en wat hulle alles aan die kindergemeentelede doen. Hulle bid vir hulle… Ja, sonder dat enigiemand hulle gevra het en dan meng hulle in met hierdie jongmense se welstand. Glo kamstig dat gebed sake verander.
Niemand het ooit gedink of gewonder om hierdie situasies aan te spreek nie. Mense aanvaar dit net as vanselfsprekend en glo dat dit maar is hoe die lewe is. Moeders bewandel die aarde en los hulle kinders nie vir ʼn oomblik op hulle eie nie. Selfs as hulle al uitgegroei en nie meer honger is nie. Party moeders gaan nog steeds dorp om vir hulle klere te koop en kom dan terug met ʼn vrag klere vir hulle jong werkende kinders sodat hulle skaflik kan lyk by die kantoor. Klink vir my baie ‘inmengerig’.
En as gevolg van al die ‘inmengery’ sit ons nou vandag met grootmense wat waardes het en verstaan dat Elvis eintlik glad nie te sleg sing nie. Grootmense wat weet dat groente keer dat jy verkoue kry en dat “Kokkenolletjie” toe eintlik die mooiste woord was wat jy kan onthou van die vrou wat vir jou die woestyn sal deurloop met sandplakkies.
Ja, dis nou wat ons het. En ek bedink dit alles weer en onthou dat “Mamma” eintlik die heel mooiste woord op aarde is. En iemand noem my dit.